ADVERTISEMENT:

 

 
 

Plaaslike avonturier Dave van Graan het op 15 Januarie sy volgende epiese staptog, vanaf Ruacana op die Namibiese noordgrens na die Victoria Valle in Zimbabwe, begin. Afgeneem saam met hom is vriend Frank van Zyl kort voor sy begin. Foto verskaf.

Dave mik nou Vic-valle toe

Date: 26 January 2019 By: Andries van Zyl

Avonturier Dave van Graan van Louis Trichardt se stapstewels skop tans weer stof op in Namibië, waar hy poog om vanaf Ruacana na die Victoria Valle te stap – ‘n afstand van sowat 1 600 km.

Die 62-jarige Dave is geen groentjie as dit by ver stap kom nie.  Hy het in 2014 sy eerste staptoer na Musina aangedurf, as ‘n proeflopie. Daarna het hy van Louis Trichardt tot op Kerkplein in Pretoria gestap, en toe van Louis Trichardt af, al die pad tot in die Kaap. Dit was gedurende 2014 en 2015. Einde November 2017 het hy vir die eerste keer die Namib aangedurf toe hy vanaf die Oranjerivier tot by die Kunenerivier op die Angolese grens gestap het – ‘n afstand van 1 870 km.

Maar waarom al die stappery?

Dave vertel dat sy aanvanklike motivering persoonlik was. Hy het vir jare aan ‘n pynlike siekte gely wat sy rug aangetas het. Dit was so erg dat hy daagliks sterk pynmedikasie moes gebruik en hy het hom voorgeneem dat hy gaan begin stap as hy gesond is om ‘n pynvrye lewe te vier. Dit is presies wat hy nou doen, nadat ‘n spesialis hom in 2013 behandel het en hy nou gesond is.

Dave stap ook vir ‘n ander saak naby aan sy hart – die bewaring van Suidelike Afrika se renosterbevolking. So sal jy hom altyd sien stap met sy sleepwaentjie, die Bart Mobile, ter bewusmaking van onder meer African Anti-Poaching Services (AAPS).

Dave se epiese staptog het op 15 Januarie by Ruacana begin. Die reis na Namibië was egter nie sonder voorval nie. Op pad het sy sleepwaentjie, met sy Bart Mobile bo-op, vir een of ander rede afgehaak en gerol. Die waentjie het nie te veel seergekry nie, maar die Bart Mobile wel. Dave moes hom eers weer reg buig en wiele vervang voordat hy kon begin stap.

Die Zoutpansberger het Woensdag met Dave deur middel van WhatsApp opgevang. Met net meer as 214 km agter die rug, het Dave bietjie van ‘n rusdag geniet by Eenhana. Dit nadat hy die vorige aand besluit het om homself na agt dae van rof slaap langs die pad bietjie te bederf met ‘n hotelbed en ‘n paar “koues” weg te slaan. “Ek probeer so elke sewe dae ‘n rusdag vat, waar moontlik. Man, die aircon, swembad en bier is goed benut! Ek doen nou so bietjie running repairs en het ook my toerusting uitsorteer. Ek het ‘n klomp kos uitgegooi wat ek nie gaan gebruik nie. Hier is genoeg cuca shops en Woerman winkels om rantsoene te kry. Al wat ‘n battery is word gelaai,” het Dave laat weet.

Dave het gesê hy is nog baie positief en het nog geen blase op die voete nie. “Die hitte en humiditeit is hoog, maar ek het nog geen issues gehad nie,” het Dave gesê. Verder sê hy, hy vat dit maar dag tot dag en word gereeld langs die pad deur belangstellendes voorgekeer. “Almal wil ‘n selfie neem. Dit vat nogal tyd, maar bewusmaking is deel van die avontuur,” het Dave gesê.

Vir dié wat wonder, Dave stap sonder enige ondersteuningsvoertuig. Die groot vraag aan hom wat hy sou maak as hy iets oorkom, soos ‘n slang wat hom pik of ‘n skerpioen wat hom steek? Volgens Dave is die Namibiërs se vriendelikheid ongelooflik. “Ek ken ‘n klomp Namibiërs wat my ook volg [via satelliet opsporing]  en hulle sal mobiliseer as ek iets oorkom. Die polisie volg my ook en hulle besoek my so twee tot drie keer ‘n dag. Hulle het self besluit om dit te doen. Ek het ook ‘n goeie noodhulpsak by my, maar nie vir slangbyt nie,” het Dave gesê.

Inwoners wat Dave se avontuur “lewendig” wil volg, kan klik op sy tracking link by https://raceview.live/race/racemap/dave-van-graan-kunene/.  Alternatiewelik kan hulle hom op sy Facebook-blad, Dave van Graan, volg. Persone is ook welkom om sy bewusmakingsveldtog finansieel te ondersteun. Vir meer inligting hieroor kan Dave se vrou, Jacqui, geskakel word by tel. 082 829 5421.

 

 
 
 

Viewed: 488

 

 
 

Andries van Zyl

Andries joined the Zoutpansberger and Limpopo Mirror in April 1993 as a darkroom assistant. Within a couple of months he moved over to the production side of the newspaper and eventually doubled as a reporter. In 1995 he left the newspaper group and travelled overseas for a couple of months. In 1996, Andries rejoined the Zoutpansberger as a reporter. In August 2002, he was appointed as News Editor of the Zoutpansberger, a position he holds until today.

 
 

More photos... 

Wat meer wil ‘n mens hê? Waar Dave die aand stop, daar slaap hy sommer langs die pad. “Soms vind ek ongelooflike mooi kampterreine en word herinner aan waarom ek stap,” het Dave gesê. Foto verskaf.

Volgens Dave is die hitte en humiditeit hoog in Ovamboland en moet hy gereeld vloeistof inneem. “Daardie klein botteltjies help nie. Jy het ‘n groot een nodig,” het Dave gesê. Foto verskaf.

Die reis na Namibië was nie sonder ongeluk nie. Dave se sleepwa het vir een of ander rede afgehaak en gerol. Die sleepwa het nie te seer gekry nie, maar sy Bart Mobile het erg gebuig. Foto verskaf.

Die 62-jarige Dave het hierdie verkeersteken nogal amusant gevind en homself as “ou mens” daarvoor laat afneem. Die foto is in die dorpie Omafo geneem. Foto verskaf.

ADVERTISEMENT

 
 

ADVERTISEMENT:

 
 

ADVERTISEMENT