ADVERTISEMENT:

 

 
 

Wyle Arina en Christiaan van der Merwe. Foto: Facebook.

Oud-Triegie en eggenoot sterf in motorongeluk

Date: 09 February 2019 By: Andries van Zyl

Die Soutpansberg-gemeenskap treur hierdie week saam met ouers Johan en Elsa Fick van Louis Trichardt met die nuus van die dood van hul dogter, Arina, en skoonseun, Christiaan, in ‘n motorongeluk Sondagaand.

“Dit is maar moeilik vir ons,” het ‘n hartseer Johan Dinsdagaand gesê kort nadat hulle in Postmasburg aangekom het waar Arina en Christiaan gewoon het.

Die 26-jarige Arina en 26-jarige Christiaan van der Merwe is vermoedelik op slag dood in ‘n botsing met ‘n vragmotor op die R31 tussen Barkly-Wes en Daniëlskuil. Die ongeluk het omstreeks 21:30 plaasgevind. Hulle was ten tye van die noodlottige ongeluk op pad terug van vriende op Potchefstroom na hulle ‘n troue op Ermelo bygewoon het. Arina en Christiaan selfs is slegs ‘n paar weke gelede, op 15 Desember, getroud.  

Sedert die nuus van die egpaar se dood stroom huldeblyke en woorde van vertroosting van alle oorde in. “Ons Triegiefamilie is so hartseer om te hoor dat Arina Fick-Van der Merwe en haar man Christiaan in 'n motorongeluk oorlede is. Arina was die dogter van Johan En Elsa Fick. Johan is die hoof by Eltivillas Primary en Elsa was vir jare 'n onderwyseres by ons skool. Arina was in 2006 in Graad 7. Ons harte gaan uit na julle familie,” het Laerskool Louis Trichardt om hul Facebook-blad geplaas. So ook het Hoërskool Louis Trichardt se Facebook-inskrywing die familie vertroosting toegewens. “Hoërskool Louis Trichardt het met leedwese verneem van die afsterwe van ‘n oud-leerling Arina Fick-Van der Merwe en dogter van twee geliefde steunpilare in ons gemeenskap, Johan en Elsa Fick. Ons as Triegies, wil hiermee graag ons innige simpatie oordra met julle groot verlies,” het die hoërskool se boodskap gelees.

Buiten vir die boodskappe van medelye, was daar ook baie wat hul skok uitgespreek het oor die jong egpaar se ontydige afsterwe. “Liefste Pina. Min het ek geweet dat my gelukwensing met jou verjaarsdag die laaste boodskap sal wees wat ek vir jou stuur. Ons is almal verpletter en sonder woorde. Jy sal altyd diep in my hart bly en ons sal mekaar eendag in die hemel weer sien. Dit vertroos my effe om te weet dat jy gelukkig was, dat jou drome waar geword het en dat jy op so jong ouderdom God se plan vir jou lewe vervolmaak het. Die leemte wat jy agterlaat is onbeskryflik groot. Tot ons weer ontmoet,” het ‘n vriendin, Simoné de Villiers‎, op Arina se Facebook-blad geskryf. Arina het op 17 Januarie haar verjaarsdag gevier. 

Arina het in 2011 aan Hoërskool Louis Trichardt gematrikuleer. Sy het pas haar meestersgraad in aptekerswese by die Noordwes Universiteit se Potchefstroom-kampus (NWU) voltooi en was ten tye van haar dood werksaam in die apteek by die hospitaal op Postmasburg. Christiaan was ‘n ingenieur wat werksaam was by ‘n plaaslike myn. Die egpaar het mekaar op universiteit ontmoet.

Johan het te midde van die hartseer gesê hulle ondersteun mekaar as familie. “Ons vind ons krag van die Here af en in mekaar in ‘n hegte huwelik en gesin,” het Johan gesê.

Johan het gesê hulle is oorweldig deur die ondersteuning wat hulle as familie ontvang. “Ons spreek groot dank uit vir die boodskappe en ondersteuning wat ons vanuit die Louis Trichardt-gemeenskap ontvang het,” het Johan gesê. Hy het bygevoeg dat hulle ook ondersteuning van die NWU ontvang. “Hulle het geskakel en gevra of ons as ouers in Arina se afwesigheid haar meestersgraad namens haar sal ontvang tydens hul jaarlikse gradeplegtigheid,” het Johan gesê.

‘n Troosdiens vir Arina en Christiaan sal eerskomende Vrydag vanuit die NG Kerk Postmasburg gehou word. “Hulle as sal saam in die gedenkmuur by die kerk geplaas word,” het Johan gesê.

Arina word oorleef deur haar ouers, broer Johan en suster Helené, tans onderwyser by Hoërskool Eric Louw in Musina. Christiaan word oorleef deur ouers Johan en Christa, suster Chris-Mari en swaer Handré Strauss.

“Uit my hart uit wil ek sê dat Christiaan, in die kort tydjie wat die Here ons gegee het, vir ons soos ‘n ekstra seun was. So ook was Arina vir die Van der Merwe-familie nog ‘n dogter,” het Johan gesê.

 

 
 
 

Viewed: 1759

 

 
 

Andries van Zyl

Andries joined the Zoutpansberger and Limpopo Mirror in April 1993 as a darkroom assistant. Within a couple of months he moved over to the production side of the newspaper and eventually doubled as a reporter. In 1995 he left the newspaper group and travelled overseas for a couple of months. In 1996, Andries rejoined the Zoutpansberger as a reporter. In August 2002, he was appointed as News Editor of the Zoutpansberger, a position he holds until today.

 
 

More photos... 

ADVERTISEMENT

 
 

ADVERTISEMENT:

 
 

ADVERTISEMENT