ADVERTISEMENT:

 

 
 

Nie regtig hoe en waar jy jou Nissan X-Trail moet parkeer nie. Hierdie foto het sedert die naweek opspraak verwek op sosiale media, nadat ‘n groep jongelinge teen spoed vroeg Sondagoggend binne-in die Marula Mall se symuur ingejaag het. Foto verskaf.

Seun parkeer pa se X-Trail in muur

Date: 06 April 2019 By: Andries van Zyl

“Ag, ek wou so graag iets gedoen het soos nog ‘n venster inslaan…” So het mnr. Johan Gilfillan, eienaar van die Marula Mall op Alldays, spottenderwys verwys na ‘n voorval die afgelope naweek waar iemand met ‘n veeldoelige nutsvoertuig deur ‘n muur by sy inkopiesentrum “gevlieg” het.

Foto’s van die Nissan X-Trail wat by die sykant van die sentrum uithang het sedert die naweek soos ‘n veldbrand op sosiale media versprei. Dit is egter duidelik dat vlieg nie een van die vele doele van die X-Trail is nie ... en nee, dit was toe nie iemand wat van At se Gat teruggekeer het soos wat baie op sosiale media bespiegel het nie.

Volgens Johan het die ongeluk omstreeks 01:00 Sondagoggend plaasgevind. “Dit is ‘n outjie van die omgewing. Hy het sy pa se kar sonder toestemming gevat. Die pa is nogal ‘n ordentlike man en het my klaar om verskoning gevra vir sy stout seun. Ek het maar gesê ek verstaan, want ons het almal maar stout kinders,” het Johan gesê.

Hoe die outjie dit reggekry het om die Nissan so hoog teen die muur op te parkeer, bly ‘n raaisel. “Maar dit moes teen spoed gebeur het,” het Johan gesê.

Volgens Johan het die outjie en twee maats, beide tieners, vanaf Vivo se kant aangery gekom. By die Swartwater/Pontdrift T-aansluiting op Alldays is hulle egter bo-oor die kruising sonder om te stop. “Dit is vir my vreemd, want die mannetjie ken tog die omgewing,” het Johan gesê.

Op die oorkantste sypaadjie het hope grond gelê. “Hulle het die sypaadjie getref en teen die hope grond opgejaag. Hulle het airborne geraak en bo-oor ‘n twee-meter-hoë muur gevlieg, binne in die gebou in,” het Johan gesê.

Volgens Johan was daardie spesifieke gedeelte van die gebou gelukkig leeg tydens die ongeluk en lyk dit of die skade beperk is tot net die gat in die muur. “As ek moes skat, sou ek sê dit is so R10 000 se skade – ‘n paar duisend stene en die arbeid om die gat toe te bou. Ek sou dink daar is heelwat meer skade aan die kar, maar dit het gelukkig niks met my te doen nie,” het Johan gesê. Hy het bygevoeg dat die seun se pa ‘n bekende taxi-eienaar is en dat hy reeds aangebied het om pa te staan vir die skade.

Teen Woensdag het die Nissan steeds uit die kant van die gebou gehang. Volgens Johan moes die pa nog reël vir ‘n hyskraan om die voertuig uit die gat te hys. Johan self was ook nog nie eers by die sentrum gewees nie. “Ek gaan môre [Donderdag] saam met die argitek na die sentrum toe vir ‘n skadeberaming. Hy sal dan ook kan bepaal of daar enige verdere strukturele skade aangerig is,” het Johan gesê.

Johan het gesê hy is nie seker wat ná die ongeluk verder gebeur het nie. Volgens hom was die polisie definitief op die toneel. “Maar ek het niks verder gehoor nie,” het Johan gesê. Dit blyk ook dat daar nie ernstige beserings was onder die jongklomp nie en dat die bestuurder wel oor ‘n rybewys beskik het. “Ag, dit is maar meer sports as iets anders. Almal stuur boodskappies om my te spot. Die beste is seker die een wat onderaan die foto sê: My f@k Marelize! Gelukkig is niemand dood nie,” het Johan gesê.

 

 
 
 

Viewed: 2097

 

 
 

Andries van Zyl

Andries joined the Zoutpansberger and Limpopo Mirror in April 1993 as a darkroom assistant. Within a couple of months he moved over to the production side of the newspaper and eventually doubled as a reporter. In 1995 he left the newspaper group and travelled overseas for a couple of months. In 1996, Andries rejoined the Zoutpansberger as a reporter. In August 2002, he was appointed as News Editor of the Zoutpansberger, a position he holds until today.

 
 

More photos... 

ADVERTISEMENT

 
 

ADVERTISEMENT:

 
 

ADVERTISEMENT