ADVERTISEMENT:

 

 
 

Die erg verminkte kremetart op die hoek van Noordwes- en Jeppestraat in Louis Trichardt. Die plaaslike Departement van Omgewingsake het verlede Donderdag enige verdere skade aan die boom gestop. ‘n Ondersoek is geloods om te bepaal of die eienaar van die erf waarop die boom staan ‘n wettige permit gehad het om die boom te verwyder. Desnieteenstaande is daar voortgegaan om die boom te vernietig weens 'n klaarblyklike kommunikasiegaping tussen Bosbou en Omgewingsake.

Verloorstryd om kremetart te red

Date: 23 March 2019 By: Andries van Zyl

Natuurliefhebbers moes Woensdag magteloos toekyk hoe een van Louis Trichardt se unieke landmerke, die groot kremetartboom op die hoek van Noordwes en Jeppestraat, met byl en kettingsaag gevel word.

Die Zoutpansberger is verlede Donderdag oorval met klagte rondom ‘n persoon wat ten aanskoue van die publiek besig was om dié bosreus af te kap. Ontstoke inwoners wou weet wie die persoon was wat die boom afkap en of hy die nodige permit gehad het om dit wel te doen? Foto’s van die verminkte kremetart is ook op Facebook versprei. “Kan iemand dit nie stop nie?!” wou inwoners weet.

Iemand het toe die spreekwoordelike slagting gestop. Dié iemand was die plaaslike kantoor van die Departement van Omgewingsake. Kort nadat die Zoutpansberger verlede week van die voorval ingelig is, is Omgewingsake daarvan in kennis gestel.

Die Departement van Omgewingsake het dadelik gereageer en die toneel besoek. Aanvanklik was die persoon wat besig was om die boom af te kap baie arrogant en geensins van voorneme om met sy aktiwiteite te stop nie. Dit was blykbaar eers nadat hy herhaaldelik met wetgewing en ‘n boete gedreig is, dat hy van sy planne afgesien het en die boom met rus gelaat het.

Die Departement van Omgewingsake het Dinsdag gesê dat hulle die proses gestaak het en dat hulle ECE-kantoor (Environmental Compliance Enforcement) in Thohoyandou ‘n ondersoek geloods het om te bepaal of die eienaar van die erf wel oor ‘n wettige permit beskik het om die boom te verwyder. ‘n Permit kan wel bekom word indien ‘n boom, selfs ‘n beskermde boom soos ‘n kremetart, in die pad staan van bou- of konstruksiewerk. Die departement het egter daarop gewys dat die vernietiging van ‘n kremetart altyd die laaste opsie moet wees. Hulle het verduidelik dat daar aansoek gedoen kon word om die boom na ‘n nuwe tuiste te verskuif of die boom kon selfs aan ‘n natuurliefhebber verkoop word. Die lank en die kort daarvan is egter steeds dat ‘n permit benodig word voordat daar aan ‘n kremetart geraak kan word, selfs al is dit net om een tak af te sny.

Natuurliefhebbers was aanvanklik verheug om te hoor dat Omgewingsake die proses kon stop. Hierdie vreugde het Woensdagoggend in woede omgesit met die nuus dat daar voortgegaan word om die boom uit te kap.

Weer het die Zoutpansberger met Omgewingsake geskakel, dié keer by die kantoor in Thohoyandou. Dit was toe dat die koerant meegedeel is dat alhoewel Omgewingsake die proses probeer stop het, ‘n permit vir die verwydering van die kremetart blykbaar deur die plaaslike Departement van Bosbou uitgereik is. ‘n Kommunikasiegaping tussen die twee departemente blyk dus die rede te wees waarom die kremetart uiteindelik die prys moes betaal. Daar heers ook onduidelikheid of die Departement van Bosbou ‘n mandaat het om sulke permitte uit te reik.

Ná aanleiding van die onsmaaklike voorval het Omgewingsake weereens inwoners versoek om eerder die regte prosedures te volg wanneer hulle van ‘n beskermde boom, soos die kremetart, op hul erf of perseel wil ontslae raak.

 

 
 
 

Viewed: 1063

 

 
 

Andries van Zyl

Andries joined the Zoutpansberger and Limpopo Mirror in April 1993 as a darkroom assistant. Within a couple of months he moved over to the production side of the newspaper and eventually doubled as a reporter. In 1995 he left the newspaper group and travelled overseas for a couple of months. In 1996, Andries rejoined the Zoutpansberger as a reporter. In August 2002, he was appointed as News Editor of the Zoutpansberger, a position he holds until today.

 
 

More photos... 

'n Verlore stryd ... Woensdagoggend was die man terug om die kremetart finaal te vel. Foto verskaf.

ADVERTISEMENT

 
 

ADVERTISEMENT:

 
 

ADVERTISEMENT