ADVERTISEMENT:

 

 
 

Iemand het 'n boks katjies in hierdie stormwatersloot gelos. Altesaam 13 katjies is gered, maar daar word vermoed dat daar meer kon wees. Foto verskaf.

Wreedaard los boks met katjies in stormwatersloot

Date: 15 December 2018 By: Jo Robinson

‘n Hele paar onverwagte gaste het Maandagoggend hulle opwagting gemaak by die Aralita Versorgingsoord vir kleuters net buite Louis Trichardt op die Ledig-pad.

Die oord se Lita Luies het vertel dat haar personeel die oggend daar opgedaag het – met ‘n string van ses klein katjies wat hulle agtervolg het. “My kleutertjies was in ekstase oor die nuwe maatjies,” het Lita gesê.

Lita het egter besef hierdie is iemand se ses “weggooi”-katjies. “Die katjies was duidelik gewoond aan mense en hulle kon maklik opgetel word. Gelukkig het ons honde hulle nie beetgekry nie,” het Lita gesê.

Terwyl Lita nog gesit en wonder het wie op aarde die katjies daar by haar sou kom aflaai het, het een van haar assistente, Milan, vir haar gesê daar was nog meer katjies. Milan, wat elke oggend te voet vanaf die verkeersirkel op die N1 na die oord loop, het vir Lita gesê sy het die katte gesien by ‘n natgereënde boks in ‘n stormwatersloot langs die pad.

Lita het dadelik vir die ses katjies bietjie melk gegee, terwyl Milan en ‘n paar van die groter kinders terug is na die plek waar die boks in die stormwatersloot opgemerk is. Daar aangekom, het hulle nog sewe katjies in die boks gekry en hulle vermoed daar kon selfs nog meer gewees het. Die sewe ander katjies is ook teruggeneem na die oord. “Gelukkig is hier katpille en die 13 katjies kon met vol magies rustig raak,” het Lita gesê.

Lita het dadelik die plaaslike Dierebeskermingsvereniging (DBV) se inspekteur Lawrence Khodobo geskakel. Op sy beurt het hy die 13 katjies by Lita kom oplaai. “Die kleuters was baie ontsteld omdat die oom die katjies kom wegvat het. Dit was egter vir hulle ‘n goeie les oor die werk wat die DBV vir ons diere doen,” het Lita gesê.

Lita wonder steeds waarom iemand die boks katjies by hulle sou aflaai. “Hulle het seker geweet die kleuters sal gaande wees oor die katjies. Miskien het hulle gedink tannie Lita gaan ‘n strik om elke katjie se nek bind en skielik het elke kat ‘n huis?”

Grietjie Smit van die Louis Trichardt DBV het ná die voorval weer kateienaars vriendelik versoek om hulle diere te laat steriliseer om ongewenste werpsels te vermy. Wanneer hierdie ongewenste werpsels egter wel plaasvind, het Grietjie gevra dat die katjies na die DBV gebring moet word, eerder as om hulle in ‘n boks in die veld af te laai.

Vir meer inligting kan Lawrence geskakel word by die plaaslike DBV by tel. 082 965 5151.

 

 
 
 

Viewed: 712

 

 
 

Jo Robinson

Jo joined the Zoutpansberger and Limpopo Mirror in 2018 pursuing a career in journalism after many years of writing fiction and non-fiction for other sectors.

 
 

More photos... 

Hierdie katjies sou dit beslis nie gemaak het sonder die skerp oog van Milan, assistent by die Aralita kleuterskool, nie. Foto verskaf.

ADVERTISEMENT

 
 

ADVERTISEMENT:

 
 

ADVERTISEMENT