ADVERTISEMENT:

 

 
 

Leser Eben van de Vyver het Maandag hierdie foto geneem van die Nandonidam wat die naweek begin oorloop het vanweë die afgelope week se goeie reënneerslae oor die streek. Foto verskaf.

Droogte in die Soutpansberg nou gebreek

Date: 22 February 2019 By: Andries van Zyl

Dit wil voorkom asof die boere nou tevrede is met die goeie reën wat die afgelope week oor die Soutpansberg uitgesak het.

“Die laaste keer wat ons gepraat het, was die droogte nog hoog op die agenda. Maar ek dink ons kan ná die lekker reën van die afgelope week sê sy rug is nou hol gery. Dit is nie meer droog in die Soutpansbergdistrik nie,” het mnr. Fanie Havinga, voorsitter van die Soutpansberg Distrikslandbou-unie, hierdie week gesê.

Volgens Havinga het dit lekker gereën van die noorde tot die suide en ooste tot die weste. “Die weiding in die veld lyk baie mooi en daar waar dit nog skraps was, is die veld besig om vinnig te herstel,” het Havinga gesê.

Van die gemiddelde reënvalsyfers wat Havinga vir die afgelope week genoem het, het ingesluit 75 mm vir Alldays, 190 mm by die Albasinidam, 80 mm vir die westelike Vivo-omgewing, 130 mm vir die suidelike Vivo-omgewing, 130 mm vir Waterpoort, 160 mm tot 250 mm vir die Levubu-omgewing en 50 mm vir Musina. “Die Here sal altyd voorsien. Ons moet net glo en vertrou,” het Havinga gesê.

Ten spyte van berigte van vloedskade soos by Popallin Ranch en in die Masisi en Madimbo areas, het Havinga gesê hyself het geen berig van skade ontvang nie. “Ek dink dit was te droog in ‘n groen veld vir die water om weg te loop. As ons in Maart nog reën kan kry, sal ons baie bly wees. Die ondergrondse water het nog nodig om aangevul te word voor die lang wintermaande aanbreek,” het Havinga gesê.

Die Department van Waterwese en Sanitasie het na aanleiding van die week se goeie reën egter steeds inwoners van Limpopo versoek om water spaarsamig te gebruik. “Ons damvlakke is stadig aan die herstel ná die reën wat oor meeste dele van Limpopo geval het,” het die Department Woensdag in ‘n persverklaring gesê.

Volgens die departement het die gemiddelde vlak van damme in die provinsie die afgelope week tot 65,7% gestyg, ‘n volle 2,82% meer as die vorige week. Dit stem ooreen met die gemiddelde vlakke van damme in die ooreenstemmende tyd verlede jaar van 64,02%.

“In die Vhembe Distrik het beide die Nandoni- en Vondodam die 100% merk oorskry, met Nandoni wat tans op 102,34% staan, meer as die 93,71% van verlede week. Dit is ‘n verligting vir gemeenskappe in en om Thohoyandou. Die Vondodam staan tans op 101,44%, ‘n geweldige toename op die 86,30% van verlede week,” het die departement gesê.

 Teen Maandag hierdie week het die Albasinidam op 77,2% gestaan. Vir die volledige stand van die streek se damme, blaai na p.8.

 
 
 

Viewed: 862

 

 
 

Andries van Zyl

Andries joined the Zoutpansberger and Limpopo Mirror in April 1993 as a darkroom assistant. Within a couple of months he moved over to the production side of the newspaper and eventually doubled as a reporter. In 1995 he left the newspaper group and travelled overseas for a couple of months. In 1996, Andries rejoined the Zoutpansberger as a reporter. In August 2002, he was appointed as News Editor of the Zoutpansberger, a position he holds until today.

 
 

More photos... 

ADVERTISEMENT

 
 

ADVERTISEMENT:

 
 

ADVERTISEMENT