ADVERTISEMENT:

 

 
 

Wat die klomp weldoeners veral getref het was die groot hoeveelheid kinders wat in die “blanke” plakkerskampe in en om Pretoria grootword. Foto verskaf.

Inwoners help verlig nood in blanke plakkerskampe

Date: 19 October 2018 By: 

Terwyl baie inwoners ‘n lekker blaaskans geniet het tydens die kort Oktober-skoolvakansie, al was dit met Jan Tuisbly se Karretjie, was daar ‘n paar inwoners wat moeite gedoen het om die lot van ander beter te maak.

Danksy goeie ondersteuning ten opsigte van skenkings aan die #JyKanHelp uitreik na blanke plakkerskampe het 35 voertuie met kos en klere die naweek van 6 Oktober na Gauteng vertrek. Onder die voertuie was ‘n bakkie en sleepwa met bykans twee ton se kos, klere, skoene, beddegoed, bababenodighede en speelgoed wat bymekaar gemaak is vanuit die Polokwane, Louis Trichardt en Musina omgewing.

Louis Trichardt inwoner Annette Kennealy en Steve Moolman, ‘n sakeman van Polokwane, het die vrag goedere deurgevat. “Ons drie dorpe het alle verwagtinge oortref,” het Annette gesê.

Daar is tans ‘n geweldige toename in “blanke” plakkerskampe regoor Suid-Afrika. “Uit die aard van die saak kon ons nie almal bystaan nie en kon ons net twee van hierdie kampe besoek,” het Annette gesê.

Die een kamp, Sonskyn Hoekie, is op privaatgrond geleë met net meer as 180 inwoners,  waarvan 45 kindertjies is. Volgens Annette was die nood en swaarkry ontstellend. “Daar was 'n klein bouvallige geboutjie wat dien as 'n kerk en ook 'n klein kleuterskooltjie,” het Annette gesê.

Die ander kamp wat besoek is, was Sonskyn Heuwel naby die Bon Accord Dam waar 240 mense woon. “Die kamp is baie meer georganiseerd in vergelyking met Sonskyn Hoekie. Ons het baie geleer oor die mense se behoeftes en hoe dit behoort gedoen te word. Een van die wanpersepsies wat bestaan is dat die mense net plak. Dit is nie die geval nie. In Sonskyn Hoekie betaal die mense R500 per maand vir hul plekkie, sonder krag. Dié met krag betaal R700 per maand. Dit is die geval by al die blanke plakkerskampe,” het Annette gesê.

Volgens Annette het meeste van die blankes wat daar beland hul werk verloor. “Sommige mense kom wel weer daar uit en kom weer op hul voete, maar ander verloor hul selfvertroue en moed. Wat my die meeste gevang het, was die aantal kinders wat daar grootword,” het Annette gesê.

Annette het gesê dat alhoewel die kampe haglik voorkom, is dit skoon en relatief netjies. “Party van die hout pondokkies is versier met optel-ornamente en plantjies. Daar was ook baie honde wat in relatiewe goeie kondisie was. Baie van die mense het nie kom gesig wys nie, wat te verstane is as mens dink hulle trots is geskend,” het Annette gesê.

Annette is van mening dat daar na projekte gekyk moet word om hierdie mense te bemagtig. “Dalk iets soos om die dames te leer om lappieskomberse te maak met toepaslike skenkings vir dit,” het Annette gesê. 

Intussen, het Annette gesê, het hulle verneem dat daar twee soortgelyke kampe aan die ontstaan is in Polokwane. “Ons het dus besluit dat wanneer ons dit weer doen, ons eerder ons eie gebied gaan bystaan,” het Annette gesê.

Groot dank is uitgespreek teenoor almal wat die projek ondersteun het. Dit sluit in Zalna Greef en Colene Vogel, wat die skenkings in Musina behartig het, en al die mense van Musina wat bygedra het, die Louis Trichardt mense, René du Preez vir haar skenking en harde werk, Sophia Hendriks, Anel Kahts, Miggie van Tonder, Nellie du Preez, Hans Marks, Miems Paulsen, Inga Gilfillan, Retha Pieterse, Gert van Madigra, Dirk Meisenheimer senior, Pierre en Helena van den Heever wat die skenkings vanaf Musina vervoer het, Marisa Loock, Menke Grundlingh, me. Konig en Nanette Geerts wat 'n hele vrag uie geskenk het, en die Polokwane mense, wat ingesluit het Steve Moolman van Airmatters vir die vervoer van al die skenkings na Pretoria, Wilma van der Lith, Roza Fritz en Danine de Beer.

 
 
 

Viewed: 7459

 

 
 

 
 

More photos... 

‘n Paar van die plaaslike spanlede wat gehelp het om die amper twee ton se kos en klere in Louis Trichardt, Musina en Polokwane in te samel as deel van die #JyKanHelp uiteik. Afgeneem kort voor hulle vertrek na Pretoria is René du Preez (links), Annette Kennealy (middel) en Steve Moolman (regs). Foto verskaf.

Moedverloor se vlakte … Inwoners van een van die plakkerskampe wat besoek is staan tou om hulle beurt te kry ten opsigte van die skenking van kos, klere en ander benodigdhede. Foto verskaf.

ADVERTISEMENT

 
 

ADVERTISEMENT:

 
 

ADVERTISEMENT