ADVERTISEMENT:

 

 
 

Louis Trichardt steeds Louis Trichardt

Date: 14 October 2018 By: Andries van Zyl

Louis Trichardt bly steeds Louis Trichardt, nadat die Noord Gauteng Hooggeregshof Dinsdag die Makhado Munisipaliteit se aansoek om die naamsveranderingsproses weer te open met koste van die hand gewys het.

Die stryd oor Louis Trichardt se naam duur nou al 16 jaar en ná Dinsdag se Hooggeregshof uitspraak is dit die derde keer dat die Staat bloedneus geslaan word in hul pogings om Louis Trichardt se naam na Makhado te verander.

Die stryd het sy oorsprong in 2002, toe die destydse burgemeester, wyle rdl. Brighton Tlakula, aangekondig het dat die dorp se naam gaan verander. ‘n Paar maande later, in Junie 2003, het die destydse Minister van Sport, Kuns en Kultuur, dr. Ben Ngubane, aangekondig dat die dorp se naam na Makhado gaan verander. Dit is ook so in die Staatskoerant afgekondig.

Die plaaslike Voorsittersvereniging (VV) het egter tot die stryd toegetree met ‘n aansoek vir die tersydestelling van die naamsverandering, maar Regter Legodi van die Hooggeregshof het teen die VV beslis. Die VV het daarna die saak na die Appèlhof geneem. Die saak is op 19 Maart 2007 aangehoor, met uitspraak wat op 29 Maart 2007 gelewer is ten gunste van die VV. Die hof het beslis dat die Minister se besluit om die dorp se naam te verander tersyde gestel word op grond van onvoldoende konsultasie en Louis Trichardt was weer Louis Trichardt.

Die Makhado Munisipaliteit het egter weer begin met ‘n poging om die naam na Makhado te verander en, op aanbeveling van die Suid-Afrikaanse Geografiese Name Raad, het die Minister van Sport, Kuns en Kultuur in daardie stadium, mnr. Paul Mashatile, weer die dorp se naam na Makhado verander.

Weer het die VV toegetree tot die stryd. Hulle het ‘n hersieningsaansoek in die Hooggeregshof gebring dat die Minister die rekord moet beskikbaar stel van inligting wat hom tot sy besluit aangespoor het. Die rekord wat die VV egter ontvang het, was nie volledig nie en die VV het toe ‘n aansoek gebring dat die Minister verplig word om die rekord met die nodige inligting aan te vul. Dit is belangrik om te noem dat die respondente in die VV se hersieningsaansoek eerstens die Minister van Kuns en Kultuur was, tweedens die voorsitter van die Geografiese Name Raad en derdens die Makhado Munisipaliteit was. Die VV het reeds toe aangedui dat hulle nie enige regsaksie van die munisipaliteit verlang nie, maar hulle bloot aangeheg het as respondent omdat die munisipaliteit belang het by die saak. Daar was egter ‘n voorwaarde: Die VV sou ‘n kostebevel aanvra sou enige partye, insluitend die munisipaliteit, die hersieningsaansoek opponeer.

Die Minister het ‘n sekere tydperk gehad om die rekord van die besluitnemingsproses beskikbaar te maak. Daar was egter talle vertragings, wat die VV genoop het om ‘n tussentydse aansoek te bring om die Minister te verplig om die rekord aan te vul. ‘n Hooggeregshofdatum is vir 30 Oktober 2014 geskeduleer om uitslag te gee oor die VV se hersieningsaansoek. ‘n Paar dae voor die hofdatum het die Minister van Kuns en Kultuur in daardie stadium, mnr. Nathi Mthethwa, egter aangedui dat hy eerder met die VV gaan skik oor hulle hersieningsaansoek, omdat hy nie oortuig is daarvan was dat die rekord oor genoegsame bewyse beskik dat daar voldoende gekonsulteer is oor die naamsverandering nie. Hierdie skikking is op 30 Oktober 2014 deur die Hooggeregshof bekragtig en die kantoor van die Minister het by monde van hul regverteenwoordiger, me. Doris Tshepe, gesê dat die Minister volstaan by die hof se beslissing om die tweede naamsverandering na Makhado tersyde te stel. Die minister het ook aangedui dat hy die VV se regskostes ten opsigte van hul hersieningsaansoek sou betaal.

