ADVERTISEMENT:

 

 
 

Die meer as R2,6 miljoen is in swartsakke en leë roomyshouers in die grond versteek. Foto: Limpopo SAPD.

Geen verband tans tussen moord en miljoene in die grond

Date: 26 January 2019 By: Andries van Zyl

Die polisie kon nog geen verband vind tussen die Fidelity sekuriteitsbeampte wat verlede Dinsdag by die Bridge Auto vulstasie in Louis Trichardt doodgeskiet is en die twee Fidelity beamptes wat ‘n dag later gearresteer is nadat meer as R2,6 miljoen in hulle agterplase uitgegrawe is nie.

Die 32-jarige mnr. Tshimangadzo Shane Museisi is op 15 Januarie omstreek 00:30 in sy Fidelity voertuig koelbloedig doodgeskiet. Volgens die polisie was Museisi saam met ‘n vriendin in die voertuig toe ‘n onbekende man hom genader het. Die man het blykbaar vir Museisi gevra vir sy  voertuig se sleutels en toe hy weier het die onbekende man hom verskeie kere geskiet. Die vrou wat saam met Museisi in die voertuig was, het ongedeerd van die voorval afgekom. Die moordverdagte het gevlug, sonder om enige iets te vat, in die rigting van ‘n wit bakkie wat hy ‘n ent van die moordtoneel parkeer het.

‘n Dag na die skietery was die plaaslike Fidelity tak weer in die nuus. Die polisie het aangekondig dat hulle twee mans van onderskeidelik 30 en 40 jaar gearresteer het, nadat hulle verlede Woensdagaand (16 Januarie) meer as R2,6 miljoen rand in die mans se agterplase uitgegrawe het. Die eerste man is in die Ravele Riverside-area aangekeer en die tweede by Elim Mabedengwa.

Volgens die polisie is die twee mans aangekeer na ‘n intensiewe ondersoek deur lede van die Georganiseerde Misdaadeenheid, die Misdaad Intelligensie-eenheid, die Makhado Taakspan en die polisie se taktiese eenheid in Thohoyandou. Die polisie het kort ná die vonds en arrestasie van die twee mans bevestig dat beide werksaam was by die plaaslike Fidelity tak en verantwoordelik was vir die oplaai van geld. “…in stede daarvan om die geld te deponeer, het hulle die geld gevat. Een verdagte het reeds vir hom ‘n dubbelkajuit bakkie gekoop. Die bakkie is deur die polisie gekonfiskeer,” het provinsiale polisiewoordvoerder brig. Motlafela Mojapelo gesê.

Onmiddellik ná die moord op Museisi en die arrestasie van twee van sy kollegas het gerugte die rondte begin doen dat Museisi “stilgemaak” is omdat hy sy twee kollegas aan die polisie verklap het.

In antwoord hierop het Mojapelo Woensdag gesê dat daar in hierdie stadium niks is wat die twee mans met die moord op Museisi verbind, of dat die twee sake met mekaar verband hou nie. “Geen arrestasie is nog gemaak in verband met die moord nie. Sodra daar ‘n arrestasie is, kan ons die motief agter die moord bepaal,” het Mojapelo gesê. Hy het bygevoeg dat die polisie die ondersoek na die moord op Museisi behartig, terwyl die Valke intussen die ondersoek oor die versteekte geld oorgeneem het. Die geld is in plastieksakke en leë roomyshouers in die grond begrawe.

Die twee verdagtes wat in verband met die versteekte geld aangekeer is, het Vrydag in die hof op Louis Trichardt verskyn. Rofhiwa Luvhimbi (30) en Thomas Maluleke (40) is borg geweier en sal in polisie-aanhouding bly tot hul volgende hofverskyning op 24 Januarie. Die polisie het ook bevestig dat die sekuriteitsmaatskappy ‘n verlies van meer as R3 miljoen gerapporteer het.

Mojapelo het die publiek versoek om na vore te kom met inligting wat sal kan help met die aankeer van Museisi se moordenaar. Persone met inligting kan dit deurgee by hul naaste polisiestasie of deur die polisie se tolvrye nommer te skakel by tel. 086 001 0111.

 
 
 

Viewed: 551

 

 
 

Andries van Zyl

Andries joined the Zoutpansberger and Limpopo Mirror in April 1993 as a darkroom assistant. Within a couple of months he moved over to the production side of the newspaper and eventually doubled as a reporter. In 1995 he left the newspaper group and travelled overseas for a couple of months. In 1996, Andries rejoined the Zoutpansberger as a reporter. In August 2002, he was appointed as News Editor of the Zoutpansberger, a position he holds until today.

 
 

More photos... 

‘n Polisiefotograaf dokumenteer van die versteekte geld kort nadat dit uit die grond gegrawe is. Foto: Limpopo SAPD.

ADVERTISEMENT

 
 

ADVERTISEMENT:

 
 

ADVERTISEMENT