ADVERTISEMENT:

 

 
 

Die 49-jarige me. Martie Barnard wat ernstig beseer is tydens ‘n gasontploffing verlede Donderdag.

Bid vir Martie

Date: 24 November 2018 By: Andries van Zyl

“Bid asseblief hard saam met my…” Dit was Woensdagmiddag die woorde van mnr. Tony Barnard van Louis Trichardt wie se vrou, die 49-jarige Martie Barnard, ernstige brandwonde opgedoen het toe ‘n gassilinder langs haar ontplof het.

Martie is verlede Donderdag in ‘n ernstige toestand opgeneem in 1 Militêre Hospitaal in Taba Tshwane, ure nadat sy ernstig beseer is tydens ‘n gasontploffing by haar werksplek, Gasarc, in die dorp se industriële gebied. Die dorp is kort na 13:00 geruk deur die slag van die ontploffing, wat grootskaalse skade aan beide die buite- en binnekant van die Gasarc-gebou aangerig het. Martie-hulle was klaarblyklik besig om gassilinders van ‘n vragmotor af te laai toe die ontploffing plaasgevind het. In die proses het sy tweedegraadse brandwonde aan haar gesig, bene, arms en maag opgedoen. By nadere ondersoek het dit geblyk dat ‘n asetileen gassilinder ontplof het.

Sedert die byna noodlottige ongeluk, wat Martie wonderbaarlik oorleef het, waak Tony by haar hospitaalbed. Hy en Martie probeer albei positief bly, maar soms gaan dit maar moeilik.

Tony het vertel dat Martie Maandag maar baie negatief was. “Ek dink dit was maar die skok. Haar een been het sleg gelyk, maar haar gesig het baie beter gelyk. Dit genees nogal vinnig,” het Tony Dinsdag gesê. Waaroor hy baie bly was, was dat hy en Martie met mekaar kon praat. Kort ná die ontploffing het sy weens die pyn van die brandwonde maar gesukkel om te praat. “Ons kommunikeer goed en sy lyk al baie beter,” het Tony gesê.

Woensdag het dinge egter nie meer so rooskleurig gelyk nie. Martie het erge pyn verduur en dokters het haar onder verdowing gehou. “Ek kon nie met haar praat nie en sy het deurmekaar gepraat. Ek dink die skok is net ‘n bietjie te veel vir haar liggaam,” het Tony gesê.  Ten spyte hiervan, het Tony gesê, probeer hulle steeds positief bly. Hy plaas steeds Martie se herstel in die Here se hande. “‘n Dokter is net ‘n instrument en ons plaas ons hoop in die Hoër Hand,” het Tony reeds verlede week opgemerk.

Volgens Tony sal Martie vir ten minste nog twee weke in die hospitaal moet bly vir waarneming. Hyself het gereed gemaak om vinnig terug te keer na Louis Trichardt om sy sake hier in orde te kry. Hy sou dan dadelik weer terugry na Martie toe.

“Bid asseblief hard saam met my,” het Tony gesê en bygevoeg dat dit net die gemeenskap se gebede is wat hulle dra. “Ek wil net vir almal dankie sê wat vir ons gebid het en steeds bid,” het Tony gesê.

Intussen deur die ondersoek na die oorsaak van die ontploffing steeds voort. ‘n Ondersoekspan van Air Liquide was reeds verlede Donderdagaand op die toneel van die ontploffing om met hul ondersoek te begin.

 

 
 
 

Viewed: 843

 

 
 

Andries van Zyl

Andries joined the Zoutpansberger and Limpopo Mirror in April 1993 as a darkroom assistant. Within a couple of months he moved over to the production side of the newspaper and eventually doubled as a reporter. In 1995 he left the newspaper group and travelled overseas for a couple of months. In 1996, Andries rejoined the Zoutpansberger as a reporter. In August 2002, he was appointed as News Editor of the Zoutpansberger, a position he holds until today.

 
 

More photos... 

ADVERTISEMENT

 
 

ADVERTISEMENT:

 
 

ADVERTISEMENT