ADVERTISEMENT:

 

 
 

Wyle Naomy Meissenheimer (60). Foto verskaf.

“Sy was my alles gewees”

Date: 09 July 2018 By: Andries van Zyl

Die nuus van die skielike dood van die 60-jarige Naomy Meissenheimer van Louis Trichardt weens ondermeer varkgriep het die afgelope week skokgolwe deur die plaaslike gemeenskap gestuur.

Vir niemand anders was haar dood egter meer traumaties as haar man, Dirk, gewees nie. Dirk het Woensdag vertel van die emosionele wipplank waarop Naomy, hy en hul families die afgelope drie weke was. Die realiteit van haar dood was egter duidelik vir hom nog ietwat van ‘n onwerklikheid. “Ek sit in die middae en wag vir haar, maar haar rooi karretjie kom nie. Ek weet haar karretjie gaan nie kom nie,” het Dirk gesê, terwyl hy ooglopend sterk probeer wees en die trane probeer keer.

Daar is min mense in Louis Trichardt en omstreke wat nie vir Naomy geken het nie. Vir meer as twee dekades was sy deel van die hartklop van Bargain Centre in Louis Trichardt en haar glimlag en vriendelikheid het diep in die harte van baie inwoners ingekruip. Haar dood was so skielik dat baie mense nie eens geweet het dat sy ernstig siek was nie.

Naomy is Sondag kort na 12:00 in die Unitas Hospitaal in Pretoria oorlede, kort nadat daar besluit is om die masjiene wat haar toe al vir dae aan die lewe gehou het, af te skakel. Sy was toe al reeds breindood verklaar deur medici.

Dirk het vertel van hoe Naomy begin siek voel het en hoe sy op 11 Junie in die Zoutpansberg Privaathospitaal opgeneem is vanweë asemhalingsprobleme. Hier is sy op ligte suurstof geplaas. “Almal het maar gedink dit is longontsteking. Toe die bloedtoetse egter terugkom, het hulle gesien dat dit moontlik varkgriep kon wees,” het Dirk gesê.

Met dié diagnose is Naomy op 13 Junie oorgeplaas na die Medi Kliniek in Tzaneen vir verdere toetse. Sy is dadelik opgeneem in die intensiewe eenheid. “Daar het hulle vasgestel dat sy wel varkgriep het,” het Dirk gesê. In daardie stadium het sy steeds gesukkel met asemhaling en is sy op ‘n nog groter suurstofmasjien gekoppel.

Naomy se toestand het egter bly agteruitgaan. “Die 14de Junie was die laaste keer wat ek met haar kon praat, alhoewel sy gesukkel het om met my terug te praat. Sy het nie meer geregistreer nie en haar oë was permanent toe,” het Dirk gesê. Naomy sou nooit weer haar bewussyn herwin nie.

Soos die dae verbygegaan het, het Naomy se toestand nog verder verswak.

“Verlede Donderdagoggend was ek weer by haar,” het Dirk gesê. Hy het feitlik daagliks heen en weer tussen Tzaneen en Louis Trichardt gery om by sy vrou te wees. Naomy was toe reeds aan masjiene gekoppel wat haar aan die lewe gehou het.  

“Donderdagmiddag toe ek by haar kom, het ek sommer so bietjie by haar in die hoek gaan sit. Die dokters kom toe daar aan en sê hulle sukkel. Al die pype het toe nog by haar mond uitgekom. Die dokters sê toe hulle gaan ‘n snit in haar keel maak om direk die suurstofpype na haar longe te kry. Hulle het gesê dit is ‘n kortpad vir die suurstof, want hulle sukkel om suurstof in die liggaam te kry.”

Intussen het Dirk weer vir ‘n slag huistoe gekom. Vrydag het Naomy se toestand dramaties verswak, in so ‘n mate dat sy inderhaas per helikopter oorgeplaas moes word na die Unitas Hospitaal. “Dit was reeds te laat vir my om deur te jaag na Tzaneen,” het Dirk gesê.

Naomy is direk opgeneem in die hospitaal se intensiewe eenheid. “Vrydagaand so ongeveer 19:00 het hulle ons laat weet ons moet kom ... ons moet kom groet. Ek, Rudi en Dirk en hul vrouens [Dirk se seuns en hul gades] wou net begin braai. Dirk het my aan die arm gevat en gesê: Klim pa. Toe jaag hy en Rudi my deur,” het Dirk gesê.

By die hospitaal aangekom moes Dirk vir bykans twee ure wag voordat hy toegelaat is om Naomy te sien. Intussen is hy die slegte nuus meegedeel. “Hulle het vir my gesê daar is geen hoop nie,” het Dirk gesê.

Dirk en sy seuns het ingegaan om vir Naomy te gaan groet. “ … maar sy was nie meer ‘daar’ nie. Ek dink nie eers sy het gehoor ek het haar gegroet nie,” het Dirk gesê terwyl die trane en emosie in hom opwalm. Dit was toe reeds amper eenuur Saterdagoggend. Dit sou ook die laaste keer wees wat Dirk Naomy sou sien voordat sy Sondag dood is.

“Dit is verskriklik om vir weke jou vrou so te sien lê. Dit is nie ‘n grap nie,” het Dirk gesê. Tog sê hy dat hy berusting het. “Sy was my alles gewees,” het Dirk gesê.

Die tweetjies is op 1 Desember 2001 met mekaar getroud. “Sy het my kalmeer en my rustig gemaak. Elke keer as ek so ongelukkig geraak het, het sy vir my gesê: Kom ons bid saam daaroor. Sy was ‘n diep mens en sy het omgegee vir baie mense,” het Dirk gesê.

‘n Roudiens vir wyle Naomy vind eerskomende Vrydag, 6 Julie, om 11:00 vanuit die NG Kerk Louis Trichardt-gemeente plaas. Sy word oorleef deur haar man Dirk, ma en pa Ollie, susters René en Maria en hul gades, dogters Marie en Tanya en hul gades, twee kleinkinders, asook al haar aangetroude familie en kleinkinders.

 
 
 

Viewed: 1580

 

 
 

Andries van Zyl

Andries joined the Zoutpansberger and Limpopo Mirror in April 1993 as a darkroom assistant. Within a couple of months he moved over to the production side of the newspaper and eventually doubled as a reporter. In 1995 he left the newspaper group and travelled overseas for a couple of months. In 1996, Andries rejoined the Zoutpansberger as a reporter. In August 2002, he was appointed as News Editor of the Zoutpansberger, a position he holds until today.

 
 

More photos... 

ADVERTISEMENT

 
 

ADVERTISEMENT:

 
 

ADVERTISEMENT