ADVERTISEMENT:

 

 
 

Grootskaalse verwoesting is deur veral sterk rukwinde by die ou Border Motors (Elegant Fuel) aangerig. Foto verskaf.

Die krag van die natuur (en die media) verstom

Date: 07 March 2019 By: Andries van Zyl

Die hewige storm wat die Soutpansberg-streek verlede Woensdag getref het, het net weereens gewys wat mense as nuus beskou.

Die storm het kort ná die koerant drukkery toe gestuur is, losgebars. Gelukkig het moderne tegnologie soos die gebruik van slimfone en sosiale media platforms soos WhatsApp gehelp dat die nuus vinnig by die Zoutpansberger uitgekom het.

Veral die Levubu-omgewing het erg deurgeloop, met skrikwekkende foto’s van erge stormskade wat begin instroom het. Grootskaalse verwoesting is deur veral sterk rukwinde by die ou Border Motors (Elegant Fuel) op die R524 tussen Louis Trichardt en Thohoyandou aangerig. Onder meer is die Galito’s restaurant by die vulstasie se dak heeltemal afgeruk.  

Verskeie groot bome is ook ontwortel en het plek-plek die R524 versper. Die boerderygemeenskap in die omgewing het egter blitsig ingespring en met trekkers en ander swaar masjinerie die pad in ‘n rekordtyd skoon gekry en weer oopgemaak vir verkeer.

Gemiddelde reën van tussen 20 mm en 30 mm in sowat ‘n uur is gerapporteer. Plek-plek het haelkorrels so groot soos gholfballe geval, soos by Wynand Louw se plaas sowat 20 km vanaf Louis Trichardt. In Louis Trichardt self is verskeie bome ontwortel en kragdrade afgeruk. Ook hier het hael geval van omtrent albaster-grootte.

Danksy die terugvoer van die publiek kon die Zoutpansberger vinnig ‘n berig aanmekaar slaan oor die omvang van die skade. Die berig en meegaande foto’s van die stormskade is kort ná die storm op die koerant se Facebook-blad gedeel. Die reaksie was oorweldigend!

Teen verlede Donderdag, 28 Februarie, om 09:00 het die berig reeds meer as 56 000 mense bereik. Meer as 17 000 van dié sosiale media gebruikers het aktief gereageer deur die berig byvoorbeeld te deel of kommentaar te lewer. Teen Woensdag hierdie week het die berig 75 280 mense bereik, met 22 370 mense wat aktief daarop reageer het. In totaal het 71 mense daarop kommentaar gelewer, terwyl 533 mense die berig met ander Facebook-gebruikers gedeel het.

In ‘n goeie nuusweek sal talle koerante sukkel om sulke reaksie op ‘n storie te ontlok. Die berig was egter weereens bewys van die krag van die media, in welke vorm ook al.

 

 
 
 

Viewed: 740

 

 
 

Andries van Zyl

Andries joined the Zoutpansberger and Limpopo Mirror in April 1993 as a darkroom assistant. Within a couple of months he moved over to the production side of the newspaper and eventually doubled as a reporter. In 1995 he left the newspaper group and travelled overseas for a couple of months. In 1996, Andries rejoined the Zoutpansberger as a reporter. In August 2002, he was appointed as News Editor of the Zoutpansberger, a position he holds until today.

 
 

More photos... 

Die dak by die Galito's restaurant by die ou Border Motors is heeltemal afgeruk tydens die storm. Foto verskaf.

Die boerderygemeenskap in die omgewing het egter blitsig ingespring en met trekkers en ander swaar masjinerie die R524-pad in ‘n rekordtyd skoon gekry en weer oopgemaak vir verkeer. Foto verskaf.

ADVERTISEMENT

 
 

ADVERTISEMENT:

 
 

ADVERTISEMENT