ADVERTISEMENT:

 

 
 

Elze-Marie du Preez en Heidi-Lene Jonck tuis in Louis Trichardt. Hulle werk saam elke dag vir Heide-Lene se herstel.

Heidi-Lene eet haar olifant een hap op 'n slag

Date: 28 October 2018 By: Jo Robinson

Sewe maande nadat ‘n bootongeluk haar verlam en in ‘n koma gelos het, is Heidi-Lene Jonck (23) optimisties en vol vertroue dat sy volkome sal herstel.

Sedert haar die bootongeluk op die Albasinidam om 11 Maart vanjaar, het Heidi-Lene al ‘n ver pad gekom. Sy het veral goeie vordering getoon sedert sy oorgeplaas is na die Lynnmed Sub-Akute Hospitaal in Pretoria waar sy sedert Junie behandel is. Hieroor stem sy en haar sussie, Elze-Marie du Preez, saam. Elze-Marie en haar man, Hagar, het vir Heidi-Lene vanaf die ouderdom van 12 jaar grootgemaak, ná die dood van hulle ma.

Alhoewel Heidi-Lene deur die dokters aanbeveel is om ten minste tot die einde van Desember in die hospitaal te bly, het dit net te duur geword vir die familie. Dit het hulle bykans R50 000 per maand gekos om haar daar te hou. Derhalwe het Heidi-Lene op 30 September teruggekeer huis toe.

Die lang rit van Pretoria na Louis Trichardt was emosioneel dreinerend. Dit was eweneens net so stresvol om vir Heidi-Lene uit die motor tot in die huis te kry. Dit was juis in hierdie stadium dat Elze-Marie gesê het sy wil eerder die handdoek ingooi. “Ek het nie gedink ek sal dit kan hanteer nie,” het Elze-Marie gesê.

Vandag is dit egter duidelik dat Heidi-Lene fluks op pad is na herstel, alhoewel dit maar stadig gaan. Alhoewel dit moeilik is, is sy vasbeslote dat sy weer haarself sal kan versorg. Voor die ongeluk was sy gewoond daaraan om alles self te doen. Sy het gewerk en het haar eie blyplek gehad – totaal onafhanklik.

Heidi-Lene probeer altyd positief bly, alhoewel sy maar somtyds depressief voel. Sy het gesê dat daar ‘n tyd was wat sy geglo het dat sy nooit weer sou loop nie. Ná haar ongeluk het sy ‘n drukseer in die Pietersburg Hospitaal opgedoen op haar voet, wat vir vier maande daar gebly het. Daarna het ‘n spier in haar regterbeen verleng, terwyl ‘n ander verkort het. Dit het daartoe gelei dat sy nie haar voet kon plat neersit nie. Dit het haar verhinder om te loop en medici het die familie teen ‘n operasie geadviseer.

Sedert haar tuiskoms kan Heidi-Lene al haarself uit haar rolstoel opdruk. Met die hulp van intensiewe fisioterapie kon sy hierdie week ook vir die eerste keer haar regtervoet plat op die grond neersit. Sy gebruik egter steeds suurstof en sal ‘n operasie moet kry om littekens in haar keel te verwyder, omdat die suurstofbuis te lank, vir meer as ‘n maand, in haar keel gelos is in die Pietersburg Provinsiale Hospitaal.

Heidi-Lene is vol vertroue dat sy ook weer haar studies om onderwyser te word sal kan hervat. “Jy hou maar vas,” sê Heidi-Lene, “Jy moet klou aan die einddoel. Al is dit seer, al is dit moeilik – jy moet aanhou tot die einde. Niemand kan dit vir jou doen nie.”

Elze-Marie het die boeke gewys wat Heidi-Lene nou gebruik om weer te leer lees - boeke vir kinders wanneer hulle begin leer lees. “Ek sal nooit toelaat dat sy vir een dag agteruitgaan nie. Nie een dag sal ons leer of terapie afskeep nie. Sy het steeds nie gevoel in haar regtervoet nie, en die breuk in haar linkerbeen is nog nie genees nie. Maar sy kom mooi oor die weg in haar rolstoel, en al kry haar brein nog steeds nou en dan ‘n ‘oepsie’, kry ons gereeld ‘n deurbraak wat al die harde werk die moeite werd maak.”

Wat hulle nou nodig het is om aan te hou met die arbeidsterapie en die fisioterapie, en al weet hulle nie vanwaar die geld daarvoor sal kom nie, vertrou hulle op die Here en dat Hy sal voorsien soos Hy altyd het.

Die sussies het weer dankie gesê aan almal wat nog steeds help. Heidi-Lene sê dat sy oorweldig is deur emosie toe sy besef het hoeveel mense omgee of sy lewe of sterwe. Die liefde en sorg wat sy gekry het van die mense van Louis Trichardt, asook uit Limpopo, sal sy nooit vergeet nie. “Ek sal my hele lewe lank dankbaar wees vir die liefde wat mense vir my gewys het wat ek nie eers ken nie.”

Die ongeluk het net ‘n bietjie meer as ‘n week voor Heidi-Lene se verjaarsdag op 23 Maart plaasgevind en haar familie en vriende gaan seker maak dat sy volgende jaar ‘n geskenk kry wat sy nooit sal vergeet nie. “Ed Sheeran is haar gunsteling kunstenaar en ook ‘n Ginger,” sê Elze-Marie, “en volgende jaar het hy vertonings op 23 en 24 Maart. Haar kaartjie is klaar gekoop. Ek het vir haar gesê - sy loop in en ons gaan nie daardie aand die parkering vir gestremde persone gebruik nie.”

Die sussies se liefde vir mekaar is maklik om te sien. Hulle sal nooit opgee nie. Hulle lag en huil saam en hulle is gereed vir die toekoms, wat dit ook al mag inhou. “As mense vra hoe ons aangaan, sê ek altyd dit is soos om ‘n olifant te eet - een hap op ‘n slag. Maak nie saak hoe groot dit is nie, dit is altyd een hap op ‘n slag,” sê Elze-Marie.

Round Table Zoutpansberg 66 ontvang steeds donasies vir Heidi-Lene. Die rekeningbesonderhede, met verwysing Heidi-Lene, is Round Table 66, Eerste Nasionale Bank, rekeningnommer 528 668 32 804 en takkode 260149.

 

 
 
 

Viewed: 557

 

 
 

Jo Robinson

Jo joined the Zoutpansberger and Limpopo Mirror in 2018 pursuing a career in journalism after many years of writing fiction and non-fiction for other sectors.

 
 

More photos... 

ADVERTISEMENT

 
 

ADVERTISEMENT:

 
 

ADVERTISEMENT