ADVERTISEMENT:

 

 
 

Bekende slangkenner en -vanger Jan 'Slang' van Rooyen moes die afgelope week ‘n onbeplande noodbesoek aan die hospitaal bring, nadat hy deur ‘n swart mamba gepik is. Foto verskaf.

Mamba pik slangman

Date: 10 February 2019 By: Andries van Zyl

Plaaslike slangkenner en -vanger Jan ‘Slang’ van Rooyen moes die afgelope week ‘n onbeplande noodbesoek aan die hospitaal bring, nadat hy deur ‘n mamba gepik is.

Jan, wat tans bietjie uithelp by die Ndlondlo Reptielpark naby Ballito in KwaZulu-Natal, vertel dat hulle verlede Vrydag omstreeks 09:30 besig was met ‘n fotosessie vir die slange by die park.

“Ek het net ‘n groen mamba teruggesit in die kas en was besig om ‘n jong swart mamba uit te haal vir die volgende foto’s,” het Jan gesê.

Die swart mamba van ongeveer twee meter was duidelik nie baie lus vir dié storie nie. Dan is hulle nog van nature ook baie aggressief. “Terwyl ek besig was om die slang uit te haal, reeds met die helfte van die lyf in my regterhand, het die slang homself vasgedruk teen die tak wat in die kas was. Ek het hom met die slanghaak probeer loskry en met dié het hy losgekom!” het Jan vertel.

Die slang het dadelik gemik vir die opening in die kas om weg te kom. Jan se hand was egter in die pad. “Met sy verbygaan het hy my aan die linkerduim gebyt,” het Jan gesê.

Te midde van die byt en skrik het Jan kop gehou en die astrante mamba onder beheer gekry en teruggesit in sy kas. Die pik van ‘n mamba is ook nie iets om ligtelik op te neem nie. “Ek het dadelik vir Neville Wolmarans [eienaar van die reptielpark] gesê ek is gebyt en hy het dadelik die paramedici geskakel en gereël dat ek in die hospitaal in Tongaat opgeneem word,” het Jan gesê.

As slangkenner het Jan geweet wat om te verwag. “Die simptome van die byt het omtrent 10 minute ná die byt begin intree, maar dit was glad nie erg nie. Ek het ‘n metaal smaak in my mond gehad met ‘n pins and needles gevoel om my mond en gesig,” het Jan gesê.

Jan is opgeneem in die hospitaal. “Aangesien die simptome nie so erg was nie, het ek geen teengif nodig gehad nie. Ek is in elk geval baie allergies vir die teengif,” het Jan gesê. Hy is ná ses ure van observasie uit die hospitaal ontslaan.

Jan skryf die “ligte” simptome daaraan toe dat die mamba hom nie ‘n vol dosis gif gegee het nie, aangesien hy hom net wou skrikmaak en nie doodmaak nie. “Die slang het my nie aangeval nie. Ek was bloot tussen hom en sy pad uit,” het Jan gesê. Hy het ook geen kwade gevoelens teenoor die slang. “Dit is nie die slang se skuld nie. Dit was bloot ‘n fratsongeluk,” het Jan gesê.

Ná die voorval het Jan weereens inwoners versoek om nie voor die voet slange dood te maak nie. “Moet hulle ook nie hanteer as jy nie weet wat jy doen nie,” het Jan vermaan. In dieselfde asem het hy inwoners gevra om respek te hê vir plaaslike slangvangers. “Ek vra dat die publiek sal kennis neem daarvan dat die werk wat die slangvangers doen nie net gevaarlik is nie, maar ook tyd vat en geld kos (brandstof). Daarom doen ek ‘n beroep op inwoners om ten minste vir die persoon wat uitkom om ‘n slang by jou te vang en weer veilig in die natuur te plaas ‘n donasie te gee,” het Jan gesê. Indien inwoners probleme ondervind met ‘n slang, het Jan hulle uitgenooi om vir Frikkie Venter te skakel by tel. 082 058 7601.

Intussen het Jan geen planne om op te hou “speel” met die slange nie. “In 36 jaar is dit slegs die derde keer dat ek deur ‘n giftige slang gepik is,” het Jan gesê.

 
 
 

Viewed: 1023

 

 
 

Andries van Zyl

Andries joined the Zoutpansberger and Limpopo Mirror in April 1993 as a darkroom assistant. Within a couple of months he moved over to the production side of the newspaper and eventually doubled as a reporter. In 1995 he left the newspaper group and travelled overseas for a couple of months. In 1996, Andries rejoined the Zoutpansberger as a reporter. In August 2002, he was appointed as News Editor of the Zoutpansberger, a position he holds until today.

 
 

More photos... 

Die bytwond waar die mamba Van Rooyen aan die duim beetgekry het in ‘n poging om te ontsnap. Foto verskaf.

Die einste jong swart mamba wat verantwoordelik was vir die byt. Jan sê hy was duidelik nie lus vir die fotosessie nie. Foto verskaf.  

ADVERTISEMENT

 
 

ADVERTISEMENT:

 
 

ADVERTISEMENT