ADVERTISEMENT:

 

 
 

Callie en Petro Erasmus was Dinsdagoggend vir die derde keer in net bietjie meer as 10 jaar die slagoffers van ‘n gewapende roof op hul kleinhoewe in Levubu. Foto: Facebook.

Egpaar op kleinhoewe vir derde keer geroof

Date: 09 September 2018 By: Andries van Zyl

‘n Egpaar van Levubu was Dinsdagoggend kort na agtuur vir die derde keer in net meer as 10 jaar die slagoffers van ‘n gewapende aanval en roof op hul kleinhoewe.

“Ons is nou al bietjie vuisvoos,” het die 62-jarige Petro Erasmus Woensdag aan die Zoutpansberger gesê.

Petro vertel dat sy, haar huisbediende en tuinwerker alleen by die huis was. Haar man Callie was reeds by sy besigheid, Levubu Vulstasie. Sy het in die huis gesit en skielik iets gehoor. “Toe ek opkyk, kyk ek reg in ‘n geweerloop vas. Die man wou weet waar die ander mense is,” herleef Petro die nagmerrie-ondervinding.

Haar aanvaller was een van vier booswigte wat toegang tot Petro-hulle se huis verkry het deur die heiningdraad te knip. Hulle het Petro, haar tuinwerker en bediende se hande agter hulle rûe met draad vasgebind en op hul mae laat lê. Vir Petro het hulle toe kamer toe geboender, waar hulle die kaste geplunder het. “Die een ou het vir my gesê hulle soek nog geld, anders skiet hy my. Ek het vir hom gesê daar is nie geld nie. Hulle het seker later besef daar is nie nog geld nie,” het Petro gesê.

Vir sowat 20 minute het die rowers die huis deursoek. Hulle het daarna met hul buit in die egpaar se BMW X5 op die vlug geslaan.

In die huis kon Petro en haar tuinwerker hulle intussen loswikkel uit die drade uit waarmee hulle vasgebind is. Petro het onmiddellik die plaaswag en die polisie van die roof in kennis gestel. “Dit was absoluut ongelooflike om te sien hoe goed die plaaswag reageer het. Binne ses minute is ons voertuig deur ‘n plaaswaglid opgemerk, en vandaar het dinge vinnig gegaan,” het Petro gesê.

Die vinnige reaksie van die plaaswag het daartoe gelei dat die egpaar se voertuig nog daardie selfde oggend by Dzwerani Dzondo naby Thohoyandou teruggevind kon word, met baie van die gesteelde items steeds daarin. “Jy sal nie glo nie, die enjin het nog geluier toe die voertuig teruggevind is,” het Petro vertel.

Nie al die items wat gesteel is, is egter teruggevind nie. Die kontant en vuurwapens wat geroof is, is saam met die rowers nog soek. Die vuurwapens het ingesluit twee gelaaide rewolwers en ‘n .223 geweer met ammunisie.

Die aanval het Petro en Callie erg ontstel. “Mens verwag mos nie dat iemand jou agtuur in die oggend gaan beroof nie,” het Petro gesê. Dinsdag se aanval by hul huis was die derde soortgelyk gewapende roof wat die egpaar die afgelope 11 jaar oorleef het.

In November 2007 is Callie en Petro deur ‘n gewapende man in hul huis oorval. Die gepaar het verwoed teruggeveg en kon daarin slaan om self die verdagte, Levy Baloyi, vas te trek. In die proses het Baloyi egter vir Callie twee keer geskiet en hy was gelukkig om dit te oorleef. Baloyi is in Julie 2010 lewenslank tronk toe gestuur vir die aanval op Callie-hulle, asook ander soortgelyke aanvalle in die omgewing. Baloyi was reeds uit op borg op hierdie soortgelyke aanvalle toe hy Callie aangeval en geskiet het. Presies sewe jaar ná hierdie aanval is die egpaar weer aangeval en beroof. Dié keer het niemand egter seergekry nie, maar tot op hede is nog niemand in verband met hierdie roof aangekeer nie.

“Ons hanteer dit maar, want wat gaan jy maak? Gelukkig is my geloof sterk. Toe ek daar gelê het, het ek net bly bid en ons is nie beseer nie. Ook die vorige keer is ons nie beseer nie. Jy moet maar net jou kop optel en positief bly leef. Dit help nie jy gaan sit op ‘n hoop nie,” het Petro gesê. Dit is duidelik dat geloof ‘n groot rol gespeel het by Petro-hulle se bewaring. Sedert die aanvalle begin het, het die egpaar hulle veiligheid ernstig opgeskerp. Dinsdag was egter weereens ‘n bewys dat, ten spyte van veiligheidsheinings en palissades, dit geen waarborg is dat mens veilig is nie.

Petro en Callie het hul opregte dank uitgespreek teenoor al die lede van die plaaswag wat so blitsig op haar noodroep gereageer het. “Ons is baie dankbaar en het groot lof vir almal van die plaaswagte. Dit was voorwaar ongelooflik om te sien hoe vinnig hulle reageer het,” het Petro gesê.

Provinsiale polisiewoordvoerder kol. Moatshe Ngoepe het by navraag die voorval bevestig en gesê dat ‘n saak van huisroof deur die polisie ondersoek word. Teen druktyd was hulle nog op soek na die verdagtes.

 
 
 

Viewed: 5000

 

 
 

Andries van Zyl

Andries joined the Zoutpansberger and Limpopo Mirror in April 1993 as a darkroom assistant. Within a couple of months he moved over to the production side of the newspaper and eventually doubled as a reporter. In 1995 he left the newspaper group and travelled overseas for a couple of months. In 1996, Andries rejoined the Zoutpansberger as a reporter. In August 2002, he was appointed as News Editor of the Zoutpansberger, a position he holds until today.

 
 

More photos... 

ADVERTISEMENT

 
 

ADVERTISEMENT:

 
 

ADVERTISEMENT