ADVERTISEMENT:

 

 
 

Die volwasse boomslangmannetjie is duidelik uitkenbaar aan sy heldergroen kleur, groot swart oë en groot growwe skubbe. Foto verskaf.

Boomslange baie giftig, maar pik nie sommer nie

Date: 16 November 2018 By: 

Inwoners sal sekerlik bly wees om te hoor dat alhoewel boomslange redelik algemeen in die Soutpansberg voorkom, hulle nie gereeld gesien word nie aangesien hulle arboriale (boom-lewende) slange is. Daar is tog gevalle wanneer hulle op die grond aangetref word wanneer hulle van boom verander.

Wêreldwyd het boomslange (Dispholiclus Typus) ‘n reputasie as een van die giftigste slange wat daar is. Ten spyte van hulle reputasie is hulle egter baie interessante slange. “Alhoewel hulle druppel vir druppel die giftigste slang in Afrika is, is byte van hierdie slang baie skaars en gebeur slegs wanneer hierdie slang hanteer word,” het Louis Trichardt slangkenner en -vanger Jan “Slang” van Rooyen gesê.

Boomslange is agtertand-slange, wat beteken hul giftande sit ver agter in die bek - gewoonlik onder die oog. “Boomslange het sterk hemotoksiese gif wat veroorsaak dat die bloed nie kan stol nie en in geval van byte kan mens uit alle oop wonde en openinge bloei, soos uit die mond, neus, oë, ore, ensovoorts,” het Jan gesê. Gelukkig, het van Rooyen bygevoeg, vat die gif redelik lank om te werk. “So, daar is genoeg tyd om by ‘n dokter of hospitaal te kom,” het Jan gesê.

Volgens Jan is boomslange een van die min slange waar mannetjies, wyfies en babaslange uitgeken kan word volgens hul kleur. “Mannetjies is groen van kleur en volwasse slange word dikwels aangesien as groen mambas, wat glad nie hier voorkom nie. Wyfies is bruin van kleur en word dus ook verwar of aangesien vir swart mambas. Jong slange is swart en grys, met ‘n helder, groot, groen oog met ‘n duidelike pupil,” het Jan gesê.

Die maklikste manier om boomslange uit te ken, het Jan verduidelik, is aan hulle groot swart oë, ronde koppe en gekielde (growwe) skubbe. Hierdie slange is nie gebiedsgebonde nie, maar kan in ‘n sekere area bly as daar genoeg kos is. Hulle is aktiewe jagters en hulle prooi sluit verkleurmannetjies, voëls en voëleiers in.

“Wanneer ‘n boomslang vasgekeer word of bedreig voel, sal hy sy keel opblaas om hom groter te laat lyk. Hierdie slang het ook uitstekende sig, onder meer binokulêre visie. My raad is dat wanneer hierdie slang dus aangetref word, kan hy maar net met rus gelaat word. Hy sal self wegbeweeg,” het Jan gesê.

Jan het inwoners uitgenooi om hom te skakel by tel. 081 217 9213 vir meer inligting oor die boomslang. Indien iemand ‘n probleem ondervind met ‘n slang op hul erf of in hul huis, kan Jan ook geskakel word, so ook Frikkie Venter by tel. 082 058 7601. “Ons kan ook gekontak word ten opsigte van slangbyte,” het Jan gesê.

 

 
 
 

Viewed: 1225

 

 
 

 
 

More photos... 

Jong boomslange is swart en grys met ‘n helder, groot, groen oog met ‘n duidelike pupil. Foto verskaf.

Vroulike boomslange is bruin van kleur, ook met ‘n groot swart oog, en word dikwels verwar en aangesien vir ‘n swart mamba. Foto verskaf.

ADVERTISEMENT

 
 

ADVERTISEMENT:

 
 

ADVERTISEMENT