ADVERTISEMENT:

 

 
 

Die foto van die Junkers vliegtuig met die onderskrif: “1946. SAA Junkers Ju-86 ZS-AGI 'Louis Trichardt' on ground with engines running.” Foto: Transnet Gedenkbiblioteek.

Die eerste vliegtuie oor die Soutpansberg (Deel 1)

Date: 25 February 2019 By: Anton van Zyl

Vandeesweek se artikel oor die geskiedenis van die Soutpansberg het sy oorsprong by ‘n foto van ‘n vliegtuig. Die foto het skielik opgeduik te midde van ‘n soektog na inligting op die webtuiste van Drisa (Digital Rail Images SA). Dit was eintlik die onderskrif wat die aandag getrek het:

“1946. SAA Junkers Ju-86 ZS-AGI 'Louis Trichardt' on ground with engines running.”

Die eerste gedagte was: 1946 – ‘n landingstrook op Louis Trichardt? ‘n Vinnige soektog deur Johan Tempelhoff se boek oor die dorp se geskiedenis wys dat toestemming eers in September 1974 deur die stadsraad verleen is vir die bou van ‘n landingstrook. ‘n Span siviele ingenieurs is opdrag gegee om ‘n terrein te identifiseer vir ‘n vliegveld en ‘n landingsterrein vir helikopters. ‘n Jaar later is oorweging geskenk aan die bou van loodse. Daar is nie enige aantekeninge in sy boek van ‘n vliegveld op die dorp voor daardie tyd nie.

Die misterie is egter vinnig opgelos toe ‘n kollega die foto onder oë gehad het. “Lees behoorlik,” sê hy. “Die vliegtuig se naam is ‘Louis Trichardt’, nie die plek nie". Selfs sub-redakteurs kyk soms verby die ooglopende.

Waar is Ju-86 ZS-AGI nou?

Wat het egter gebeur met die Junkers “Louis Trichardt” wat vir etlike jare diens gedoen het in suidelike Afrika?

Die eerste van 17 Junkers Ju86 vliegtuie het in Junie 1937 in Suid-Afrika aangekom. Dit was ‘n bestelling van die Suid-Afrikaanse Lugdiens en die eerste vyf is toegerus met Rolls Royce Kestrel enjins. Latere modelle is toegerus met die 800 perdekrag Pratt & Whitney enjins. ‘n Agtiende Ju-86 is later gestuur met ‘n BMW enjin wat bedoel was vir gebruik deur die lugmag, kompleet met bomrakke en skiettorings.

Die vliegtuie het die SAL se vloot van drie Junkers JU-52/3M vliegtuie aangevul en is gebruik op die roetes tussen Durban, Johannesburg, Kaapstad, Oos-Londen en Port Elizabeth. In Junie 1937 het SAL roetes verder noord bekendgestel en na Lusaka, Bulawayo en Livingstone gevlieg. Die vliegtuie het ook op Pietersburg geland op pad na hulle bestemmings.

Die Junkers het name gekry soos “Louis Trigardt”, “Ryk Tulbach”, “Gert Maritz”, “Sir John Cradock” en “Hendrik Swellengrebel”.

Toe die Tweede Wêreldoorlog ‘n paar jaar later uitbreek, is die vliegtuie deur die SA Lugmag opgekommandeer en die meeste van hulle is na Wingfield in die Kaap gestuur. Die vliegtuie is later deur 12 Eskader gebruik in die gevegte in Oos-Afrika. Die oorblywende Junkers is deur 16 Eskader gebruik tydens die gevegte in Jimma in Abyssinië (Etiopië).

Wat van die vliegtuie geword het, is egter nie duidelik nie. Van die bronne sê dat geen van die vliegtuie ná die oorlog teruggekeer het na Suid-Afrika toe nie. Indien die datum by die foto (1946) reg is, moes die Junkers ZS-AGI hier agtergebly het. ‘n Verdere verwysing op ‘n webtuiste gee egter die vliegtuig se lot as “Impressed 9.39 Dbr Debra Tabor [also reported as SAAF642]”. Debre Tabor is in Ethiopië, wat strook met die area waar die SA magte in gevegte betrokke was.

