ADVERTISEMENT:

 

 
 

Mékayle Geyer (17) is weer terug op die been. 

Méykale weer op die been ná groot skrik

Date: 03 June 2018 By: Isabel Venter

Die 17-jarige Méykale Geyer van Louis Trichardt is weer volstoom aan die gang.

Sy is sowat ‘n maand gelede met die seldsame immuniteitsiekte, Guillain-Barré-sindroom, gediagnoseer. Hierdie siekte het Méykale se senuweestelsel so aangetas dat sy in ‘n kwessie van ‘n paar dae heeltemal verlam gelaat is in haar onderlyf.  

Die siekte word vermoedelik deur ‘n dormante virus in ‘n persoon se lyf aangewakker. Volgens mediese bronne word daar vermoed dat die sindroom voorafgegaan word deur siektes soos respiratoriese infeksies of maaggriep.

‘n Pasiënt se liggaam begin glo dat sy immuunstelsel die senuweestelsel aanval. In die proses word die senuwees so verswak dat hulle ophou seine stuur na die brein. Spiere, in Méykale se geval haar voete en bene, reageer dan nie soos hulle moet nie, en verlamming tree in. In ernstige gevalle kan pasiënte se asemhaling aangetas word, en dan moet hulle weer leer praat, sluk en asemhaal.

Méykale, het haar ouers Fanie en Rentia gesê, het nie soveel skade opgedoen aan haar senuweestelsel nie, omdat sy vroeg gediagnoseer is. Sy is op 20 April in Pretoria opgeneem, waar sy amper vir ‘n week lank behandeling ontvang het en ook ‘n strawwe fisioterapie program moes volg om haar weer op die been te kry. Vir Méykale was dit ‘n besonderse emosionele tyd gewees, omdat sy haar sport moes opgee.

Méykale het vinnig herstel en sy is vyf dae later ontslaan. Dit, het haar ouers gesê, was danksy gebed, genade en die feit dat sy vinnig gediagnoseer is. “As ons nog ‘n week langer gewag het, sou dit vir haar baie langer gevat het om te herstel, omdat daar dan meer skade sou gewees het aan haar senuweestelsel,” het Rentia gesê.

Méykale, ‘n leerling van Hoërskool Louis Trichardt, het die week ná sy ontslaan is weer agter die skoolbanke ingeskuif. Daar was heelwat werk gewees wat sy moes inhaal. Sy het vir daardie week in haar eie klas gewerk, omdat sy nog nie heeltemal so gemaklik kon loop wanneer daar klasse gewissel moes word nie. Die week daarna het dit al soveel beter gegaan dat sy self weer kon loop van klas tot klas en selfs met die trappe oor die weg kon kom.

Méykale ervaar egter nog ‘n bietjie pyn en ongemak weens die senuwees wat aan haar spiere vasgegroei het. Dit sal nog baie ure se intense fisioterapie verg voordat Méykale weer haar hokkiestok sal kan opneem. “Ons is egter vol vertroue dat dit binnekort sal wees,” het Rentia gesê.

 
 
 

Viewed: 924

 

 
 

Isabel Venter

Isabel joined the Zoutpansberger and Limpopo Mirror in 2009 as a reporter. She holds a BA Degree in Communication Sciences from the University of South Africa. Her beat is mainly crime and court reporting.

 
 

More photos... 

ADVERTISEMENT

 
 

ADVERTISEMENT:

 
 

ADVERTISEMENT