ADVERTISEMENT:

 

 
 

Nog ‘n mylpaal vir Koben was op 9 Julie toe hy vir die eerste keer na sy besering weer kon regop staan met behulp van ‘n staanraam. “Toe hy daar in die gimnasium staan, toe sê hy vir my: 'Jissie pa! Dit is lekker om weer my voete onder my te voel!'” het pa Trompie (regs) gesê. Foto verskaf.

Koben reageer goed op rehabilitasie

Date: 23 July 2018 By: Andries van Zyl

Twee maande nadat ‘n besering op die rugbyveld die 15-jarige Koben Hofmeyr van Louis Trichardt gedeeltelik verlam gelaat het, staan hy en sy familie vas in die geloof dat hy weer sal loop.

Koben het op 19 Mei as kaptein van Hoërskool Louis Trichardt se o.16-rugbyspan teen Hoërskool Warmbad uitgedraf. Hy het tydens die wedstryd ‘n ernstige nekbesering opgedoen.

Koben is in die Groenkloof Hospitaal in Pretoria opgeneem. Die dokters het bepaal dat sy C6-nekwerwel uitgeskuif het en dit moes met behulp van twee operasies weer teruggeplaas word. Die besering het egter tot gevolg gehad dat Koben slegs 60% longfunksie het en verlam is in sy polse en hande, asook in sy onderlyf.

Presies ‘n maand ná Koben se besering is hy op 20 Junie na die Muelmed Medikliniek se rehabilitasiesentrum oorgeplaas, sodat daar met rehabilitasie begin kon word. ‘n Maand later, het Koben en sy ouers baie om oor opgewonde te wees.

“Alles wys daar is iets ondertoe,” het pa Trompie Woensdag aan die Zoutpansberger gesê. Hy het verwys na die seine vanaf die brein deur die rugmurg na die ledemate. Hy wou egter nie ‘n voorspelling maak nie, en ook nie die dokters nie. “Niemand wil iets sê nie. Hulle kan nie, want hulle weet nie. Hulle is nie God nie,” het Trompie gesê.

Pa Trompie en ma Annelize, wat beide ‘n slag weer by die werk moes uitkom, se opgewondenheid was te danke aan die feit dat Koben op 14 Julie sy een groottoon kon beweeg, alhoewel dit met stimulasie was. “Hy kon ook sy linkerbeen ‘n klein bietjie beweeg. Dit beteken die spiere aan die kant van sy been reageer,” het Annelize gesê. Op 17 Julie kon hy selfs sy eie skoene aantrek.

“Daardie is goeie tekens. Die moontlikhede word al hoe sterker en beter vir hom,” het Trompie gesê.

Trompie het egter verduidelik dat dit 18 maande sal neem voordat hulle spesifiek sal weet wat die omvang van die skade aan Koben se rugmurg is. Dit is hoe lank dit sal neem vir die swelling en bloeding om te verdwyn. Maar hulle het reeds hoop. “Onthou, hulle praat van ‘n complete and incomplete besering. Complete beteken daar gaan geen seine deur die rugmurg nie, alles is af - permanent. Incomplete beteken daar gaan tog nog seine deur en by Koben gaan daar nog boodskappies deur. Daar is verlamming, maar ons weet nog nie wat is die omvang daarvan nie … Koben se motoriese kant het baie seer gekry. Die toon wat beweeg beteken dit [die seine] is nie heeltemal weg nie. Sensories kan hy voel,” het Trompie gesê.

Nog ‘n mylpaal vir Koben was op 9 Julie toe hy vir die eerste keer ná sy besering weer kon regop staan met behulp van ‘n staanraam. “Toe hy daar in die gimnasium staan, toe sê hy vir my: ‘Jissie, pa! Dit is lekker om weer my voete onder my te voel!’” het Trompie gesê.

Volgens Trompie en Annelize hou Koben goeie moed. “Hy het ook maar sy af dae, maar jy moet jou ups hê om jou downs te hê … Hy glo hy gaan weer loop,” het Trompie gesê.