‘n Kenner van die Suid-Afrikaanse lugvaartgeskiedenis, Alan Taylor, het bevestig dat die datum op die foto na alle waarskynlikheid verkeerd is. Volgens hom dui die kleure waarin die vliegtuig geverf is, asook ander faktore, daarop dat dit voor die oorlog geneem is. (Alan is verbonde aan die SA Lugmagmuseum te Swartkops net buite Pretoria.)

Na alle waarskynlikheid het “Louis Trichardt” ‘n laaste rusplek êrens in Ethiopië gevind rondom 1941.

Die eerste vliegtuig land in die noorde.

Bitter min is opgeteken oor die vroeë geskiedenis van lugvaart in die mees noordelike deel van die land. In ‘n gedenkbylae oor Pietersburg wat in 1973 deur die Northern Review gepubliseer is, verskyn ‘n onderhoud met een van die dorp se oud-inwoners, mev. Grace M Golvin. Sy kon onthou dat die eerste vliegtuig 56 of 57 jaar tevore daar geland het.

Sy was destyds ‘n dogter van so 10 of 11 jaar, wat baie opgewonde saam met ‘n groot groep mense by ‘n oop stuk veld gewag het. Die vliegtuig het laat sy verskyning in die lug gemaak en baie het toe reeds bespiegel dat die vlug vanaf Pretoria dalk te ver is. Nadat die vliegtuig ‘n paar keer gesirkel het, het dit in ‘n stofwolk geland met nuuskieriges wat van oral nadergestorm het om die vreemde verskynsel te bekyk.

Mev. Golvin se skatting was dat dit in 1917 of 1918 plaasgevind het. Sy het later gehoor dat dit deel gevorm het van ‘n werwingsveldtog vir vlieëniers.

Alan Taylor is gevra watter vliegtuig dit moontlik kon wees en wat die geleentheid was. Sy raaiskoot was dat dit ‘n verwysing is na ‘n werwingsveldtog van maj. Alistair Miller. Hy het kort ná die Eerste Wêreldoorlog deur die land gevlieg om jong manne te werf om by die Royal Flying Corps (RFC) aan te sluit. Hy sou waarskynlik in ‘n Royal Aircraft Factory B.E.2c gevlieg het. Dit was van die eerste vliegtuie wat deur die SA Lugmag gebruik is.

Miller se vlug na die noorde was nie lank ná die eerste vliegtuig op eie stoom in die land opgestyg het en 'n beduidende afstand gevlieg het nie. Dié eer het behoort aan ‘n Fransman, Albert Kimmerling, wat in 1909 sy eie vliegtuig, ‘n Voison Canard, na Oos Londen verskeep het. Op 28 Desember 1909 het hy ‘n hoogte van sowat ses meter bokant die Nahoon resiesbaan gehandhaaf.

‘n Paar maande later, op 19 Maart 1910, het Thomas Thornton van Johannesburg die eerste passasier geword wat betaal het om te vlieg. Vir die reuse bedrag van 100 pond het Kimmerling met hom in Orange Grove, Johannesburg, opgestyg vir ‘n kort vlug oor die destydse dorp Johannesburg.

Die eerste opleidingskool vir vlieëniers is so lank terug as 1912 gestig en in 1913 is die eerste tien rekrute na die Paterson opleidingsentrum in Alexanderfontein, Kimberley, gestuur. Ongelukkig is die vlieginstrukteur, wat al die pad vanaf Engeland laat kom is om die opleiding te doen, ná twee maande ernstig beseer in ‘n vliegongeluk. Hy is kort daarna oorlede en dit het ietwat van ‘n demper geplaas op die entoesiasme onder die leerling-vlieëniers en lede van die publiek.

Een van die rekrute wat wel vasgebyt het en later in Engeland sy opleiding voltooi het, was KR (Kenny) van der Spuy. Hy het later ‘n majoor geword in die SA Lugmag.

