ADVERTISEMENT:

 

 
 

Die berig wat in 1964 in die destydse Noord-Transvaler verskyn het.

Die vlieghelde van die Soutpansberg (Deel 2)

Date: 04 March 2019 By: Anton van Zyl

Stories vanuit die verlede is soms soos ‘n skaars versamelstuk wat jy ontdek. Dit is waardevol, nie in terme van geld nie, maar in herinneringe wat bewaar moet word vir ‘n volgende geslag. Soms moet die verhaal egter “gerestoureer” word. Die gapings moet ingevul word en die konteks moet nagevors word. Soos ‘n ou meubelstuk moet dit herstel word voor dit weer politoer kry en uitgestal word.

En soms vind jy dat die versamelstuk nie so oorspronklik is as wat jy gehoop het nie. Iemand het in die verlede veranderings aangebring. Stories kan dit ook doen...

In die tweede aflewering van die reeks oor die geskiedenis van lugvaart in die Soutpansberg gaan delf ons in ou plakboeke en ons stof die storie van mnr. Durban Geerdts af. Hy was ‘n vlieënier in die Royal Flying Corps (RFC) gedurende die Eerste Wêreldoorlog. Hy het hom later jare in die Soutpansberg gevestig.

Die storie oor lt. Geerdts se ondervindinge tydens die oorlog het in Maart 1964 in die destydse Noord-Transvaler verskyn en is geskryf deur mnr. Hansie Uys. Oom Hansie, soos hy alombekend is, is al byna 90 en hy en sy vrou, Tannie Corrie, woon steeds op Louis Trichardt. Die knipsel kom uit een van die talle plakboeke wat oom Hansie deur die jare saamgestel het.

Bewustelose loods maak landing en lewe

Die storie van lt. Durban William Geerdts klink soos ‘n draaiboek vir ‘n lokettreffer. Kort ná sy 24ste verjaardag, op 11 April 1917, arriveer hy in Brittanje. Hy was een van die jong mans wat in Suid-Afrika gewerf is om ‘n vlieënier te word en so deel te hê aan die oorlog wat in Europa gewoed het. Hy het die familieplaas in Linden, Johannesburg, verruil vir avontuur en uiterste gevaar in die lugruim bokant Europa.

Tydens ‘n vlug oor Saint-Omer in Frankryk word sy vliegtuig getref deur vyandige geweervuur. Hy was deel van ‘n formasievlug in ‘n S.E.5a-vliegtuig en het op ‘n hoogte van ongeveer 2 000 voet gevlieg.

Die vliegtuig was toegerus met twee masjiengewere, een voor die vlieënier wat op gesinkroniseerde wyse deur die skroef geskiet het en een bokant die loods waarmee hy van onder af na ander vliegtuie kon skiet. Dit was juis dié Lewis masjiengeweer aan die bokant wat die probleme veroorsaak het. Die Duitse vlieënier se koeëls het die geweer getref en die stutte morsaf geskiet. Die swaar geweer het bo-op die vlieënier geval en hom bewusteloos gelaat.

Geerdts se vliegtuig het geleidelik hoogte en spoed begin verloor. Die eskaderleier het besef wat aan die gebeur is en langs sy makker begin vlieg. Toe die vliegtuig uiteindelik in die veld neerstort, het hy ‘n noodlanding gemaak en Geerdts te hulp gesnel. Die vliegtuig het toe reeds aan die brand geslaan en hy het net genoeg tyd gehad om die bewustelose vlieënier aan die been beet te kry en uit te sleep.

Geerdts het eers baie later in die hospitaal sy bewussyn herwin. Sy linkerhand was erg verbrand en ‘n staalplaat moes in sy heup ingesit word.

Ná die oorlog het hy die gebied waar hy afgeskiet is besoek en dele van die vliegtuig opgespoor. Hy het die vliegtuigskroef, wat tot ‘n groot mate behoue gebly het, saam met hom na Suid-Afrika teruggebring.

Lt. Geerdts het ook diens gedoen tydens die Tweede Wêreldoorlog, maar slegs as ‘n opleidingsoffisier te Pretoria.

‘n Oorlogsheld op Waterpoort

In die dertigerjare het die oud-vlieënier hom by Waterpoort in die Soutpansberg-distrik gevestig. Hier is hy getroud met Marie Joubert. Dit was ook hier waar ‘n baie jonger oom Hansie hom leer ken het.

In die sestigerjare, nadat die Geerdts-familie na ‘n huis in Louis Trichardt getrek het, het oom Hansie ‘n onderhoud met hom gevoer en hom uitgevra oor sy ervarings.

