ADVERTISEMENT:

 

 
 

Angus Buchan het reguit gepraat by Saterdag se It’s Time gebedsdag. Hy het ook ‘n ernstige boodskap vir president Cyril Ramaphosa en sy regering gehad. Hy het gesê dat die woord van God openlik bely moet word.

Buchan praat reguit oor toekoms van die land

Date: 02 November 2018 By: Linda van der Westhuizen

Angus Buchan het reguit gepraat by Saterdag se It’s Time gebedsdag. Hy het ook ‘n ernstige boodskap vir president Cyril Ramaphosa en sy regering gehad.  

“As julle by die Here is, sal Hy by julle wees; as julle na Hom vra, sal Hy Hom deur julle laat vind; maar as julle Hom verlaat, sal Hy julle verlaat,” het Buchan uit 2 Kronieke 15:2 gelees. “U kan nie twee here dien nie,” het ‘n emosionele Buchan vir Ramaphosa gesê en bygevoeg  dat hy moet kies of hy die woord van God gaan toepas of na al die stemme rondom hom gaan luister. Laasgenoemde keuse, het Buchan gesê, sal die president laat faal. “Jesus Christus kan nie op die rak langs afgode geplaas word nie … As u die woord van God toepas en in die parlement en publieke vergaderings kan opstaan en sê , ‘so spreek die Here’ sal u in 2019 die volgende president wees. Die Here wil u help, maar u moet Hom openlik bely…”  

Ramaphosa kon nie die gebedsgeleentheid bywoon nie. Kenneth en Lydia Meshoe en Terence Lekota was onder die vele hooggeplaastes wat wel opgedaag het.

Miljoene mense het op hul eie, waar hul woon, saam ingetree vir die land. Intussen het landsburgers van vroeg af na die Rhino Park-vliegveld buite Pretoria gestroom. Massas mense het kilometers ver gestap, swaar belaai met kampstoele, sambrele en koelbokse. Hulle het wydverspreid  oor ‘n gebied van 375 hektaar by een van die 29 klank- en beeldstasies gesit. Die plaaseienaar het sy grond gratis beskikbaar gestel en honderde vrywilligers het baie opgeoffer om die sukses van die dag te verseker.

Almal  het saam in die warm son aanbiddingsliedere gesing of geluister hoe bekende sangers soos Luiso Bala, Henry Pike en Joe Niemand voorgaan. “Die atmosfeer en die gees wat hier geheers het was wonderlik. Dit was die teenwoordigheid van die Heilige Gees,” het Ena Viviers, voorheen van Louis Trichardt en nou van Polokwane, opgemerk. Die hoofverrigtinge het ongeveer kwart voor twee begin.

Buchan het die skare geïnspireer om die land op kreatiewe maniere te herstel. Die Here het ‘n verbond om die land te herstel volgens Jesaja 49 en ander skrifgedeeltes. “Suid-Afrika gaan vorentoe!” het Buchan gesê. Hy kon die belangrikheid van ‘n rein lewe en voortdurende gebed nie genoeg beklemtoon nie.

Elkeen het hardop saam gebid. Baie het in die stof gekniel. Gebede het onder meer gehandel oor sondebelydenis, redding deur Jesus Christus, gebed teen plaasmoorde (asook ander moorde), aborsies,  sedeloosheid en korrupsie, gebed vir gelyke geleenthede, gebed vir die polisie, vir die regering en kerkleiers, vir reën in Limpopo en ander droë plekke en vir die grondkwessie.

Buchan het gesê dat die grond in Suid-Afrika aan die Here behoort en dat God dit aan die mense gee om behoorlik te bestuur. Hy het vir die regering vir wysheid gebid.

Die gevoel van eenheid onder die skare was tasbaar. “Hierdie samehorigheid en almal wat saamstem in die gebed en saam lofprys om Suid Afrika weer op te rig, was vir my die kenmerk van die dag,” het Sarie Schnetler van Louis Trichardt gesê.

Nog ‘n plaaslike inwoner, Sonja Prinsloo, was bly oor die feit dat die basiese beginsels uit die Bybel beklemtoon is. “Nou lê daar werk voor om hierdie dinge te gaan toepas en voete aan die evangelie te gee,” het sy gesê. Gloria Malema van Louis Trichardt het saamgestem. “Ons moet mekaar vergewe,” is die boodskap wat sy gaan uitdra.

 

 
 
 

Viewed: 606

 

 
 

Linda van der Westhuizen

Linda van der Westhuizen has been with Zoutnet since 2001. She has a heart for God, people and their stories. Linda believes that every person is unique and has a special story to tell. It follows logically that human interest stories is her speciality. Linda finds working with people and their leaders in the economic, educational, spiritual and political arena very rewarding. “I have a special interest in what God is doing in our town, province and nation and what He wants us to become,” says Linda.

 
 

More photos... 

Almal het hardop saam gebid tydens die It's Time gebedsgeleentheid in Pretoria op Saterdag, 27 Oktober. Baie het in die stof gekniel. Kragtige gebede vir die land en vir rein lewens het opgegaan. Die amptelike raming van getalle is nog nie beskikbaar nie. 

Terwyl miljoene mense op hul eie, waar hul woon, saam vir Suid-Afrika ingetree het, het die skare wat It's Time Saterdag in Pretoria bygewoon het, die eenheid onder christene in die land gedemonstreer. Hier kan 'n paar van die vurige aanbidders gesien word.

ADVERTISEMENT

 
 

ADVERTISEMENT:

 
 

ADVERTISEMENT