ADVERTISEMENT:

 

 
 

Lede van die plaaslike brandweer kon daarin slaag om die vlamme onder beheer te kry, maar nie alvorens die winkel in puin gelê is nie. Gelukkig kon die brandweer verhoed dat die brand na nabygeleë winkel versprei.

Crazy Store brand was nie opsetlik nie

Date: 14 March 2019 By: Andries van Zyl

Sekerlik een van Louis Trichardt se gewildste winkels, die Crazy Store in Makhado Crossing, is in puin gelê deur ‘n brand verlede Vrydagoggend.

“Nou gaan ons weer 10 jaar wag vir ‘n Crazy Store. Al nice winkel vir kinders ai,” was Wendy-Lee Fraser se kommentaar op die Zoutpansberger se Facebook-kennisgewing oor die brand. Nog ‘n inwoner, Joey Pavier, het die brand as baie “slegte nuus” beskryf.

Nuus van die brand (en verskoon die cliché) het soos ‘n veldbrand versprei. “Het jy gehoor?” en “Is dit waar?” was van die mees algemene reaksies.

Met die koerant se aankoms by die sentrum het digte rookwolke by die winkel uitgeborrel. Die plaaslike brandweer was op die toneel en het vanaf ‘n agterdeur die vlamme in die winkel beveg. Kontrakteurs wat tans besig is met die uitbreiding van die sentrum het ook ingespring om te help. Hulle het onder meer ‘n waterbakkie en watertenkwa beskikbaar gestel.

Gelukkig kon die vlamme onder beheer gebring word voordat die vuur na nabygeleë winkels kon versprei. Rookwalms het oral in die sentrum vanuit die plafon geborrel. Sover die koerant kon vasstel, is niemand tydens die brand beseer nie. Daar was ook dié wat te midde van die vlamme en rook rustig hulle maaltye klaar geëet het, onder meer by Mike’s Kitchen. In hierdie stadium is meeste van die winkels in die sentrum leeg weens die opgradering en uitbreiding van die sentrum na ‘n groter kompleks.

Mnr. Edward Woudberg, direkteur van mediaskakeling by Illungile Consulting Services, het namens die sentrumeienaars Woensdag gesê dat hulle in hierdie stadium geen gemene spel vermoed ten opsigte van die brand nie. Hy het gesê dat die brand nie met opset begin is nie en heel moontlik die oorsaak is van 'n elektriese fout.

Die goeie nuus, het Woudberg gesê, is dat Crazy Store weer sy deure vir die publiek sal oopmaak. Die slegte nuus is egter dat dit nie gou gaan wees nie, maar eers by voltooiing van die nuwe sentrum wanneer dit oor ‘n paar maande weer sal heropen. Woudberg het gesê dat hulle inwoners in kennis sal stel van wanneer die “nuwe” winkel amptelik weer sal open.

 

 
 
 

Viewed: 641

 

 
 

Andries van Zyl

Andries joined the Zoutpansberger and Limpopo Mirror in April 1993 as a darkroom assistant. Within a couple of months he moved over to the production side of the newspaper and eventually doubled as a reporter. In 1995 he left the newspaper group and travelled overseas for a couple of months. In 1996, Andries rejoined the Zoutpansberger as a reporter. In August 2002, he was appointed as News Editor of the Zoutpansberger, a position he holds until today.

 
 

More photos... 

Digte rookwolke borrel uit die Crazy Store in Makhado Crossing. ‘n Brand het verlede Vrydagoggend dié gewilde winkel in puin gelê. Die goeie nuus is dat die winkel weer sal heropen, maar eers by voltooiing van die nuwe sentrum. Grootskaalse konstruksiewerk ten opsigte van die uitbreiding van die sentrum is tans op die terrein aan die gang.

ADVERTISEMENT

 
 

ADVERTISEMENT:

 
 

ADVERTISEMENT