ADVERTISEMENT:

 

 
 

Die ou pastoriewoning van die Hervormde Kerk. Dié foto is afkomstig vanuit die Transnet Gedenkbiblioteek.

Bekende skrywer het eers in dié pastorie gebly

Date: 05 August 2018 By: Anton van Zyl

Die geskiedenis kan soms die mees onverwagte skatte oplewer en, ten spyte van wat sommige mense mag dink, is dit nooit vervelig nie. Verlede week se foto van ‘n huis in Louis Trichardt wat uit 1952 dateer, is een so ‘n voorbeeld.

In verlede week se uitgawe het ons ‘n foto gepubliseer wat uit die Transnet Gedenkbiblioteek se versameling afkomstig is. Ons het die lesers gevra om die huis te identifiseer en ons te sê waar dit geleë is. Die uitdaging was vir baie lesers nie te ingewikkeld nie en hulle het ons vinnig laat weet dat dit die Hervormde-gemeente se ou pastoriewoning op die hoek van Forestryweg en Louis Bothalaan is.

Een van die lesers, mnr. Neels van der Merwe, het ons vertel dat sy destydse skoonpa, ds. J.M. Labuschagne, die tweede predikant was wat in 1961 in die huis ingetrek het. Die huis is in die vroeë vyftigerjare deur die gemeente gebou. Interessanter was egter dat die eerste predikant wat daar gewoon het ‘n ene Jacobus Phillipus Benjamin Venter was. Hy het laterjare ‘n skrywer geword, het mnr. Van der Merwe vertel.

Dit blyk egter dat die eerste inwoner van dié pastoriewoning niemand anders as die bekende skrywer van jeugboeke, Ben Venter was nie. Sy eerste boek, Waterbobbejaan, is in 1968 gepubliseer en is bekroon met die SA Akademie vir Wetenskap en Kuns se Scheepersprys vir Jeugliteratuur.

Een van Ben Venter se gewildste boeke, veral onder jong lesers, was Bubo, wat in 1970 uitgegee is. Die storie handel oor ‘n gevlekte-ooruil uit die Soutpansberge. Dit vertel die storie van twee dierekarakters, naamlik Bubo en Falco, ‘n vleivalk.

Vir meer as ‘n dekade het Ben Venter se stories oud en jonk vermaak. Die bekende literêre akademikus, wyle prof. JC Kannemeyer, skryf oor hom: “Met Pels (1969; oor 'n otter), Bubo (1970; oor ‘n ooruil en vleivalk), Salmaklak (1971; 'n legende van die Vaalrivier), Frik (1973), Stoker (1976) en Pòana en sy ratel (1979) sit Venter sy uitbeelding van diere en liefdevolle herinnering aan die verbygegane geslag van landskoonmakers met hulle swaarkry en avontuur in goeie jeuglektuur voort.”

Sy laaste boek, Haelstorm, is in 1981 gepubliseer. Ben Venter is in 1923 gebore in Lichtenburg in die destydse Wes-Transvaal. Hy het skoolgegaan op Klerksdorp waarna hy sy graad in teologiese studies voltooi het aan die Universiteit van Pretoria. Hy was vir ‘n tyd lank predikant by verskeie Hervormde gemeentes, onder andere op Louis Trichardt. Daarna het hy 'n skakelbeampte geword en  in 1967 tot die Staatsdiens toegetree.

Sy spoor loop egter hier dood en ons kon nie uitvind of hy nog lewe en wat hy gedoen het ná 1981 nie.

 

 
 
 

Viewed: 1157

 

 
 

Anton van Zyl

Anton van Zyl has been with the Zoutpansberger and Limpopo Mirror since 1990. He graduated from the Rand Afrikaans University (now University of Johannesburg) and obtained a BA Communications degree. He is a founder member of the Association of Independent Publishers.

 
 

More photos... 

Ben Venter, bekende skrywer van jeugboeke soos Waterbobbejaan en Bubo, afgeneem by een van die uile waaroor hy geskryf het.

Die huis in Louis Bothalaan soos dit vandag lyk.

ADVERTISEMENT

 
 

ADVERTISEMENT:

 
 

ADVERTISEMENT