ADVERTISEMENT:

 

 
 

Die Brakrivier in die Vivo-omgewing het verlede week, ná swaar neerslae in die Polokwane area, sy walle met 300 meter oorstroom. Volgens mnr. Japie van der Goot, voorsitter van die Bo-Brak Boerevereniging, is die rivier se oewers verder oorstroom as tydens die vloede van 2000. In die foto baljaar van sy familie in die veld wat in ‘n rivier omskep is. Foto: Japie van der Goot.

Lekker nat, maar droogte nog nie gebreek nie

Date: 13 January 2019 By: Andries van Zyl

‘Ja, veertig dae agtereen

En veertig nagte lank gereën -

Dis 'n rekord tot op hede.’

‘Meneer, mag ek Meneer iets vra?’

‘Maar alte seker, Japie. Ja?’

‘Was die boere toe tevrede?’

Baie van ons ouer lesers is vertroud met hierdie gedig van A. G. Visser (In die katkisasieklas) en na aanleiding van die afgelope paar weke se goeie reën oor die streek kan dieselfde sekerlik vir plaaslike boere gevra word: Is hulle tevrede?

Mnr. Fanie Havinga, voorsitter van die Soutpansberg Distrikslandbou-unie, het Dinsdag met ‘n groot glimlag soos volg geantwoord: “Ons is gelukkig, maar nog nie tevrede nie.”

Die Soutpansberg, soos baie ander dele in die land, was tot onlangs toe nog vasgevang in die wurggreep van ‘n ernstige droogte. “Dit het goed gereën. Ons kan nie daarteen stry nie. Dit het wyd goed gereën. In Levubu wissel hy tussen 100 mm en 180 mm vir hierdie jaar. In Desember het dit ook gereën, maar dit was 130 mm in totaal. Die meeste reën het nou in Januarie geval, selfs in die Bosveld ook. Agter die berg het hulle reën gehad, nie so baie nie, maar dit het gereën,” het Havinga gesê.

Havinga was egter, ten spyte van die afgelope paar weke se goeie reën, versigtig om ‘n voorspelling te maak dat die droogte gebreek is. “Dit was goeie reën gewees, maar as ons Februarie en Maart min of geen reën kry nie, beteken hierdie reën [van nou] eintlik vir ons niks. As ons wel reën kry, dan kan ons sê ons het ‘n goeie reënseisoen gehad en ons het twee goeie jare nodig om te sê die droogte is gebreek. Dit is heeltemal te vroeg om te sê die droogte is gebreek, want ons kan Februarie, Maart en April uitermatige hitte kry wat al hierdie water kan wegbrand,” het Havinga gesê.

In die normaalweg droë Vivo-omgewing is dit ook lekker groen. “Ek het met Japie van der Goot [voorsitter van die Bo-Brak Boerevereniging] op Vivo gepraat. Die Brakrivier het sterker afgekom as die vloede van 2000. Die rivier het 300 meter van sy oewer af oorgestoot. Dit was verlede week, toe dit so swaar in Polokwane gereën het,” het Havinga gesê.

Volgens Havinga het die goeie reën wat die afgelope paar weke oor die streek uitgesak het ‘n direkte invloed op die boere se 2020 oes wat hulle nou ingesit het. “Wat hierdie jaar se oes betref, hang die neute klaar aan die boom en het hierdie reën geen invloed daarop nie. Dit is vir volgende jaar se oes wat hierdie baie belangrik is. As ons Februarie nog goeie reën kan kry, dan gaan ons ‘n baie goeie jaar hê vir die volgende seisoen … want die lietsjies is klaar af en die avo’s is het klaar geset.  Meeste van ons gewasse het klaar geset, so hierdie help om die oes deur te sien,” het Havinga gesê.

Oor die langtermynverwagting vir goeie reën het Havinga verwys na ‘n artikel wat hy onlangs gelees het oor ‘n persoon wat ‘n studie gemaak het van die land se langtermyn weerpatrone. “Dit wys ons gaan in ‘n droogte in en dan kry ons twee jaar wat dit normaal reën; dan gaan jy in ‘n ernstige droogte in vir twee tot drie jaar wat dit absoluut bitter min reën. Hierdie droogte word gewoonlik gebreek met ‘n vloed en eers dan gaan ons weer in ‘n nat siklus in. Dit wil vir my voorkom of ons nou in daardie twee jaar is wat ons normale reën kry en dan die droogte. Dit is hoekom ek bang is om te sê die droogte is gebreek. Ek hoop ons gaan dit [die ernstige droogte] mis, maar dit is die tendens.”

Die streek se laaste vloed was in 2000. Voor dit was daar ook vloede in die vroeë 1980’s, en voor dit in 1958. “So dit werk in sulke 20 tot 25 jaar siklusse. Ons is 19 jaar weg van die vorige vloed,” het Havinga gesê.

Wat die moontlikheid van verdere swak reën die res van die jaar betref, soos die geval was die laaste paar jaar, bly Havinga positief. “Dit moet een of ander tyd draai. Dit [die reën] lyk goed in hierdie stadium. Dit lyk regtig baie mooi. As ons hierdie maand nog kan deurgaan met hierdie 10 mmm tot 20 mm hier en daar en ons kan Februarie en Maart nog reën kry, dan sal ek sê ons het nie ‘n droë somer gehad nie.”

 

 
 
 

Viewed: 983

 

 
 

Andries van Zyl

Andries joined the Zoutpansberger and Limpopo Mirror in April 1993 as a darkroom assistant. Within a couple of months he moved over to the production side of the newspaper and eventually doubled as a reporter. In 1995 he left the newspaper group and travelled overseas for a couple of months. In 1996, Andries rejoined the Zoutpansberger as a reporter. In August 2002, he was appointed as News Editor of the Zoutpansberger, a position he holds until today.

 
 

More photos... 

ADVERTISEMENT

 
 

ADVERTISEMENT:

 
 

ADVERTISEMENT