ADVERTISEMENT:

 

 
 

Koben beleef terugslag

Date: 10 June 2018 By: Isabel Venter

Koben Hofmeyr (15) se derde week in die hospitaal het ongelukkig ‘n bietjie sleg begin. Dokters het gevrees vir sy gesondheid en het hom Sondag inderhaas weer teruggeplaas in die intensiewe sorgeenheid.

Koben het op Saterdag, 19 Mei, sy nek ernstig beseer toe hy ‘n speler platgeduik het tydens ‘n rugbywedstryd op Bela-Bela teen Hoërskool Warmbad.  Sy C6-werwel is gebreek en het verskuif. Dié werwel is intussen tydens ‘n tweede operasie weer terug in plek geskuif.

Ná dié operasie het dit soveel beter gegaan met Koben dat hy met fisioterapie kon begin. Die plan was dat Koben teen verlede Vrydag dan al sterk genoeg sou wees om met ‘n rehabilitasieprogram te begin.

Ongelukkig het Koben se gesondheid baie skielik agteruit gegaan. Buiten vir sy wisselvallige bloeddruk het Koben ‘n koors ontwikkel, pal hoofpyn gehad, asook hartkloppings. Hy is oorgeplaas na die intensiewe eenheid, waar dokters hom begin behandel het met ‘n reeks antibiotika. Dit wil voorkom of die komplikasies die gevolg was van ‘n bloedklont.

Volgens Annelize, Koben se ma, het dokters ‘n bloedklont in sy regterkuit ontdek. Dit het gevolg dat Koben se fisioterapie onmiddellik gestop moes word. “Hulle het vir Koben vandag een van daai stywe kouse op sy been gesit en hom ook begin behandel met bloedverdunners,” het Annelize Woensdag gesê.

Ten spyte hiervan was Annelize saam met Koben hoopvol dat dit teen volgende week weer beter sou gaan. “Ons was baie hoopvol oor die rehabilitasie, so dit was vir ons ‘n groot terugslag dat hy nie nou kan oefen nie,” het Annelize gesê.

Nodeloos om te sê, kon die MRA-skandering, wat sal aandui presies hoeveel skade daar aan Koben se nek is, nog nie gedoen nie.

Volgens Koben se dokters kon hulle al vasstel dat sy sensoriese neurone, wat van sy brein deur sy rugwerwels loop, redelik onbeskadig is ná die ongeluk. Dit is die neurone wat verantwoordelik is om die seine van die buitenste dele van die liggaam (periferie) na die sentrale senuweestelsel te neem. Daar is vyf verskillende sensoriese gevoelens, waarvan twee al tekens van herstel toon in Koben.

Daar word egter nog asem opgehou wat die skade aan Koben se motoriese neurone betref. Dit is die neurone wat verantwoordelik is daarvoor om die bewegingsboodskappe van die brein aan te stuur na al die liggaamsdele. Tans het die skade aan Koben se C6-werwel tot gevolg dat hy slegs 60% longfunksie het en verlam is in sy polse en hande, asook in sy onderlyf.

Te midde hiervan is Koben vinnig besig om ‘n plaaslike “celeb” te word. Hy is hierdie week besoek deur die voormalige kaptein van die Blou Bulle en Springbokke, Victor Matfield, en bekende sanger Steve Hofmeyr. “Dit is ongelooflik hoe almal vir Koben op die hande dra en bly bemoedig ... ons waardeer dit baie,” het Annelize gesê.

Matfield se besoek het veral baie beteken vir Koben. Buiten vir ‘n getekende hemp het Matfield ook een van sy eie rugbystewels geteken. Heel toevallig was dit dieselfde maak rugbystewel as Koben se heel eerste paar wat sy ouers vir hom gekoop het toe hy rugby begin speel het.  

Hoërskool Louis Trichardt, waar Koben skoolgaan, het die afgelope naweek ook ‘n spesiale rugbydag in samewerking met Hoërskool Eric Louw aangebied. Die doel van hierdie dag was om bewusmaking te kweek vir die Koben Hofmeyr Hulpfonds wat die skool op die been gebring het om uit te help met van Koben se onvoorsiene mediese uitgawes.

Mense wat graag ‘n bydrae wil maak kan ‘n betaling, met die verwysing Koben Hofmeyr Fonds, maak aan Kern & Dekker Prokureurs by Standard Bank, rekeningnommer 030429854 en takkode 051001. Vir verdere inligting kan Quintin geskakel word by tel. 082 458 2107.

 
 
 

Viewed: 2594

 

 
 

Isabel Venter

Isabel joined the Zoutpansberger and Limpopo Mirror in 2009 as a reporter. She holds a BA Degree in Communication Sciences from the University of South Africa. Her beat is mainly crime and court reporting.

 
 

More photos... 

Nog 'n bekende rugbyspeler, Victor Matfield, het ook vir Koben besoek en hom bemoedig. Op die hemp het Victor vir Koben geskryf: God gives his hardest battles to his strongest soldiers.Foto verskaf.

Die bekende sanger, Steve Hofmeyr, het Koben Woensdag besoek in die hospitaal. Foto verskaf.

ADVERTISEMENT

 
 

ADVERTISEMENT:

 
 

ADVERTISEMENT