Oom Ted Uys (93) met sy boek Rooiysterkliprant tot Jakkalstjank.

Op 93 skryf oom Ted sy eerste boek

Date: 17 March 2019 By: Anton van Zyl

Viewed: 1086

“Want ek onthou...”

Dit is die titel van die eerste hoofstuk van oom Ted Uys se boek.

“Is dit ‘n outobiografie, oom Ted?” wil ek weet. Hy huiwer. “Dit is stories en gedigte oor my ervarings,” sê hy.

Die titel van die boek, Rooiysterkliprant tot Jakkalstjank, beskryf ‘n leeftyd van bykans ‘n eeu. ‘n Leeftyd wat begin het neffens die kliprante op die plaas Rietpoort in die Standerton-omgewing en nou rus op die plaas Uitsig net buite Louis Trichardt, waar die tjank van jakkalse nog in die aande gehoor kan word.

Oom Ted is geen gewone mens nie. Enige persoon wat in sy 94ste lewensjaar vir die eerste keer ‘n boek publiseer, is nie ‘n gewone mens nie. Die brein is nog vlymskerp en behalwe die effense gehoorverlies is daar min wat hom onderskei van mense 20 of 30 jaar sy junior.

“Hoe word mens so oud?” wil ek weet. Die antwoord is vinnig: “Baie slaap en baie werk.” Hy is gou om te verduidelik dat die twee hand aan hand gaan. As jy die ure insit en die werk doen, dan slaap jy lekker.

Van harde werk kan oom Ted deeglik getuig. Hy onthou hoe hy vir meer as 15 jaar elke oggend om halfdrie opgestaan het sodat die beeste gemelk kon word. So sesuur was dit klaar en dan het begin hy gereedmaak om dorp toe te gaan, waar hy skoolgegee het. In die middae, wanneer hy terug op die plaas was, het die werk voortgegaan.

Die storie van oom Ted Uys is besonders, sommer baie besonders. Dit is ‘n verhaal wat kort voor die Groot Depressie begin op ‘n beesplaas in die Standerton-omgewing. Dit vertel die storie van groot families, kindersterftes, bywoners en amper naïewe durf en waagmoed.

Toe die nuwe Uys-baba op 5 Oktober 1925 sy aankoms luidkeels aankondig, was kindergeluide nie iets vreemds in die groot plaashuis nie. Hy was nommer 15 van die 16 kinders. In sy boek beskryf oom Ted elk van sy broers en susters in verstommende detail. Dit begin by Ousus Kiet, wat in 1906 gebore is en eindig by Stella, “pa en ma se oogappeltjie”, wat in 1927 by die familie aangesluit het.

Die storie is telkens amper-terloops hartseer, veral as daar oor die sterftes gepraat word. Die verhale word in die derde persoon aangebied, met die hoofkarakter, Tierie, wat elke oggend die kallers van die koeie moet wegkeer. Dan word een van sy broers, een van die tweeling, op die hakskeen deur ‘n perd geskop. Die wond sweer en Uysie moet Johannesburg toe geneem word toe dit nie beter word nie. “Totsiens, Kêptjies,” het hy hom gegroet. ‘n Maand later was daar ‘n vars graffie op die plaas. “Toe het ek geweet wat dood beteken,” skryf oom Ted.

Die verhale reflekteer ook die liefde en respek vir ‘n moeder wat noodgedwonge op haar eie die kinders een na die ander in ‘n grootmenswêreld instuur. Oom Ted se pa is oorlede toe hy 10 jaar oud was. Dit was ‘n wêreld waar die seuns en dogters deel van die huishouding was en elkeen hul kant moes bring.

Die humor en waagmoed slaan ook deur. In Mei 1943 laat plaas hy ‘n advertensie in die Landbouweekblad: “Boerseun soek werk op plaas, verkieslik beesplaas. Skryf aan nommer 15, Rietpoort, Standerton.”

Hy land kort daarna op ‘n plaas in Delmas waar hy as “bywoner” begin werk. Sy bed is ‘n sinkplaat op drie dromme met ‘n klapperhaarmatras as beskutting. As bywoner mag hy nie eers met die 16-jarige plaasdogter gesels nie.

Dan volg die studiejare, wat weereens nie ‘n gegewe was nie. Hy moet by sy oom geld leen om onderwys op Potchefstroom te gaan studeer. Destyds het die drie jaar se studies hom 400 pond gekos, en hy moes dit teen 4% rente terugbetaal. “My eerste salaris as onderwyser in 1948 was 30 pond en 19 sjielings,” onthou oom Ted. Hy het die skuld in twee jaar terugbetaal, maar kon toe nie eers ‘n fiets bekostig om skool toe te ry nie.

