ADVERTISEMENT:

 

 
 

Die 16-jarige Koben Hofmeyr en sy lieflinghond Rex het inwoners ‘n geseënde Kersfees en voorspoedige Nuwe Jaar toegewens. “Maar met geloof, hoop, determinasie, en motivering kan jy enige iets doen,” het Koben gesê.

“Alles net genade”

Date: 24 December 2018 By: Andries van Zyl

Die 16-jarige Koben Hofmeyr van Louis Trichardt kon sekerlik die handdoek ingegooi het ná sy ernstige nekbesering en sy lot aanvaar het, maar in stede daarvan het hy besluit om eerder die beste te maak van sy omstandighede en vir talle as inspirasie te dien.

Koben se lewe as belowende sportman het op 19 Mei vanjaar onherroeplik verander toe ‘n nekbesering tydens ‘n skolerugbywedstryd hom in ‘n rolstoel gelaat het. Tog het hy en sy familie nie toegelaat dat die ongeluk sy lewe ruïneer nie. “Dit het my laat besef ons moet dankbaar wees vir dit wat ons het en dat die Here jou altyd ‘n tweede kans gee. Jy moet dit met al twee hande aangryp en dit voluit uitleef, wat ook al jou doel is in die lewe,” het Koben Maandag aan die Zoutpansberger gesê.

Die koerant het bietjie weer by Koben gaan inloer om te hoor hoe dit deesdae met hom gaan. Hy en sy familie maak, soos baie ander, reg vir Kersfees en dit is vir hulle ‘n Kersfees van dankbaarheid. Sedert die ongeluk het Koben byna die onmoontlike vermag deur heelwat mobiliteit in sy onderlyf te herwin.

Dit was egter nie altyd maklik nie en kort ná die ongeluk het Koben gesukkel om dit wat met hom gebeur het te verwerk. “Die slegste tyd vir my was daardie eerste vier weke in ICU waar die realiteit inskop dat daar dalk ‘n kans is dat jou lewe nooit weer dieselfde gaan wees nie … dat jy nooit jou onafhanklikheid sal terugkry nie,” het Koben gesê.

Volgens Koben het hy hierdie negatiwiteit verwerk deur positief daaroor te dink. “Jy kan nie jou verlede verander nie, en ek het dit wat ek het gebruik om my toekoms te verbeter,” het Koben gesê. En wat hy vermag het, is voorwaar ‘n wonderwerk - hy kan weer loop, al is dit met behulp van iemand aan wie hy vashou of  met ‘n loopraam. “Ek is baie trots op wat ek kon regkry en ek is baie dankbaar vir dit wat ek kon terugkry. Ek is baie nederig daaroor, want dit is alles net genade,” het Koben gesê.

Koben maak geen geheim daarvan dat geloof die bron van sy krag is nie. “Die grootste faktor is jou geloof, want net Hy kan bepaal wat gaan vir wat en wat gaan gebeur – net Hy weet wat is die toekoms want Hy het dit klaar beplan. As jy nie geanker is in jou geloof nie, dan is jy doelloos…” het Koben gesê.

Dit is juis Koben se vaste hoop in sy geloof wat hom groot drome laat droom. “…ek weet vir seker ek gaan weer normaal loop en ek gaan weer op my eie kan funksioneer.  Ek weet ek sal nie weer die ou sportman [wat hy was] kan wees nie, maar ek sal vir seker naby aan dit kan kom,” het Koben gesê. Hy stel ook nie vir hom enige klein mikpunte nie. “Huidiglik, in 2018, kan ek net loop deur aan iemand se hand vas te hou vir balans. Ek sal graag in 2019 ‘n paar treë op my eie wil vat. Ek sal ook graag in 2019 onafhanklik wil wees van my rolstoel, krukke of wat ook al nodig is om rond te loop ... Ek hou daarvan om groot mikpunte te stel…” het Koben gesê.

Koben het ‘n Kersboodskap vir inwoners gehad wat hulle tans in moeilik omstandighede bevind. “Ek wil graag vir julle ‘n geskenk gee van my kant af, en dit is hoop vir die Nuwe Jaar. As ons terugkyk na waar ek sewe maande gelede was, moet ek eerlik met julle wees, ek het regtig nie gedink dit gaan uitdraai soos wat dit nou uitgedraai het nie. Maar met geloof, hoop, determinasie, en motivering kan jy enige iets doen. Ek wil graag hê in 2019 moet julle geanker wees in geloof, want ek kan julle verseker elke jaar gaan sy slegte tye bring, elke jaar gaan sy probleme bring, maar elke jaar gaan ook sy wonderwerke bring en elke jaar gaan ook sy goeie tye aan ons voorsien,” het Koben gesê.

 

 
 
 

Viewed: 1544

 

 
 

Andries van Zyl

Andries joined the Zoutpansberger and Limpopo Mirror in April 1993 as a darkroom assistant. Within a couple of months he moved over to the production side of the newspaper and eventually doubled as a reporter. In 1995 he left the newspaper group and travelled overseas for a couple of months. In 1996, Andries rejoined the Zoutpansberger as a reporter. In August 2002, he was appointed as News Editor of the Zoutpansberger, a position he holds until today.

 
 

More photos... 

ADVERTISEMENT

 
 

ADVERTISEMENT:

 
 

ADVERTISEMENT