ADVERTISEMENT:

 

 
 

Wyle advokaat Thomas Langley (84). Foto verskaf.

Strydros van apartheidsjare oorlede

Date: 21 October 2018 By: Andries van Zyl

Advokaat Thomas Langley, politieke strydros uit die vorige bedeling, is op Vrydag, 12 Oktober, in die ouderdom van 84 jaar oorlede. Dieselfde dag het Suid-Afrikaners afskeid geneem van oud-minister Pik Botha, een van Langley se groot politieke teenstanders in die apartheidsjare, wat in die ouderdom van 86 oorlede is.

Die Soutpansberg was vir dekades huis gewees vir die Langley-familie waar hulle op die plaas Ringer in die Waterpoort-omgewing gebly het. Dit was ook waar Langley oorlede is. “Hy het ‘n geruime tyd gesukkel met sy gesondheid. Die afgelope paar maande het dit maar sleg gegaan,” het sy vrou Yvonne Dinsdag aan die Zoutpansberger gesê.

Alhoewel Langley ‘n gekwalifiseerde advokaat was en ook as advokaat gepraktiseer het, was sy groot passie die politiek. Sy politieke loopbaan het oor meer as drie dekades gestrek, beginnend in die jare van die Natte en Sappe, deur die stormagtige stryd tussen die Nasionale Party (NP) en Konserwatiewe Party (KP), tot in die nuwe bedeling post-1994. Op plaaslike vlak het hy destyds die Soutpansberg-setel vir die KP opgeraap deur vir NP-kandidaat Heine Kruger van Tzaneen uit te stof. Hy is ook ereburger van Louis Trichardt gemaak deur voormalige burgemeester Johan Moolman.

Langley het in 1966 die politiek betree as lid van die NP. “Hy was een van die jongste LV’s [Lid van die Volksraad] ooit om die Volksraad te betree,” vertel Yvonne. Die romanse met die NP sou egter nie hou nie. Hy was een van die Volksraadslede wat destyds saam met minister Andries Treurnicht weggebreek het om die KP in 1982 te stig. “Toe die KP begin het, het ons ons goed gevat en geloop,” het Yvonne gesê.  

Langley was ‘n formidabele politikus. “Hy was verskriklik beginselvas en hy het nie van sy beginsels afgewyk nie. As ‘n ding vir hom skeef begin lyk het, dan het hy gesê: 'Ek is klaar hiermee' … die ding is, niemand kon hom koop nie,” het Yvonne gesê.

Langley was vir jare as KP LV lid van die Buitelandse Sakekomitee. “Dit is hoekom hulle so koppe gestamp het, want Pik Botha was by Buitelandse Sake,” het Yvonne gesê.

Langley se laaste amptelike pos in die politiek was as Suid-Afrikaanse ambassadeur in Praag in Tsjeggië. Hy is deur oud-President Nelson Mandela, op aanbeveling van generaal Constand Viljoen, in die pos aangestel en het vanaf 1995 tot 1999 as ambassadeur daar gedien.

Nadat Langley uit die politiek getree het, het hy en Yvonne voltyds op hul plaas gaan bly. Sy dood laat ‘n groot leemte in Yvonne-hulle se lewens. Die egpaar was vir 55 jaar getroud en drie kinders, Stephanie, David en Cronjé, is uit die huwelik gebore.

“Hy het self vir my gesê hy weet hy is ‘n baie veeleisende man, maar hy het soveel gedoen vir mense. Hy was ‘n komplekse mens, maar hy het ‘n baie goeie hart gehad ... Hy het my liefgehad sonder voorbehoud...” het Yvonne gesê terwyl sy die trane probeer terughou het. Toe voeg sy by: “Ek het eendag, toe dit so woes gaan in die politiek, die foon opgetel en vir hom gevra: 'Weet jy aan watter lied dink ek nou?' Toe sê hy, 'Ja, Ruwe storme breek in woede'. Toe sê ek: ‘Mooi so!’ Baie keer, selfs in die kar, dan vra ek vir hom of hy weet waaraan dink ek. Dan sê hy vir my of ek vir hom,” het Yvonne gesê.

Never a dull moment...” So beskryf Yvonne hul lewe saam. “Weet jy, ons het 55 jaar saam gehad en ons het drie lewens in een leeftyd ingedruk. Dit was nie altyd ‘n baie rustige lewe nie, maar dit was nooit vervelig nie ... Ek en hy het eendag gepraat oor als wat ons gedoen het in die lewe. Toe sê hy vir my: ‘Yvonne, ons het ver gedraai’. Ek dink dit beskryf ons lewe saam ... Ons het ver gedraai en ek dink ons het mekaar goed aangevul. Ek is baie jammer hy is weg,” het Yvonne gesê.

Wyle Thomas Langley word Donderdag, 18 Oktober, om 11:00 in die familiekerkhof op die plaas Ringer begrawe. Hy word oorleef deur sy vrou Yvonne, kinders Stephanie, David en Cronjé, twee kleinkinders en broer Peet.

 

 
 
 

Viewed: 1084

 

 
 

Andries van Zyl

Andries joined the Zoutpansberger and Limpopo Mirror in April 1993 as a darkroom assistant. Within a couple of months he moved over to the production side of the newspaper and eventually doubled as a reporter. In 1995 he left the newspaper group and travelled overseas for a couple of months. In 1996, Andries rejoined the Zoutpansberger as a reporter. In August 2002, he was appointed as News Editor of the Zoutpansberger, a position he holds until today.

 
 

More photos... 

ADVERTISEMENT

 
 

ADVERTISEMENT:

 
 

ADVERTISEMENT