ADVERTISEMENT:

 

 
 

Heidi-Lene Jonck en haar suster Elze-Marie glimlag, maar daar lê nog 'n moeilike pad vir Heidi-Lene in die onmiddelike toekoms voor.

Heidi-Lene het nog 'n wonderwerk nodig

Date: 25 November 2018 By: Jo Robinson

In Oktober het die Zoutpansberger berig oor die goeie vordering wat die 23-jarige Heidi-Lene Jonck (23) gemaak het en die familie het gedink die ergste is verby … Die grootste skok tot dusver het egter nog voorgelê, met die nuus dat Heidi-Lene verlede week byna versmoor het.

Elze-Marie, Heidi-Lene se sussie, het vertel dat hulle aanvanklik meer bekommerd was oor Heidi-Lene se voete en breinskade as wat hulle bekommerd was oor haar keel.

Ná die bootongeluk op die Albasinidam op 11 Maart vanjaar wat vir Heidi-Lene in ‘n koma gelaat het, is sy in die provinsiale hospitaal in Polokwane opgeneem. “Die Pietersburg Hospitaal het Heidi-Lene se lewe gered en vir dit sal ek my hele lewe lank dankbaar wees,” het Elze-Marie gesê. “Maar terwyl sy daar was, het hulle ‘n suurstofbuis vir meer as ‘n maand binne in haar keel gelos - dubbel die tyd wat dit mag inbly sonder om skade te veroorsaak. Dit het littekens in haar keel veroorsaak. Van daardie tyd af moes Heidi-Lene suurstof gebruik, maar ons het geen idee gehad dat daardie littekens binne-in haar keel besig was om toe te groei nie. Ons was ook nie van plan om iets daaraan te laat doen tot volgende jaar nie,” het Elze-Marie gesê.

Die oggend van Dinsdag, 13 November, het twee van Elze-Marie se kliënte hul afsprake by haar salon gekanselleer. Dit is was toe dat Elze-Marie onthou het dat die oor, neus en keel spesialis, dr. R. K. Maringa, Louis Trichardt elke Dinsdag besoek. Sy het ‘n kans gewaag en gebel vir ‘n afspraak. Sy was heel verbaas om te hoor dat dr. Maringa wel vir Heidi-Lene kon sien.

Volgens Elze-Marie was dr. Maringa ooglopend geskok toe hy sien hoe ver Heidi-Lene se keel toegegroei het. Hy wou nie eers toelaat dat sy vir ‘n CT-skandering gaan nie, want hy was bekommerd dat sy dalk sou versmoor as sy sou plat lê. “Hy het gesê dat hy nie sal kan slaap voordat hy ‘n operasie op Heidi-Lene gedoen het nie,” het Elze-Marie gesê. Hy het ook vir die twee sussies verduidelik dat, alhoewel Heidi-Lene se konstante suurstofgebruik tydelik haar lewe sou red, sy nie so sou kon aangaan nie. Hy het dieselfde dag gereël vir ‘n operasie waar Heidi-Lene se keel letterlik oopgerek is. Hierdie was egter net ‘n tydelike behandeling. Die sussies is meegedeel dat, sou Heide-Lene nie binne twee weke ‘n operasie kry waar die stuk van haar lugpyp wat toegegroei het, uitgesny word nie, sy weer sou moes kom sodat haar keel oopgerek word.

Elze-Marie het met trane in haar oë aan die koerant vertel dat die eerste ding wat Heidi-Lene ná die operasie vir haar gesê het, was: “Ek wens ek kon vir jou wys hoe goed dit voel om asem te haal.” Elze-Marie voel baie sleg dat sy nie vroeër geweet het in watter lewensgevaar haar sussie was nie, maar sy glo vas dat die Here vir Heidi-Lene weer gered het. “Alles het so uitgewerk, met die kansellasies en die opening by die chirurg.”

Hierdie familie, wat sedert die ongeluk skok na skok ervaar het en al soveel geld moes bymekaarskraap, is opreg dankbaar vir al die hulp wat hulle van mense ontvang. Dit is vir hulle moeilik om vir nog hulp te vra. “Ons het vir die dokter gevra of hulle die operasie in die provinsiale hospitaal kan doen, maar daar is nie tyd nie. Heidi-Lene se lewe hang in die weegskaal,” het Elze-Marie gesê. “Ons verkoop nou ons huis en ons hoop om die kontrak in Desember te teken. So, ons probeer om iets nou te kry wat ons kan terugbetaal wanneer die koop deurgaan. Maar dit is maar ‘n hoop en help nie vir nou nie,” het Elze-Marie gesê.

Die familie het reeds vir verlede Dinsdag se operasie met hul kredietkaarte betaal. Hulle weet nie meer watter kant toe nie. “Jy kan nie ‘n geldwaarde op ‘n lewe plaas nie en die Here het ons hier gebring. Hy sal al die pad saam met ons stap. Dit weet ons, maar steeds, nou het ons groot hulp nodig,” het Elze-Marie gesê.

Die volle koste van die eenmalige operasie om die skade aan Heidi-Lene se keel te herstel beloop R230 000. As dit nie gedoen word nie, sal dit die familie elke twee weke R40 000 kos om haar keel oop te rek. Intussen het dr. Maringa aangedui dat hy die operasie of op 28 November of 5 Desember sal kan doen.

Die Tafelronde Zoutpansberg 66 administreer al die donasies wat ontvang word vir Heidi-Lene. Die rekeningbesonderhede, met verwysing Heidi-Lene, is Round Table 66, Eerste Nasionale Bank, rekeningnommer 528 668 32 804 en takkode 260149. ‘n Facebook-blad is vir Heide-Lene geskep met videogrepe en nuus oor haar vordering. Die naam van die blad is Heidi-Lene Jonck By Faith You Will Walk Again.

 

 
 
 

Viewed: 1155

 

 
 

Jo Robinson

Jo joined the Zoutpansberger and Limpopo Mirror in 2018 pursuing a career in journalism after many years of writing fiction and non-fiction for other sectors.

 
 

More photos... 

ADVERTISEMENT

 
 

ADVERTISEMENT:

 
 

ADVERTISEMENT