Dit het die een probleem opgelos, maar nie die kwessie van die VV se kostes ten opsigte van hul tussentydse aansoek om die rekord aan te vul nie. In daardie stadium was die proses bloot ‘n akademiese oefening, aangesien die Minister toe reeds aangedui het dat die rekord nie volledig was nie. Uitspraak oor die kostes van hierdie aansoek is uitgestel. Die VV het die kwessie oor die kostebevel na die Hooggeregshof verwys, met Regter Legodi wat op 19 Junie 2015 gelas het dat die Minister van Kuns en Kultuur ook hierdie kostes van die VV moes betaal.

Amper ‘n jaar na die 30 Oktober 2014 uitspraak, op 16 Oktober 2015, het die Makhado Munisipaliteit ‘n aansoek by die hof ingedien dat die VV se hersieningsaansoek wat gelei het tot die Hooggeregshof se Oktober 2014 uitspraak, heropen moes word. Hulle het in hul aansoek gevra dat die hof die skikking tussen Minister Mthethwa en die VV tersyde moes stel, om vir hulle kans te gee om die VV se hersieningsaansoek te opponeer. Die munisipaliteit het aangevoer dat hulle nie geweet het dat hulle self die aansoek moes opponeer nie, maar onder die indruk was dat die Minister van Kuns en Kultuur en die voorsitter van die Geografiese Name Raad dit namens hulle gaan doen. Hierdie aansoek het Dinsdag voor die Hooggeregshof gedien, feitlik drie jaar nadat dit gebring is.

Die VV het weer die munisipaliteit se aansoek teëgestaan. Hulle het geargumenteer dat die munisipaliteit te lank geneem het om hul aansoek te bring en dat hul aksies die finaliteit van die regsproses skend. Die VV het ook aangevoer dat die munisipaliteit nie bevoeg is om so ‘n aansoek na die hof te bring nie, aangesien hulle nooit die aanvanklike hersieningsproses geopponeer het nie.

Regter Neil Tuchten het Dinsdag, 9 Oktober, die VV gelyk gegee en die munisipaliteit se aansoek by wyse van ‘n bestraffende kostebevel van die hand gewys. Daar is onder meer deur die hof uitgewys dat die munisipaliteit oneerlik was in van hul beëdigde verklarings wat by die hof ingedien is, veral wat betref hul argument dat hulle nie geweet het dat hulle self die aansoek moet opponeer nie. Die bestraffingskostebvel is op ‘n prokureur tot kliënt basis toegestaan.

Mnr. André Naudé, voorsitter van die VV, het by navraag gesê hulle is verheug oor die uitspraak. “Ek waardeer die kompliment van die regter wat opgemerk het dat die VV korrek opgetree. Ek self waardeer ook die integriteit wat die VV se bestuur en sy lede aan die dag gelê het om almal in Suid-Afrika se kultuurgoedere te beskerm. Ek bedank graag die VV en hul bestuur vir al die harde werk wat hulle ingesit het,” het Naudé gesê.

Sedert Dinsdag se uitspraak het die Zoutpansberger herhaaldelik probeer om kommentaar vanaf die Makhado Munisipaliteit te verkry. Alle versoeke tot kommentaar was teen druktyd steeds onbeantwoord.

Advokaat D. du Preez (SC) het namens die VV opgetree met Coxwell, Steyn, Vise en Naudé Inc as opdraggewende prokureurs. Advokaat H. F. Jacobs (SC) het namens die Makhado Munisipaliteit opgetree met Hammann en Moosa as opdraggewende prokureurs.

 
 
 

Viewed: 647

 

 
 

Andries van Zyl

Andries joined the Zoutpansberger and Limpopo Mirror in April 1993 as a darkroom assistant. Within a couple of months he moved over to the production side of the newspaper and eventually doubled as a reporter. In 1995 he left the newspaper group and travelled overseas for a couple of months. In 1996, Andries rejoined the Zoutpansberger as a reporter. In August 2002, he was appointed as News Editor of the Zoutpansberger, a position he holds until today.

 
 

More photos... 

ADVERTISEMENT

 
 

ADVERTISEMENT:

 
 

ADVERTISEMENT