Sy loopbaan as onderwyser het hom bekendgestel aan ander dele van die land. In Durban, by Port Natal Hoërskool, het hy spoedig besef dat die stadslewe hom nie geval nie. “Ek het in agt dae agt pond verloor,” vertel hy en die ponde waarna hy verwys was nie geldeenhede nie. Hierna is hy na Eshowe, waar hy Engels leer praat het.

In die vroeë 1950s het hy vir ‘n paar jaar in die destydse Suid-Rhodesië gaan boer. Hy het op tabakplase in plekke soos Banket (naby Harare) en Kadoma geboer. In 1953 is hy egter terug in sy geboorteland, maar dié keer as onderwyser by die skooltjie in Vivo, net suid van die Soutpansberg.

Sy eerste kennismaking met die Soutpansberg was egter reeds etlike jare tevore. Dit was juis die liefde wat hom verder noord laat reis het en in 1950 trou hy met Barbara (née Uys) van Waterpoort.

Sy swerftogte as onderwyser neem hom van Vivo na Warmbad en dan terug na Standerton. In Desember 1960 koop hy die plaas Uitsig, deel van Mampakuil net buite Louis Trichardt. ‘n Jaar later verhuis die familie hierheen en in 1962 word hy die wiskunde-onderwyser by Hoërskool Louis Trichardt. Terwyl dosyne en dosyne van die streek se jongmense deur hom opgevoed word, boer hy deeltyds. “As mens jonk is kan jy baie werk doen,” merk hy op.

Vir die laaste vyf jaar van sy beroep as onderwyser gee hy klas in Venda. Dit is ook hier waar oom Ted se skerp waarnemingsvermoë, gemeng met ‘n tikkie humor, reflekteer in sy gedigte:

“Ek sit in my motor op Tshakhuma
By ‘n swart skooltjie vir junior primêr
- dis pouse –
Wil so graag ‘n broodjie eet
Maar witogig staar
Tientalle van buite
Om my, die snaakse witte,
deur die liggetinte ruite
Te bekyk ..."

Die gedig eindig met die hom wat besef dat hy, met sy bleekwit vel, dun lippe en geboë neus ‘n rariteit is. “Ek ... gladde ... langharige gedrog”.

Van die gedigte is beskrywend van aard en fokus op die bosveld en sy mense. Tussendeur is daar egter dieper vrae oor die mens se bestaan en religie. In die gedig “Sal Ek?” skryf oom Ted oor die skadu’s van sy lewe wat rek. “Wanneer ook my eie tyd – My lag, my loop sal taan?

Van stilstaan is daar egter nie baie sprake op die Uys-plaas nie. ‘n Paar jaar gelede het oom Ted ‘n beesstoet begin. Sy beeste is ‘n kruising tussen Beefmasters en Hugenote. Op die vraag waarom dié spesifieke kruising, antwoord oom Ted met ‘n eenvoudige “ek hou van die geelwit kleur”.

“En waarom nou eers ‘n boek?” wil ek by oom Ted weet. Dit was deel van ‘n uitdaging etlike jare gelede, vertel hy. Die groepie onderwysers en dosente wat in Venda gewerk het, het daagliks saam in ‘n bussie werk toe en terug gery. “Een van die kollegas, Nicolene Gericke, het my aangemoedig om my gedagtes en herinneringe neer te skryf,” sê hy. Sy het hom ook uitgedaag om ‘n gedig te skryf oor Rietpoort se rooi ysterpoortrante.

Oom Ted het op 1 Maart die eerste besending van die boeke by Leach Printers gaan haal en so is ‘n droom van etlike jare verwesentlik. Die boek is egter veel meer as net ‘n herinneringsreis vir oom Ted. Dit is ook ‘n reis deur die geskiedenis van ‘n spesifieke groep mense wat ‘n onuitwisbare merk gelaat het op die ontwikkeling van ‘n land. Buitengewone mense, soos oom Ted.

 

 
 

 
 
 
 

0 Comments

To leave a comment you need to login / register first
 
 

Anton van Zyl

Anton van Zyl has been with the Zoutpansberger and Limpopo Mirror since 1990. He graduated at the the Rand Afrikaans University (now University of Johannesburg) and obtained a BA Communications degree. He is a founder member of the Association of Independent Publishers.

Email: anton@zoutnet.co.za

 
 

More photos...