ADVERTISEMENT:

 

 
 

Vra eerder vir hulp voordat dit te laat is

Date: 28 October 2018 By: Andries van Zyl

Oktober is Geestesgesondheidsmaand. Dit is gewoonlik ook die maand wanneer skoliere en studente met hul finale eksamens begin en soos die meeste ouers of versorgers weet, is eksamentyd gewoonlik gelykstaande aan hoë stresvlakke. Dit is veral die geval vir Graad 12-leerlinge, vir wie soveel afhang van die resultate van die laaste eksamen.

“Dit is moeilik om ‘n spesifieke definisie van stres te gee, maar dis veilig om te sê dat dit iets is wat die meeste persone al op een of ander stadium ervaar het,” het Friede Meissenheimer, senior maatskaplike werker by die Louis Trichardt SAVF, gesê. Sy het bygevoeg dat daar in die algemeen konsensus is dat ‘n sekere mate van stres goed is vir ‘n mens, omdat dit ‘n persoon motiveer om sy of haar beste te doen. “Dit is egter nie moontlik om te sê presies hoeveel stres gesond is nie – die vlak wissel van persoon tot persoon,” het Meissenheimer gesê.

Volgens Heidi Smalle, ‘n geregistreerde berader van Louis Trichardt, is daar riglyne vir geestestoestande. Dit is wanneer ‘n bepaalde toestand so ‘n negatiewe impak op ‘n persoon se emosionele en fisiese welstand uitoefen, dat dit daardie persoon verhinder om sy of haar daaglikse take voluit te verrig. Sy het genoem dat mense dikwels nie eers daarvan bewus is dat die fisiese en emosionele komponente van menswees ‘n groot invloed het op mekaar nie. ‘n Voorbeeld hiervan, het Smalle gesê, is wanneer ‘n persoon se emosionele wese angstig is (soos tydens ‘n eksamen), die fisiese liggaam hierdie angs kan ervaar in die vorm van simptome soos ‘n stywe nek, naarheid, verhoogde hartklop en liggaamlike pyne. “Net so kan siekte in die liggaam emosionele gevolge hê soos woede, frustrasie, hartseer of depressie,” het Smalle gesê.

Stres blyk dus ‘n onvermydelike deel van ons leefstyl te wees en daarom is dit belangrik om te probeer om gesonde stresvlakke te handhaaf, en metodes aan te leer oor hoe om stresvlakke op ‘n effektiewe wyse te hanteer. Smalle het derhalwe die volgende aanbeveel om mense te help om oormatige stres effektief te hanteer:

* Leer nuwe hanteringsmeganismes aan om stres te hanteer, byvoorbeeld om toksiese gedagtepatrone te verander;

* Leer die kuns van ontspanning aan, en spreek toestande soos ‘n gebrek aan slaap aan;

* Handhaaf ‘n gesonde leefstyl – oefen, eet gesond en beperk die gebruik van middels soos alkohol en kafeïne;

* Verminder die blootstelling aan negatiewe stimuli soos gewelddadige gedrag wat op televisie gesien word; en

* Wees beter voorbereid vir toetse en eksamens deur behoorlik te beplan en effektiewe studiemetodes toe te pas. Om op die nippertjie te probeer leer en nie vooraf vir hulp te vra nie, vermeerder angsvlakke en veroorsaak onnodige stres.

Volgens Smalle is die ideaal dat elke persoon sal leer om hul eie stresvlakke te bestuur. “Mense het egter dikwels onrealistiese verwagtinge van hulself, wat kan lei tot erge stres en angs as hulle nie ‘n bepaalde situasie kan hanteer nie. Wanneer ‘n persoon hom- of haarself in ‘n situasie bevind waar hul fisiese of emosionele welstand in gevaar is, is dit nodig om professionele hulp te bekom,” het Smalle gesê. 

Persone wat voel hulle is in ‘n situasie waar hulle die stres kan hanteer nie, word uitgenooi of vir Smalle te skakel by tel. 072 520 5504 of 079 506 3984. Alternatiewelik kan hulle ‘n e-pos stuur na [email protected] of vir Friede skakel by tel. 015 516 3841 of 071 628 7949.

 

 
 
 

Viewed: 624

 

 
 

Andries van Zyl

Andries joined the Zoutpansberger and Limpopo Mirror in April 1993 as a darkroom assistant. Within a couple of months he moved over to the production side of the newspaper and eventually doubled as a reporter. In 1995 he left the newspaper group and travelled overseas for a couple of months. In 1996, Andries rejoined the Zoutpansberger as a reporter. In August 2002, he was appointed as News Editor of the Zoutpansberger, a position he holds until today.

 
 

More photos... 

ADVERTISEMENT

 
 

ADVERTISEMENT:

 
 

ADVERTISEMENT