Lugroetes oor die Limpopo

Waarskynlik een van die eerste vlugte oor die noordelike deel van die land het in 1920 plaasgevind. Lt-Kol. Pierre van Ryneveld, wat in 1920 aangestel is as instrukteur in die SA verdedigingsmagte, en vlug-luitenant Quinton Brand, het die uitdaging aanvaar om die eerste persone te word wat vanaf die Verenigde Koninkryk tot in Kaapstad vlieg. Van Ryneveld se aanstelling (terugwerkend) in dié pos in Februarie 1920 word algemeen beskou as die stigtingsdatum van die SA Lugmag. Genl. Jannie Smuts het hom destyds opdrag gegee om ‘n aparte vliegtuig-afdeling in die SA weermag te stig.

Van Ryneveld en Brand het op 4 Februarie 1920 in ‘n Vickers Vimy opgestyg by die Brooklands vliegveld in Surrey. Die Vimy, genaamd Silver Queen, is teen ‘n koste van £4 500 deur die Suid-Afrikaanse regering aangekoop en beskikbaar gemaak vir die vlug. Genl. Smuts, die land se Eerste Minister, was vasberade dat ‘n Suid-Afrikaanse span die eerste moes wees wat dit regkry om oor die lengte van die vasteland te vlieg.

Dinge het egter nie heeltemal volgens plan verloop vir die Suid-Afrikaanse span nie. ‘n Verkoeler wat begin lek het terwyl hulle oor Wadi Halfa (vandag se Sudan) gevlieg het, het hulle genoop om ‘n noodlanding te doen. Hulle is nie beseer nie, maar die vliegtuig was nie meer bruikbaar nie.

‘n Tweede Vimy is geleen by die Royal Air Force in Egipte en met Silver Queen II is hulle vort vanaf Kaïro. Op 6 Maart, in uiterste warm toestande, het hulle effens oorlaaide vliegtuig neergestort kort na opstyging in Bulawayo.

Die Suid-Afrikaanse regering moes weer kom red en stuur ‘n De Havilland DH9 na Bulawayo. Die De Havilland, genaamd Voortrekker, moes Limpopo gekruis het op sy tog na Bulawayo. Op 17 Maart kon Van Ryneveld en Brand hul tog voortsit en drie dae later het hulle by Youngsfield in die Kaap geland. Of hulle in Pietersburg geland het, is onseker, maar dit is onwaarskynlik.

Beide mans is tot ridders geslaan deur die Britse koningin ter erkenning van hul prestasie. Die vlug het hulle 45 dae geneem, met ‘n totale vlugtyd van 109 ure en 30 minute.

In volgende week se uitgawe delf ons verder in die geskiedenis van lugvaart in die Soutpansberg. Ons vertel die storie van ‘n vlieënier wat in die Eerste Wêreldoorlog neergeskiet is en bewusteloos was toe sy vliegtuig geland het. Hy het later jare in die Soutpansberg gewoon. Ons kyk ook na die pioniers van plaaslike lugvaart. Indien daar lesers is wat interessante staaltjies of grepies uit die lugvaartgeskiedenis met ons kan deel, sal dit verwelkom word. Stuur dit na [email protected].

 

 
 
 

Viewed: 666

 

 
 

Anton van Zyl

Anton van Zyl has been with the Zoutpansberger and Limpopo Mirror since 1990. He graduated from the Rand Afrikaans University (now University of Johannesburg) and obtained a BA Communications degree. He is a founder member of the Association of Independent Publishers.

 
 

More photos... 

Op 6 Maart 1920, in uiterse warm toestande, het Van Ryneveld en Brand se Vickers Vimy kort na opstyging in Bulawayo neegestort. Foto: Transnet Gedenkbiblioteek.

'n B.E.2c vegvliegtuig wat in die Eerste Wêreldoorlog deur die Royal Flying Corps gebruik is. 'n Soortgelyke een is deur maj. Alistair Miller gebruik en is na alle waarskynlikheid die eerste vliegtuig wat in die destydse Pietersburg geland het. Foto: Wikipedia.

ADVERTISEMENT

 
 

ADVERTISEMENT:

 
 

ADVERTISEMENT