“Oor sy oorlogservaringe en ondervindings praat mnr. Geerdts nooit. Gewoonlik ontwyk hy ‘n mens se vrae met ‘n goedgekose grappie, waarvan hy ‘n onuitputlike bron het,” rapporteer oom Hansie.

“Hy sê hy verdien die Victoria-kruis. As jy hom vra waaroor hy die toekenning moet ontvang is sy antwoord: ‘Vir al die Duitsers wie se lewens ek gespaar het.’ Vra jy hom watter Duitsers, is hy weer reg met ‘n antwoord: ‘Die Duitsers wat ek onder masjiengeweervuur moes steek. Omdat ek doodbang was vir ‘n Duitser, het ek gewoonlik op vlug geslaan voor ek hulle teëgekom het’.”

In 1964 was hy egter reeds baie sieklik en moes lang tye in die hospitaal op Pietersburg deurbring. Wanneer hy oorlede is, is nie seker nie.

Terug op gister se spore

Die verhaal van Durban Geerdts is fassinerend, maar oom Hansie se berig het nie al die vrae beantwoord nie. Aan watter eenheid was hy verbonde en in watter veldslag sou sy vliegtuig neergestort het?

Ten einde dié vrae te kon beantwoord, is die hulp van kundiges ingeroep.

Dewald Nel, ‘n spesialis op die gebied van lugvaartgeskiedenis, kon dadelik die Britse dienskaarte van D.W. Geerdts opspoor. Dié dienskaarte bevat besonderhede van sy tydperk in die RFC en latere Royal Air Force (RAF). ‘n Bietjie verdere naslaanwerk het die prentjie duideliker gemaak en kleur gegee.

Op 11 April 1917 het kadet D.W. Geerdts in Brittanje aangekom om met sy opleiding te begin. Hy is uitgeplaas na Groep 6 by die Officer Cadet Wing (OCW) te Oxford. Vir die eerste twee maande het die rekrute basiese militêre opleiding ondergaan en vaardighede soos kaartlees en Morsekode geleer. Hierna het nog twee maande van opleiding gevolg waarin hulle geleer is hoe vliegtuie se enjins en instrumente werk, hoe om die wapentuig te hanteer en selfs hoe om lugfoto’s te neem.

Op 30 Augustus 1917 het Geerdts die rang van 2de luitenant verwerf en hy was amptelik ‘n offisier. ‘n Paar dae later is hy verplaas na D-eskader van die Central Flying School (CFS). As ‘n kadet by ‘n opleidingseenheid is van hulle verwag om ‘n minimum van 25 ure te vlieg, waarskynlik in ‘n Avro 504 vliegtuig of ‘n Sopwith Camel. Die studentevlieëniers het hierna hul Graad A-gradering gekry.

In November 1917 was Geerdts gestasioneer by die vliegskool te Upavon in Brittanje. Die tweede been van hul opleiding het ‘n verdere 35 vliegure behels, wat vlugte met meer moderne vliegtuie vereis het. Dit is waarskynlik hier waar Geerdts te doen gekry het met die S.E.5-vliegtuie.

Die feit dat hy in die koerantonderhoud latere jare vermelding gemaak het van die 200 perdekrag enjin, beteken dat hy die tegniese spesifikasies van die vliegtuie goed geken het. Sy dienskaart wys ook dat hy opleiding ontvang het as motortegnikus.

Teen 1918 het dit sowat 11 maande geduur vir ‘n vlieënier om sy “vlerkies” te kry. Op 1 April 1918 het die groot dag vir Durban Geerdts aangebreek en hy is bevorder tot luitenant. Op 20 Junie 1918 is hy aangestel as ‘n vlieginstrukteur by CFS.

Wat van die luggevegte?

Dit is hier waar die storie ‘n interessante wending neem. Lt. Geerdts se rekords maak geen vermelding van enige diens in konflikgebiede nie. Hy is nie uitgeplaas na ‘n operasionele eenheid nie en, volgens die rekords, het hy tot aan die einde van die oorlog ‘n instrukteur gebly. Hy is in Julie 1919 weer teruggestuur na Suid-Afrika toe. Daar is ook geen vermelding van ongelukke of spesifieke toekennings nie.

Kan dit wees dat die oorlogstories deur die jare ‘n stertjie of twee aangekry het? Was lt. Geerdts dalk net ‘n instrukteur wat drome gedroom het om die Rooi Baron en ander Duitse vlieënierhelde uit die lug uit te skiet?

