ADVERTISEMENT:

 

 
 

Geen mens kan mos op hospitaalkos oorleef nie. Benko Hofmeyr (6) het vir ouboet Koben lekkers, wat hy self bymekaar gemaak het uit sy eie voorraad wat hy nie opgeëet het nie, hospitaal toe gevat. Foto verskaf. 

Koben voel al die reën

Date: 04 June 2018 By: Isabel Venter

Die pad van herstel wat voorlê vir die 15-jarige Koben Hofmeyr van Louis Trichardt is nog 'n lang een.

Koben het Saterdag, twee weke gelede, sy nek ernstig beseer tydens ‘n rugbywedstryd. Sy C6-werwel is gebreek en het verskuif. Dié werwel is intussen Sondag ná ‘n tweede operasie weer terug in plek geskuif. Koben se C3 en C4-werwels is ook tydens die operasie aanmekaar geheg.

Koben, wat die spankaptein van die o.16-rugbyspan van Hoërskool Louis Trichardt is, het Saterdag, 19 Mei, ‘n speler van Hoërskool Warmbad geduik tydens ‘n vriendskaplike wedstryd op Bela-Bela. In die proses het die speler bo-op Koben beland, saam met nog ander spelers in ‘n losskrum.

Volgens Koben se dokters kon hulle al vasstel dat sy sensoriese neurone, wat van sy brein deur sy rugwerwels loop, redelik onbeskadig is ná die ongeluk. Dit is die neurone wat verantwoordelik is om die seine van die buitenste dele van die liggaam (periferie) na die sentrale senuweestelsel te neem. Daar is vyf verskillende sensoriese gevoelens, waarvan twee al tekens van herstel toon in Koben.

Daar word egter nog asem opgehou wat die skade aan Koben se motoriese neurone betref. Dit is die neurone wat verantwoordelik is daarvoor om die bewegingsboodskappe van die brein aan te stuur na al die liggaamsdele. Tans het die skade aan Koben se C6-werwel tot gevolg dat hy slegs 60% longfunksie het en verlam is in sy polse en hande, asook in sy onderlyf.

Die dokters kan eers bepaal hoeveel skade aangerig is nadat ‘n MRA-skandering gedoen is van sy nek. Koben se bloeddruk is egter nog so onstabiel dat dit lewensgevaarlik sou wees vir hom om ‘n skandering te ondergaan, aangesien sy toestand vir dié tydperk nie gemonitor kan word nie.

Koben was nog Woensdag in die intensiewe sorgeenheid van die Groenkloof Hospitaal, waar hy aansterk ná die operasie. Ma Annelize was by hom, terwyl pa Trompie moes terugkeer na Louis Trichardt om na Koben se ouer sussie en jonger boetie, wat moes teruggaan skool toe, om te sien.

Annelize het Woensdag gesê dat Koben al tussen warm en koud kan onderskei. Hulle het dit agtergekom toe Koben die verpleegsters gevra het om sy kamervenster oop te maak, omdat hy wou sien en ruik hoe dit buite reën. “Mamma, ek kan die koue lug van die reën op my voel waai!” het Koben opgewonde vir Annelize gesê.

Buiten hiervoor toon Koben ook goeie tekens van onwillekeurige sensoriese gevoel in sy liggaam wat al plek-plek terug kom. Daar is ook groot dankbaarheid vir die feit dat Koben self kan asemhaal.

Koben het ‘n fisioterapeut wat hom help om sy hande en polse te oefen. Hy sal moontlik ook hierdie komende Vrydag kan begin met ‘n rehabilitasieprogram. “Sy dokter het gesê dit is nou tyd dat hy aan die gang kom,” het Annelize gesê.

Koben, sê Annelize, bly te midde van alles wat met hom gebeur het ongelooflik positief. “Ek het ‘n amazing kind ... ek sê dit nie net omdat hy my kind is nie, maar ek kan nie vir jou vertel hoe ongelooflik sterk hy is nie. Ek en hy hou elke aand saam Bybelstudie en dan bid hy so lank my nek raak eintlik styf,” het Annelize Woensdag gesê.

Annelize en Trompie het bygevoeg dat hulle verstom gelaat is oor die ondersteuning wat hulle gekry het van Louis Trichardt se gemeenskap. Hoërskool Louis Trichardt het ook Maandag die Koben Hofmeyr Hulpfonds op die been gebring om te help.

Een van die rugbyafrigters by die skool, mnr. Quintin Thompson, het Maandag gesê fondse sal gebruik word om te help betaal aan onvoorsiene onkostes wat nie deur die mediese fonds gedek word nie. In die toekoms sal die fonds aan die lewe gehou word, sodat die skool ander leerlinge wat soortgelyke nood het ook kan ondersteun.

Mense wat graag ‘n bydrae wil maak kan ‘n betaling, met die verwysing Koben Hofmeyr Fonds, maak aan Kern & Dekker Prokureurs by Standard Bank, rekeningnommer 030429854 en takkode 051001. Vir verdere inligting kan Quintin geskakel word by tel. 082 458 2107.

 
 
 

Viewed: 2631

 

 
 

Isabel Venter

Isabel joined the Zoutpansberger and Limpopo Mirror in 2009 as a reporter. She holds a BA Degree in Communication Sciences from the University of South Africa. Her beat is mainly crime and court reporting.

 
 

More photos... 

Koben Hofmeyr (15) het Maandag as't ware op sy eie gestaan met behulp van 'n spesiale hospitaalbed. Foto verskaf.

Koben Hofmeyr (15) het verlede week 'n spesiale besoek ontvang van die Springbokke se senter, Jessie Kriel. Foto verskaf.

ADVERTISEMENT

 
 

ADVERTISEMENT:

 
 

ADVERTISEMENT