ADVERTISEMENT:

 

 
 

Wildvrektes kom reeds vir etlike maande voor oor ‘n wye streek in die Soutpansberg- en Waterbergdistrik vanweë ‘n knellende droogte. Foto: Boere in Nood.

Droogte eis sy tol

Date: 19 November 2018 By: Andries van Zyl

Min mense besef regtig die omvang van die droogte in die Soutpansberg, met baie boere wat die feestydperk ingaan met net een verwagting – dat dit genoeg sal reën om hul plase te red.

“Dit is ‘n moedeloosheid. Die hele tyd soek ek net voer. Ek voer my beeste al vir vier jaar, maar dit is die eerste jaar wat ek my wild ook begin voer het. Ek kry hulle vanjaar net so jammer,” het ‘n plaaslike sakeman en deesdae ‘n boer, Brink Schlesinger, Dinsdag gesê. Diegene wat Brink goed ken, weet dat sy wild soos kinders op sy plaas is en dat hy nie graag laat jag nie. Vanjaar, het hy gesê, het hy sy standpunt egter bietjie verander en gesê dat hy soms nou wel toelaat dat daar geskiet word. “Anders vrek hulle in die veld,” het Brink gesê. Hy het spesifiek verwys na sy wild.

Fanie Havinga, voorsitter van die Soutpansberg Distrikslandbou-unie, het beaam dat dinge veral noord van die Soutpansberg beroerd lyk. “Daar is boere wat nog nooit opgehou voer het nie. Die veld het net nie genoeg herstel met verlede jaar se reën vir diere om net vanaf die veld te lewe nie. As hulle nou ophou voer as gevolg van die finansiële implikasie, sal hulle diere vir seker vrek van die honger,” het Havinga gesê.

Die huidige droogtetoestand het nie net ‘n impak op die wild- en veebedryf nie. Gewasse word ook geraak. Volgens Havinga is daar baie boere wat nog nie geplant het nie, omdat hulle eers wag dat dit reën. “Hulle het nie meer genoeg [grond]water om ‘n oes deur te sien nie,” het Havinga gesê.

Volgens Havinga lyk die situasie eweneens benard op Vivo en Alldays. “Daar is plekke wat beter lyk as die res, maar as dit nie binnekort mooi reën nie, sal dit nie goed wees nie. Die Levubu-omgewing is ook besonders droog as daar in ag geneem word dat ons eintlik ‘n hoë-reënval gebied moet wees. Daar is boorgate wat besig is om probleme te gee…” het hy gesê.

Op ‘n vraag hoe vanjaar se reënvalsyfer met vorige jare s’n vergelyk, het Havinga gesê dit is ‘n moeilike vraag om te beantwoord. “Dit is moeilik om reënvalsyfers te gee. Die rede is dat die Soutpansberg-gebied so ‘n geweldige diverse reënval het, van subtropies tot semi-woestyn. Wat wel die geval is, is dat ons reën al later en later in die seisoen opdaag. As dit wel kom, reën dit in ‘n kort tyd ‘n groot gedeelte van die jaar se reën. Die gemiddeld lyk dus goed en die damme is vol, maar die realiteit is dat die winter, wanneer ons nie reën kry nie, baie lank raak. Ons het op Levubu in Februarie en Maart vanjaar laas goeie reën gehad en nou in November so 40 mm. As die reën gaan wegbly tot Februarie volgende jaar, gaan ons baie sukkel,” het Havinga gesê.

Die heersende droogtetoestand het ook ‘n impak op beplande neut-oeste gehad. “Die neute het skade gekry in Oktober toe ons die onverwagse warm weer gekry het. Sekere kultivars het swaarder gekry as ander, maar oor die algemeen dink ek ons het van ‘n baie goeie jaar tot ‘n gemiddelde jaar beweeg. Die koeler weer wat ons die afgelope week of twee ondervind het ons meer goed gedoen as sleg. Ek dink nie die koeler weer is ongewoon nie. Ons het net so gewoond geraak aan die uitermatige warm, droë weer die afgelope paar jare dat dit vir ons verkeerd voel,” het Havinga gesê.

Havinga het geen illusies van wat hulle as boere nodig het nie. “Ons het ten minste twee jaar se normale reën nodig waar die reën oor die hele seisoen verspreid voorkom om te kan sê die droogte se rug is geknak,” het Havinga gesê. Hy bly optimisties dat die reën sal kom. “Die Here het ons die vermoë gegee om te kan dink en te beplan vir die toekoms. Dit is hoekom die boere hier is om te bly. In God sal ons glo en vertrou, want Hy sal vir ons uitkoms gee,” het Havinga afgesluit.

“Geen noemenswaardige reën het nog hierdie somer in die groter Waterberg- en Soutpansbergdistrik geval nie. Daar is geen weiding vir vee of wild nie en diere gaan daagliks dood van honger. Geen vooruitsig vir reën word op die oomblik voorspel nie. Areas in die noorde wat veral swaar getref word, is Ellisras, Baltimore, Marnitz, Tom Burke, Marken, Maasstroom, Alldays, Dendron en Vivo.” Dit was die woord van Boere in Nood, ‘n nie-winsgewende organisasie, in ‘n pleidooi om hulp in die vorm van skenkings.

Die organisasie is hard besig om, in samewerking met georganiseerde landbou en ander nie-regeringsorganisasies, voer en ander noodsaaklikhede aan boere in droogtegeteisterde gebiede te voorsien. Kontantskenkings, wat veral aangewend word vir vervoer en die aankoop van kragvoer en byvoeding, kan in die Boere in Nood se bankrekening inbetaal word by Eerste Nasionale Bank, tjekrekening 62614580084, met taknommer 250 655. As verwysing moet Limpopo Droogtehulp gebruik word. “Enige persoon wat vervoer beskikbaar wil stel vir die aanry van voer wat reeds geskenk is, of nog skenkings van voer (ook byvoedings soos voerpille, molassestroop, ens.) is ook welkom en word landwyd na ‘n hele aantal ander areas versprei. So, versprei asseblief die boodskap en help hulle om ons boere en diere te help,” het die organisasie gesê.

 

 
 
 

Viewed: 936

 

 
 

Andries van Zyl

Andries joined the Zoutpansberger and Limpopo Mirror in April 1993 as a darkroom assistant. Within a couple of months he moved over to the production side of the newspaper and eventually doubled as a reporter. In 1995 he left the newspaper group and travelled overseas for a couple of months. In 1996, Andries rejoined the Zoutpansberger as a reporter. In August 2002, he was appointed as News Editor of the Zoutpansberger, a position he holds until today.

 
 

More photos... 

ADVERTISEMENT

 
 

ADVERTISEMENT:

 
 

ADVERTISEMENT