ADVERTISEMENT:

 

 
 

Wyle oom Pieter Mattheus, afgeneem saam met sy vrou, tannie Sya, wat in 2013 oorlede is.

Bekende oom Pieter Mattheus (85) sterf

Date: 07 February 2019 By: Anton van Zyl

Die bekende oom Pieter Mattheus van Louis Trichardt is verlede week in die ouderdom van 85 oorlede. Hy was vir meer as 60 jaar deel van die plaaslike gemeenskap en het op baie terreine sy merk gelaat.

Pieter Johannes Jacobus Mattheus is op 25 Maart 1933 op die dorpie Kirkwood in die Oos-Kaap gebore. Hier het hy grootgeword en sy skoolloopbaan voltooi. Ná skool is hy na Reitz, in die Vrystaat, waar hy by die plaaslike landdroskantoor begin werk het. In 1952 het hy, as 19-jarige jong man, op Louis Trichardt gearriveer waar hy ‘n pos aanvaar het by die landdroskantoor.

Dit het hom nie lank geneem om sy voete op Louis Trichardt te vind nie en dit is ook hier waar hy sy vrou, Luzya Eloff, ontmoet het. Sy was ‘n kleindogter van die bekende Kelly-familie, een van die pioniersgesinne in die Soutpansberg. Hulle is op 3 April 1954 getroud.

In 1954 is Pieter verplaas na Pretoria en hy het in 1955 begin om na-ure verder te studeer aan die Universiteit van Pretoria. Vier van hul kinders, naamlik Pieter, Sya, Tina en Chris, is in Pretoria gebore. In 1961 het die Mattheus-gesin teruggekeer na Louis Trichardt en hulle gevestig op die plaas Ballymore naby Elim. Hul jongste seun, Cassie, is kort hierna in die Elim hospitaal gebore.

Pieter het aanvanklik by Van Wyk Motors op Louis Trichardt gewerk, wat in daardie stadium die Volkswagen handelaars was. Die besigheid is later uitgekoop en het Thompson’s Motors geword. Hierna het hy by die bekende Alderson & Flitton (die Chevrolet-agentskap) begin werk, aanvanklik as boekhouer, maar later as bestuurder.

In 1980 het hy ‘n betrekking by Werda Motors, die Toyota-agentskap, aanvaar. Hier het hy diens gedoen as bestuurder tot en met sy aftrede in 1996.

Heelwat van die streek se inwoners sal Pieter Mattheus onthou as kranige sportman. Hy het tot op 38-jarige ouderdom nog vir die dorp se rugbyklub uitgedraf. Hy het ook vir baie jare rugby by die hoërskool afgerig. Hy het ook ‘n besonderse liefde vir jukskei gehad en was vir baie jare voorsitter van die dorp se jukskeiklub.

In September 2013 is sy vrou, tannie Sya, oorlede. Sy het vir etlike jare voor haar dood gesukkel met Alzheimer se siekte. Dit tas die brein aan en veroorsaak ‘n verlies aan geheue.

“Vir my was dit wonderlik dat my pa se brein tot aan die einde helder en skerp was,” het sy seun, Chris, hierdie week gesê. Chris vertel dat sy pa ‘n merkwaardige geheue gehad het en dat hy ‘n ongelooflike bron van kennis was.

‘n Begrafnisdiens is Maandag (4de) in die Agapé-gemeente op Louis Trichardt gehou waar Chris ‘n leraar is.

Hy word oorleef deur sy kinders, Pieter, Sya, Tina, Chris en Cassie en skoonseuns en -dogters, Estelle, Hannes, Gerhard, Rona en Noenie, asook 10 kleinkinders.

 

 
 
 

Viewed: 760

 

 
 

Anton van Zyl

Anton van Zyl has been with the Zoutpansberger and Limpopo Mirror since 1990. He graduated from the Rand Afrikaans University (now University of Johannesburg) and obtained a BA Communications degree. He is a founder member of the Association of Independent Publishers.

 
 

More photos... 

ADVERTISEMENT

 
 

ADVERTISEMENT:

 
 

ADVERTISEMENT