Bossie (middel) sy seun DJ (links) en die liefde van sy lewe, sy verloofde, Ronél Klopper. Op DJ se skoot se een van die familie se honde, Diesel.

Nie geluk, net genade

Date: 21 April 2019 By: Andries van Zyl

Viewed: 821

Skaars twee weke nadat hy so erg deur ‘n gekweste buffel gegaffel is dat hy volgens medici definitief moes gesterf het, is die 39-jarige Bossie Mostert letterlik terug op die been en terug by die huis.

Bossie, van Limpopo Big Game Safaris, is vroeg Vrydagoggend, 5 April, deur ‘n gekweste buffelbul op ‘n plaas in die Waterpoort-omgewing aangeval. Die buffel is deur ‘n kliënt gekwes en in daardie stadium was Bossie al vier dae op sy spoor. Die buffel het Bossie se regterbeen bokant die knie oopgeruk, asook sy sy deurboor en van sy ribbes na buite gebreek. Te midde van al die skade het die buffel alle belangrike organe en slagare gemis.

Wat die aanval betref, beskryf Bossie die gebeure daartydens en daarna as ‘n wonderwerk.

“Ek het daardie oggend gebid en vir die Here gesê: ‘Here, jy kan my nie vat nie … nie vandag nie’,” het Bossie gesê. In daardie stadium het die buffel vir Bossie reeds twee keer gegaffel en het hy op sy knieë voor die buffel gestaan terwyl hy vir lewe en dood aan die gedierte se horings vasgeklou het.

“Ek het vir die Here gesê ek kan nie nou gaan nie, want my kind? Hy is nog klein. DJ is maar tien jaar oud,” het Bossie gesê. Ook deurlopend in sy gebed en gedagtes was die liefde van sy lewe, sy verloofde, Ronél Klopper (41).

“Dit was daar wat ek so aan die horings gehang het wat ek besef het dit is nou of nooit. Ek het geweet ek is in groot moeilikheid. Net daar, nadat ek gebid het, het ek duidelik ‘n stem uit die hemel gehoor wat gesê het: ‘Kry jouself binne in daardie bos’,” het Bossie vertel.

“Ek kan nie alles onthou nie. Ek kan onthou dat ek op die buffel se horings was en hoe hy my probeer gooi het. Ek het gedink dit was een of twee keer, maar Bethuel, my spoorsnyer, wat alles gesien het, het gesê dit was ‘n klomp keer. Hy sê ek het so lank aan die buffel vasgeklou dat sy tong begin uithang het,” het Bossie gesê.

Alhoewel Bethuel ‘n geweer gehad het, kon hy nie skiet nie. Die risiko was net te groot dat hy Bossie sou tref.

“Ek kan onthou dat die buffel my gestoot het. Soos wat ek op die grond gesit het, het ek myself begin agtertoe skuif met my arms in die rigting van die bos. Met dié het die buffel twee treë teruggegee en my opgelyn. Ek gesien hy kom en toe hy kom toe tel ek my voete op. Met dié dat hy sy kop laat sak en ek my voete optel, toe druk hy my binne-in die bos in,” het Bossie gesê.

Onder die bos, het Bossie vertel, het hy net op sy sy gaan lê en net aanhou bid. “Ek het weer gevra: Here asseblief help my ...  Ek het my een oog oopgemaak en gesien hoe die buffel bo-oor my kom staan terwyl hy aan my ruik. Net daar het ek my oë weer toegemaak en gevra: Here, help my asseblief. Toe ek weer my oë oopmaak, toe sien ek hoe stap die buffel weg, die bosse in,” het Bossie gesê. Toe kon Bossie te hulp gesnel word en afgevoer word vir mediese behandeling.

“Ek sê jou ou maat … baie dinge gaan deur jou kop,” het Bossie gesê. Tog het hy nooit gevoel hy gaan sterf nie. “Ek was die hele tyd by my bewussyn. Ek het wel in ‘n stadium vir Herman [Scheepers] op pad in [vanaf die plaas] gesê: ‘Herman, julle moet asseblief na DJ en Ronél kyk’. Toe sê Herman vir my: ‘Nee! Jy sal nie doodgaan nie! Jy gaan oraait wees!’ Toe sê ek vir hom dit is reg,” onthou Bossie.

Bossie het teen Woensdag al die hele wêreld vol geloop op eie stoom. Vir stilsit is daar nie tyd nie. Hy het gesê die hele petalje het hom geensins afgeskrik om te doen waarvoor hy lief is nie. “My volgende kliënt kom die 25ste April vir ‘n 21 dae jag, maar ek het ‘n ander PH wat saam met hom gaan. Maar ek sal saam met hulle wees. Ek sal nou nie elke dag aktief wees nie en my maar bietjie besig hou in die kamp en saam met hulle ry,” het Bossie gesê. Hy glimlag en sê dat hy nou immers ‘n goeie kampvuurstorie het. Sy volgende buffeljag is in Julie. “Dan sal ek weer heeltemal op die been wees,” het Bossie gesê.

Wat sy merkwaardige verhaal en eweneens spoedige herstel betref, het Bossie gesê dit het niks met geluk te doen nie. “Vir seker is dit net die Here se genade dat ek leef. Dit is ‘n absolute wonderwerk dat ek vandag nog hier is. Selfs die dokters het vir my gesê medies gesproke is dit onmoontlik. Nee, baie ouens sê vir my: Jis, jy was gelukkig! Maar hierdie is nie geluk nie, dit is genade. Dit is ‘n gebed wat verhoor is,” het Bossie gesê.

 

 
 

 
 
 
 

0 Comments

To leave a comment you need to login / register first
 
 

Andries van Zyl

Andries joined the Zoutpansberger and Limpopo Mirror in April 1993 as a darkroom assistant. Within a couple of months he moved over to the production side of the newspaper and eventually doubled as a reporter. In 1995 he left the newspaper group and travelled overseas for a couple of months. In 1996, Andries rejoined the Zoutpansberger as a reporter. In August 2002, he was appointed as News Editor of the Zoutpansberger, a position he holds until today.

Email: andries@zoutnet.co.za

 
 

More photos... 

Skaars twee weke nadat hy deur ‘n gekweste buffel gegaffel is en medici  oortuig was dat hy moes gesterf het, is Bossie Mostert (39) weer terug by die huis. “Dit is net genade,” het Bossie gesê.