Alan Taylor, verbonde aan die Lugmagmuseum te Swartkops en ‘n kenner van lugvaartgeskiedenis, is skepties of Geerdts ooit in luggevegte betrokke was. Hy reken daar sou aantekeninge hieroor in sy rekord gewees het.

Dat Geerdts ‘n RFC-vlieënier was, is nie te betwyfel nie. Dit op sigself is ‘n uitsonderlike prestasie. Hy het in April 1917 in Brittanje opgedaag om as vlieënier opgelei te word, wat allerweë beskou is as die slegste maand in die Eerste Wêreldoorlog vir die RFC. Die gemiddelde lewensverwagting van die Britse vlieëniers aan die westelike front was 69 vliegure.

Hy het beslis nie ‘n Victoria-kruis ontvang nie. Die enigste Suid-Afrikaanse vlieënier in WO1 wat dit kon regkry, was kaptein Andrew Beauchamp-Proctor. In sy periode van diens in die RFC het hy 54 oorwinnings in die lug behaal.

Geerdts het egter nooit gesê dat hy ‘n Victoria-kruis ontvang het nie, slegs dat hy een “verdien” het. Dit is moontlik dat hy ‘n ander medalje ontvang het. Daar is ‘n aantekening op sy rekord wat sê “Service considered for the grant of war medals”. Sy naam kom egter nie voor op die lys van Suid-Afrikaners wat oorlogsmedaljes ontvang het nie.

Kan die skrywer meer onthou?

Die skrywer van die 1964-artikel, oom Hansie Uys, was ietwat uit die veld geslaan toe hy gevra is of die storie waar is. Destyds het joernaliste nie die bronne gehad om sulke stories te verifieer nie. “Daar was baie inwoners wat nie mnr. Geerdts se stories geglo het nie,” sê oom Hansie. Selfs sy vrou het soms haar wenkbroue gelig oor die staaltjies. Tog het oom Hansie nie rede gehad om te glo dat dit nie alles waar was nie.

Oom Hansie het beslis die deel van die skroef gesien wat in Geerdts se besit was. “Dit was van hout en rond aan die voorkant, met die lemme kort afgesny,” vertel hy.

Alan Taylor het egter ook hiervoor ‘n verklaring gehad. Volgens hom is skroewe van geskrapte vliegtuie dikwels omskep in horlosies en dit was gewilde aandenkings onder vlieëniers. “Hierdie afgesnyde skroewe is soms ‘toegeken’ aan vlieëniers wat slegte landings uitgevoer het en die skroewe beskadig het,” sê hy.

Dat Durban Geerdts iemand besonders was, is nie te betwyfel nie. Na alle waarskynlikheid het hy nooit aksie oor Frankryk gesien nie en sy beserings kon dalk die gevolge van ‘n slegte landing by die opleidingsentrum gewees het.

Maar hy kon dalk in die chaos wat in die vroeë 1918 geheers het die oproep gekry het om te kom uithelp in die stryd teen die Duitse Aviatiks en Fokkers. Terwyl hy oor Saint-Omer se grasvelde gevlieg het, het hy ‘n aaklige slag gehoor en daarna het alles swart geword. Ná ‘n week of twee in die hospitaal is hy terug na Brittanje waar hy vir ‘n ruk ligte kantoorwerk gedoen het en toe voortgegaan het om vlieëniers op te lei. In al die gejaag en chaos so kort voor die einde van die oorlog is die aantekeninge op sy rekord nooit gemaak nie...

Ons het elkeen sekerlik ‘n keuse oor hoe ons die storie wil restoureer.

(Besonderse dank aan Andy Taylor van die Lugmagmuseum te Swartkops en Dewald Nel vir hul hulp met die navorsing.

 

 
 
 

Viewed: 855

 

 
 

Anton van Zyl

Anton van Zyl has been with the Zoutpansberger and Limpopo Mirror since 1990. He graduated from the Rand Afrikaans University (now University of Johannesburg) and obtained a BA Communications degree. He is a founder member of the Association of Independent Publishers.

 
 

More photos... 

Lt. D.W. Geerdts se diensrekord wat wys dat hy in aanmerking sou wees vir 'n oorlogsmedalje.

'n Foto van 'n S.E.5a-vliegtuig geneem tydens die Eerste Wêreldoorlog. Foto: Wikipedia.

'n Skets wat aantoon dat die S.E.5a-vliegtuig kwesbaar kon wees indien 'n koeël die boonste masjiengeweer se vashegtingspunte sou tref.

ADVERTISEMENT

 
 

ADVERTISEMENT:

 
 

ADVERTISEMENT