ADVERTISEMENT:

 

 
 

Die 15-jarige Koben Hofmeyr het begin met ‘n radikale behandeling wat hom die afgelope week toegelaat het om weer te “loop”. Dit het hy reggekry met behulp van ‘n tegnologies gevorderde Ekso-pak. Sedert hy behandeling met die pak begin kry het, kon hy daarin slaag om sy regterbeen op te tel. Foto’s verskaf.

Koben “loop” weer

Date: 06 August 2018 By: Andries van Zyl

Daar heers groot vreugde in die Hofmeyr-gesin van Louis Trichardt, met die nuus dat die 15-jarige Koben al meer tekens van herstel toon.

Koben, wat as kaptein van Hoërskool Louis Trichardt se o.16-rugbyspan op 19 Mei ‘n ernstige C6-nekwerwel besering opgedoen in ‘n wegwedstryd teen Hoërskool Warmbad,  het geen bekendstelling meer nodig nie, en ook nie sy merkwaardige verhaal van herstel nie.

Die afgelope week was daar nog goeie nuus – Koben kon die bobeenspier in sy regterbeen beweeg en sy been daarmee optel! “Ek sê vir jou, dit is ‘n wonderwerk ... Dit was nog heeltyd die linkerkant wat die sterker kant was. Nou begin die regterkant, die kant wat hulle gesê het die meeste skade gekry het ... Dit is hoekom ek glo dit is wonderwerke. Ek is met jou dood ernstig. Dit is ernstig hoe ek voel,” het ma Annelize Woensdag gesê.

Pa Trompie was eweneens dankbaar vir die goeie nuus. “Dit is fantasties goeie nuus! Daar is ouens wat dieselfde beserings het as hy wat vir ‘n paar jaar niks beweging het nie. Dit is grootliks te danke aan die Genade van Bo af en al die gebede van ons gemeenskap. Dit het ook baie te doen met Koben se positiewe ingesteldheid en sy wil om gesond te word,” het Trompie gesê.

Koben het die afgelope week met ‘n radikale nuwe behandeling begin. Trompie glo ook dat dit dramaties bydra tot Koben se vordering. “Wat intussen gebeur het, is Koben het met ‘n ‘Ekso-pak’ begin loop. Dit is die beste en nuutste tegnologie tans beskikbaar. Niemand weet nog Koben het met die behandeling begin nie. Julle is die eerste wat daarvan hoor. Koben het ‘n paar sessies in die pak gehad en dit was toe dat sy bobeenspier begin beweeg het. Ek kan dit net toeskryf aan die Ekso-pak, want die pak laat hom fisies loop en die brein sê vir die liggaam: 'Ek onthou dit',” het Trompie gesê.

Koben self is ook heel beïndruk met die Ekso-pak. “Hy het gister [Dinsdag] geloop. Hy sê dit is die ongelooflikste gevoel om weer te staan en iemand in die oë te kan kyk,” het Annelise gesê.

Trompie verduidelik dat hierdie eksoskelet-pak, vervaardig deur Ekso Bionic, die menslike looppatroon naboots. “Dit stel die onderbewussyn in staat om die nodige konneksies te maak, sodat die norm vinniger en makliker bereik kan word. Die pak hou ook die voordeel in dat die liggaam as ‘n geheel in ‘n goeie toestand bly, sodat die pasiënt maksimum beterskap kan bereik. Sielkundig hou die terapie ook baie voordeel in,” het Trompie gesê.

Te midde van Koben se goeie vordering het Trompie egter gesê daar is mense wat ietwat van ‘n wanindruk het van Koben se toestand. “Ek wil dit net noem dat Koben nog nie kan loop nie. Hy kan ook nog nie self staan nie. As hy staan, soos mense in die foto’s sien, staan hy in ‘n loopraam. Hy het nog ‘n baie ver pad om te gaan,” het Trompie gesê.

In hierdie stadium het Koben gebruik van sy twee hande en al sy vingers, sy twee polse en twee maagspiere wat medici kon identifiseer. Hy het ook gevoel in altwee voete se groottone en die toon direk langsaan. Sy regterbeen se bobeenspier wat hy kon beweeg, is Koben se jongste “sukses”.

“Koben reageer baie goed op hierdie [Ekso-pak] behandeling. Hy het vir my gisteraand [Dinsdag] laat gesê: 'Pappa, jy moet asseblief vir my so ‘n ding koop'. Toe sê ek vir hom: 'My kind, ons is te arm om dié ding te koop',” het Trompie gesê.

Die goeie nuus is egter dat die verskaffer van die Ekso-pak ‘n aanbod aan Trompie gemaak het. “Hulle het vir my gesê dat as ons 60 pasiënte kan identifiseer in Limpopo teen R4 000 per maand om hulle weer te help loop, dan kry hulle vir ons so ‘n pak in Polokwane. As daar mense is wat sal belangstel in hierdie behandeling, moet hulle kontak maak met my,” het Trompie gesê.

In hierdie stadium betaal die mediese fonds nie vir die pak nie. Hulle betaal slegs die terapeut wat die behandeling toepas. “Tans ry mense van hier af na Pretoria vir behandeling. Dit werk ongelooflik duur uit. Dit is hoekom ons moet probeer om ‘n pak in Polokwane te kry,” het Trompie gesê. Wat kostes betref, maak dit nie vir Koben saak nie. Hy wil net weer loop. “Koben sê hy sal enige iets doen om die R4 000 bymekaar te kry om ‘n maand in die pak te loop,” het Trompie gesê.

Elke dag bly daar steeds ‘n glimlag op Koben se gesig, alhoewel hy al baie huis toe verlang. Sedert sy ongeluk was hy nog nooit weer tuis nie. Daar is egter sprake dat hy dalk eersdaags bietjie by die huis kan kom kuier.

Intussen het Trompie inwoners gevra om voor te gaan om vir Koben te bid, veral met die nuus dat die mediese fonds planne het om Koben hierdie week te ontslaan. “Bid vir ons dat ons ‘n verlenging van sy behandeling kan kry. Ons het reeds motiverings ingedien, want hy is nou net besig om te herstel. Ons kan nie nou omdraai nie. Almal moet maar net bid dat die medies moet aangaan om hom te behandel,” het Trompie gevra. Hy kan geskakel word by tel. 084 400 0468.

 
 
 

Viewed: 546

 

 
 

Andries van Zyl

Andries joined the Zoutpansberger and Limpopo Mirror in April 1993 as a darkroom assistant. Within a couple of months he moved over to the production side of the newspaper and eventually doubled as a reporter. In 1995 he left the newspaper group and travelled overseas for a couple of months. In 1996, Andries rejoined the Zoutpansberger as a reporter. In August 2002, he was appointed as News Editor of the Zoutpansberger, a position he holds until today.

 
 

More photos... 

Shared caption

ADVERTISEMENT

 
 

ADVERTISEMENT:

 
 

ADVERTISEMENT