ADVERTISEMENT:

 

 
 

Dave wag vir sy vertrek. Hy het per veerboot van Kazungula na Zambië gereis. “Merk die nuwe brug oor die Zambezirivier onder konstruksie in die agtergrond,” het Dave gesê. Foto verskaf.

Dave bereik die walle van die valle

Date: 02 March 2019 By: Andries van Zyl

Die 62-jarige Dave van Graan is op pad terug na sy tuisdorp Louis Trichardt vir ‘n welverdiende rus na sy mees onlangse stap vanaf Ruacana op Namibië se noordgrens met Angola tot by die Victoria Valle in Zimbabwe – ‘n afstand van sowat 1 600 km.

Dave het Dinsdagmiddag vriende en familie laat weet dat hy die Victoria Valle bereik het. Dit nadat hy op 15 Januarie vanjaar vanaf Ruacana met sy Bart Mobile na die valle begin stap het. Buiten vir die persoonlike uitdaging, stap Dave om bewusmaking te kweek vir die bewaring van suidelike Afrika se renosterbevolking. So stap hy dié keer ter bewusmaking van onder meer African Anti-Poaching Services (AAPS).

Volgens Dave moes hy ongelukkig meestal van voertuie gebruik maak vir die laaste skof na Victoria Valle weens verskeie omstandighede, meestal rakende sy eie veiligheid. “Ek wou nie deur Chobe Nasionale Park [Botswana] stap nie en sou ook nie toestemming daarvoor kry nie. Dit is net te gevaarlik. Aan die Zambië kant het die polisie my ook forseer om met ‘n taxi te ry aangesien die kans dat ek beroof sou word te groot was,” het Dave Dinsdagaand per WhatsApp-boodskap aan die Zoutpansberger gesê.

Dave het Zambië met ‘n veerboot bereik, waarna het per taxi na Livingstone geneem is. “Ek kon darem die laaste 15 km na die valle stap,” het Dave gesê.

Volgens Dave het hy sy doel bereik met die staptog. “Die missie was anti-wildstropery bewusmaking. Ek het my storie met honderde mense gedeel, met skoolkinders gesels en klomp like-minded Facebook-vriende gemaak,” het Dave gesê.

Dave was veral bly toe hy sien dat vroulief Jacqui vir hom by die grenspos gewag het. Die twee sou die aand by die Victoria Falls Lodge oornag waarna hulle Woensdagoggend vroeg die pad huistoe sou aanpak.

“Ek kan self nie glo dit is verby nie,” het Dave gesê. In totaal het hy, uitgesluit die gebruik van voertuie, op die ou einde sowat 1 300 km gestap. In die proses is hy deur twee pare skoene in die ses weke op die pad. Blase het hom gelukkig nie moeilikheid gegee nie. “Ek het mos voor die trip by ‘n vriend gedraai wat ‘n voetspesialis is. Hy het ‘n insert gemaak en ek het geen blase gehad nie. Ek vermoed ook dat die feit dat die pad baie gelyk was, my voete nie so hard laat werk het nie,” het Dave gesê.

Vir Dave was dit ‘n ongelooflike avontuur gewees maar, sê hy, hy is bly dit is klaar. “Dit is baie harde werk en die swak dieet maak dit nog moeiliker. Ek het begin swaarkry,” het Dave gesê. Dit het hom egter nie van stryk gebring nie en hierdie plaaslike avonturier praat reeds van sy volgende staptog aan die einde van die jaar.

“Ek wil almal bedank wat my staptog gevolg het. Ek wil ook almal bedank wat geld geskenk het. Dit word waardeer. ‘n Spesiale dankie aan daardie persone wat my langs die pad gehelp het, van ‘n koeldrank, akkommodasie, skoene, kos of net ‘n geselsie. Julle ondersteuning het my aan die gang gehou,” het Dave gesê.

 
 
 

Viewed: 528

 

 
 

Andries van Zyl

Andries joined the Zoutpansberger and Limpopo Mirror in April 1993 as a darkroom assistant. Within a couple of months he moved over to the production side of the newspaper and eventually doubled as a reporter. In 1995 he left the newspaper group and travelled overseas for a couple of months. In 1996, Andries rejoined the Zoutpansberger as a reporter. In August 2002, he was appointed as News Editor of the Zoutpansberger, a position he holds until today.

 
 

More photos... 

Ná ses weke van hardebaard stap het plaaslike avonturier Dave van Graan sy eindpunt, die Victoria Valle in Zimbabwe, Dinsdag bereik. Hier is hy afgeneem op die brug by die valle. Foto verskaf.

Die 62-jarige Dave van Graan en sy Bart Mobile in die voorgrond by hul eindbestemming in Zimbabwe. Foto verskaf.

ADVERTISEMENT

 
 

ADVERTISEMENT:

 
 

ADVERTISEMENT