ADVERTISEMENT:

 

 
 

By verdere ondersoek is gevind dat die diewe vier hoogspanningspale afgesny het om die geleierkabel te steel. Foto verskaf.

Diewe dompel industriële gebied in donker

Date: 05 July 2018 By: Andries van Zyl

Dele van Louis Trichardt se industriële area is die naweek sonder elektrisiteitstoevoer gelaat en was teen Woensdagoggend steeds sonder krag, nadat bykans twee kilometer se hoogspanningskabels gesteel is.

Volgens Makhado munisipale woordvoerder mnr. Louis Bobodi, het hulle Saterdagaand berig ontvang dat Makhado Park sonder elektrisiteit is. Kort daarna het hulle ‘n elektrisiën na die substasie gestuur, wat die krag probeer aanskakel het. Elke keer het die stroombreker by die substasie egter uitgeskop.

Verdere ondersoek is ingestel en die elektrisiën het gevind dat daar ‘n fout by die Musa Maria breekpunt is naby die spoorlyn. “Die fout op die lyn het voortgeduur tot ons om drieuur Sondagoggend die elektrisiën onttrek het en om sesuur Sondagoggend weer die werk hervat het,” het Bobodi gesê.

Volgens Bobodi is nog ‘n fout op die N1-lyn gevind waar ‘n skakelaar vervang moes word, voordat die Musa Maria-lyn omstreeks 11:00 weer aangeskakel kon word. “Die lyn is gepatrolleer en daar is gevind dat ernstige skade aangerig is deur diewe wat vier hoogspanningspale afgesny het en ongeveer 1 800 m se oorhoofse geleierkabel gesteel het,” het Bobodi gesê. Hy het bygevoeg dat die munisipaliteit aluminium kabel op al hul hooftoevoerlyne gebruik.

Weens die diefstal, het Bobodi gesê, het die elektrisiteitsafdeling vanaf Saterdag 22:00 tot Sondag 11:00 gewerk om kragtoevoer vanaf die substasie tot by die Musa Maria breekpunt te herstel. Herstelwerk het egter teen Woensdagoggend nog voortgeduur om die kragtoevoer na alle dele van die industriële gebied te herstel. “Die skade word steeds herstel. Dit is ‘n uitgerekte proses, want pale en nuwe geleierkabel moet vervang en geïnstalleer word,” het Bobodi gesê.

Bobodi het die skade aan die netwerk beraam op sowat R180 000. “Dit is net vir die herstelwerk en sluit nie oortyd en ander operasionele koste in nie,” het Bobodi gesê.

Die munisipaliteit het intussen die saak by die polisie aangemeld vir verdere ondersoek. Bobodi het ook weereens die publiek gewaarsku en versoek om nie munisipale infrastruktuur te beskadig nie. “Daar sal streng opgetree word teen persone wat hulle aan die verkeerde kant van die gereg bevind,” het Bobodi gesê.

 

 
 
 

Viewed: 362

 

 
 

Andries van Zyl

Andries joined the Zoutpansberger and Limpopo Mirror in April 1993 as a darkroom assistant. Within a couple of months he moved over to the production side of the newspaper and eventually doubled as a reporter. In 1995 he left the newspaper group and travelled overseas for a couple of months. In 1996, Andries rejoined the Zoutpansberger as a reporter. In August 2002, he was appointed as News Editor of the Zoutpansberger, a position he holds until today.

 
 

More photos... 

Groot dele van Louis Trichardt se industriële gebied is sedert die naweek sonder elektrisiteit gelaat, nadat diewe sowat 1,8 km se hoogspanningskabel gesteel het. Foto verskaf.

ADVERTISEMENT

 
 

ADVERTISEMENT:

 
 

ADVERTISEMENT