ADVERTISEMENT:
Heidi-Lene ná die operasie om haar lugpyp oop te rek. Sy moet die operasie elke twee weke onder narkose kry, wat baie spanning op haar en haar liggaam plaas. Foto verskaf.
Date: 23 December 2018 By: Jo Robinson
Ná die 23-jarige Heidi-Lene Jonck van Louis Trichardt amper verdrink het in ‘n bootongeluk in Maart vanjaar op die Albasinidam, het sy meer tyd in verskeie hospitale deurgebring as tuis.
Heidi-Lene en haar suster, Elze-Marie du Preez, het oor die laaste paar maande baie gehad om oor bly te wees met elke trap wat sy vorentoe gegee het. Daar was egter ook heelwat struikelblokke wat hulle moes oorkom.
Volgens Elze-Marie sal hulle altyd dankbaar wees vir die Pietersburg Hospitaal, omdat hulle Heidi-Lene se lewe gered het. Sy is in die hospitaal opgeneem kort ná die ongeluk waarin sy haar kop hard gestap het en lank sonder asem onder die water was. Ongelukkig het die hospitaal te lank ‘n suurstofpyp in haar lugweg gelos. Dit het letsels aan haar lugweg veroorsaak wat nou weer haar lewe in gevaar plaas.
Die familie kon nie die nodige fondse bymekaarskraap vir ‘n dringende operasie in ‘n privaathospitaal aan haar lugweg om die skade te herstel nie om sodoende te verhoed dat sy versmoor. Die enigste rede hoekom die familie dit privaat wou laat doen, was omdat dit dan net een prosedure sou wees.
Alhoewel hulle nog wag om die operasie te laat doen, bly hulle positief al moet Heidi-Lene meer prosedures kry om elke paar weke haar lugweg oop te rek. Dit moet gebeur totdat Heidi-Lene ‘n volle operasie kan kry wat die stukkie van haar lugweg (met die littekens) uit te sny. Tans moet Heidi-Lene elke twee weke onder narkose gaan sodat haar lugweg gerek kan word. Dit plaas baie spanning op haar en haar liggaam. “Heidi-Lene kla nooit nie,” het Elze-Marie gesê. Die familie kla ook nie. Al wat Elze-Marie telkens vir die Zoutpansberger sê is hoe vol dankbaarheid, hoop, en geloof in God hulle is.
Heidi-Lene is nog steeds in die Steve Biko Hospitaal in Pretoria, maar die familie hoop dat haar operasie teruggeskuif kan word sodat dit in Januarie kan plaasvind. Intussen het sy weer ‘n operasie op 13 Desember ondergaan waar die dokter haar lugweg oopgerek het en die littekenweefsel uit die pad gedruk het. Sy was die volgende dag terug in die teater vir ‘n ballondilatasie, nadat die dokters besluit het dat dít haar lugweg nog langer sal oophou. Dié operasie moes egter uitgestel word as gevolg van ‘n ander noodgeval waarvoor die teater dringend nodig was. Heidi-Lene is nou oorgeskuif na die kardiosaal omdat die vernouing in haar lugweg laer af en naby haar hart is en haar behandeling val nou onder ‘n kardiotorakale chirurg.
“Sover gaan dit nog goed met haar en sy is veilig, rustig en kalm,” het Elze-Marie gesê. “Ons dank die Here vir alles. Alles is in sy hande.”
Die Tafelronde Zoutpansberg 66 administreer al die donasies wat ontvang word vir Heidi-Lene. Die rekeningbesonderhede, met verwysing Heidi-Lene, is Round Table 66, Eerste Nasionale Bank, rekeningnommer 528 668 32 804 en takkode 260149. ‘n Facebook-blad is vir Heidi-Lene geskep met videogrepe en nuus oor haar vordering. Die naam van die blad is Heidi-Lene Jonck By Faith You Will Walk Again.
Viewed: 2301
|
Tweet |
Jo joined the Zoutpansberger and Limpopo Mirror in 2018 pursuing a career in journalism after many years of writing fiction and non-fiction for other sectors.
More photos...
ADVERTISEMENT
ADVERTISEMENT:
ADVERTISEMENT