ADVERTISEMENT:

 

 
 

Mnr. Lourens Greyling het vertel dat hulle tans besig is om die ou Nada’s Ark perseel in Ruhstraat op te knap vir kantore. Die afgelope naweek het die stormwinde egter ‘n groot boom omgewaai wat grootskaalse skade aan hulle perseel veroorsaak het. Foto's verskaf.

Hemel se sluise gaan uiteindelik oop

Date: 15 December 2018 By: Andries van Zyl

Ná maande van bid en met verwagting na die wolke kyk, het die eerste noemenswaardige neerslae oor die Soutpansberg die afgelope naweek uitgesak.

Verlede Vrydagmiddag het ‘n paar donderwolkies Louis Trichardt so ‘n bietjie skrikgemaak met ‘n vinnige maar uiters intense reënbui oor die bosbouplantasie. Bietjie verder noord is beter neerslae gerapporteer.

Die wolkies het egter geen plan gehad om te wyk nie en het Saterdag al hoe digter toegepak. Toe die sluise van die hemel uiteindelik Saterdagmiddag oopmaak, was dit ‘n stortvloed van genade oor ‘n dorre aarde.

Binne minute het die reënmeters oor feitlik die hele streek begin vol loop. Die reën het deur die nag tot Sondagoggend voortgeduur en plek-plek het reënmeters selfs oorgeloop.

“Dit lyk my die hele Soutpansberg het darem so ‘n bietjie reën gehad. Vivo het so tussen 20 en 50 mm gehad en Waterpoort tussen 25 en 50 mm. Op Levubu het hy baie lekker gereën; van die dorp se kant af tot so amper teen Thohoyandou lyk dit vir my ons het so tussen 100 en 120 mm gehad vir die naweek. Die Levuburivier loop weer lekker, so dit was goeie reën gewees…” het mnr. Fanie Havinga, voorsitter van die Soutpansberg Distrikslandbou-unie, Maandag gesê. Hy het egter gewaarsku dat die droogte in die streek nog geensins gebreek is nie. “Ek is maar nog bekommerd vir vorentoe. Ons moet nou, na hierdie reën, goeie opvolgreën kry voor Nuwejaar. Dan behoort die weiding darem bietjie te herstel. So, kom ons kyk maar wat gebeur en hoop vir die beste,” het Havinga gesê.

Plaaslike boer en voorsitter van die Louis Trichardt Boerevereniging mnr. Fritz Ahrens was van dié wat baie dankbaar was vir die reën. Hy het die naweek sowat 130 mm gemeet op sy plaas Neuhoff op die Piesanghoekpad. “Hopelik het die reën my lietsjie-oes gered,” het Ahrens gesê.

Vanaf Musina is ook goeie neerslae gerapporteer. Volgens Hettie Cooper het hulle Saterdagaand 18 mm en Sondagaand 42 mm op ‘n plaas buite dié grensdorp gemeet.

Meeste inwoners van Louis Trichardt het reënneerslae van tussen 80 en 120 mm oor die naweek gemeet. Die gepaardgaande stormsterkte winde het egter plek-plek skade veroorsaak.

Mnr. Lourens Greyling het vertel dat hulle tans besig is om die ou Nada’s Ark perseel in Ruhstraat op te knap vir kantore. Die afgelope naweek het die stormwinde egter ‘n groot boom omgewaai wat grootskaalse skade aan hulle perseel veroorsaak het. Soortgelyks het die wind ook ‘n boom in die buurman se erf langs die Zoutpansberger omgewaai. Die boom het bo-op ‘n afdak beland en ook ‘n deel van ‘n nuutgeboude sementheining laat intuimel.

Te midde van skade hier en daar was die meeste inwoners merkbaar verheug oor die naweek se reën. “Dit is wonderlik, baie dankbaar!” het Martie Venter opgemerk.

 

 
 
 

Viewed: 668

 

 
 

Andries van Zyl

Andries joined the Zoutpansberger and Limpopo Mirror in April 1993 as a darkroom assistant. Within a couple of months he moved over to the production side of the newspaper and eventually doubled as a reporter. In 1995 he left the newspaper group and travelled overseas for a couple of months. In 1996, Andries rejoined the Zoutpansberger as a reporter. In August 2002, he was appointed as News Editor of the Zoutpansberger, a position he holds until today.

 
 

More photos... 

Die koerant het nie skade vrygespring nie, met 'n groot ou moerbeiboom wat op die afdak beland het. Almal is egter dankbaar vir die lekker reën die afgelope naweek.

ADVERTISEMENT

 
 

ADVERTISEMENT:

 
 

ADVERTISEMENT