“Dit gaan stadig maar seker … een dag op ‘n slag,” het Annelize gesê. Sy het onder meer gereageer op ‘n vraag oor Koben se skoolwerk. Sy het bygevoeg dat daar egter nie baie tyd is vir Koben om aan skoolwerk te dink nie weens ‘n druk rehabilitasieprogram. “Weet jy, in die oggend halfnege begin hy met arbeidsterapie en fisioterapie. Vieruur in die middag is hy eers klaar. Dit is dwarsdeur die dag, so ons sal moet opvang [skoolwerk] as hy terugkom,” het Annelize gesê.

Hulle is egter nie te veel bekommerd oor Koben se skoolwerk nie. “Die hoërskool het klaar gesê hulle sal planne maak om hom te akkommodeer. Sy onderwysers het op hulle beurt gesê hulle sal uit hul pad uit gaan om hom te help. Van hulle het al na hom deurgery om hom te help ... ons het eintlik ‘n ongelooflike skool,” het Annelize gesê.

Sedert Koben se besering was hy nog nooit weer by die huis nie, aangesien hy in hierdie stadium nog nie so ver mag ry nie. “Dit is wat verlede naweek vir ons so spesiaal gemaak het. My sussie het vir ons ‘n plek by die Hartebeespoortdam bespreek. Dit is so 45 minute se ry. Ons is soontoe en daar was ‘n dammetjie waar Koben kon visvang en hy is ook slangpark toe. Dit was nou vir hom baie lekker. Dit was eintlik ons eerste keer as gesin saam alleen êrens heen,” het Annelize gesê.

Volgens Annelize sal Koben nog tot in Oktober rehabilitasie moet ontvang. “Hulle praat in hierdie stadium van sy ontslagdatum uit rehabilitasie as 10 Oktober, as alles goed gaan. Hul mikpunt is dat Koben homself optimaal kan help teen daardie tyd,” het Annelize gesê. Intussen het hulle begin kyk na maniere om hul huis “rolstoel-vriendelik” te maak. “Dit is nogal ‘n missie!” het Annelize gesê.

Intussen mis kleinboet Benko en sus Aninke hulle boetie. “Veral Benko. Hy mis dit om saam met sy ouboet te speel en bal te skop,” het Trompie gesê. “Maar Aninke en Benko help hulle boetie baie. Hulle is baie ondersteunend,” het Annelize bygevoeg.

Hoërskool Louis Trichardt het ‘n hulpfonds gestig om te help met die betaal van ekstra mediese koste wat nie deur die familie se mediese fonds betaal word nie. Mense wat graag ‘n bydrae wil maak, kan ‘n betaling, met die verwysing Koben Hofmeyr Fonds, maak aan Kern & Dekker Prokureurs by Standard Bank, rekeningnommer 030429854 en takkode 051001. Vir verdere inligting kan Quintin geskakel word by tel. 082 458 2107.

 

 
 
 

Viewed: 826

 

 
 

Andries van Zyl

Andries joined the Zoutpansberger and Limpopo Mirror in April 1993 as a darkroom assistant. Within a couple of months he moved over to the production side of the newspaper and eventually doubled as a reporter. In 1995 he left the newspaper group and travelled overseas for a couple of months. In 1996, Andries rejoined the Zoutpansberger as a reporter. In August 2002, he was appointed as News Editor of the Zoutpansberger, a position he holds until today.

 
 

More photos... 

Koben Hofmeyr glimlag breed tydens sy boetie Benko se sewende verjaarsdagpartytjie op 6 Julie. Ma Annelize se skoonsussie het dit as ‘n verassing vir die familie gereël. Saam met Koben en Benko is sus Aninke, Annelize en pa Trompie. Foto verskaf.

Goeie vordering … Op 17 Julie het die 15-jarige Koben Hofmeyr trots gewys dat hy al self sy eie skoene kan aantrek. Foto verskaf.

Koben word tans onderwerp aan ‘n druk rehabilitasieprogram. “Weet jy, in die oggend halfnege begin hy met arbeids- en fisioterapie. Vieruur in die middag is hy eers klaar. Dit is dwarsdeur die dag, so ons sal moet opvang [skoolwerk] as hy terugkom,” het Annelize gesê. Foto verskaf.

ADVERTISEMENT

 
 

ADVERTISEMENT:

 
 

ADVERTISEMENT