ADVERTISEMENT:

 

 
 

Jackie Kruger, die vorige losskakel van Koben se span, het hom ook besoek in die Groenkloof Hospitaal. Foto verskaf.

Bly vir Koben bid

Date: 27 May 2018 By: Isabel Venter

Elke dag, sê die Hofmeyr-gesin van Louis Trichardt, is nou vir hulle soos Kersfees.

“Daar is elke dag ‘n seëning, ‘n geskenkie om voor dankbaar te wees … dit is soos ‘n liggie wat aangaan op ‘n kersboom,” het pa Trompie en ma Annelize, die ouers van die 15-jarige Koben Hofmeyr, Woensdag aan die Zoutpansberger gesê. Hulle was ten tye van die onderhoud nog in Pretoria, waar Koben in die hospitaal is.

“Hy het vanoggend gevoel onder sy voete, in sy knieë en op sy maag gehad,” het Annelize die goeie nuus gedeel.  

Drie van Koben se nekwerwels is beseer tydens ‘n rugbywedstryd die afgelope Saterdag. Koben, die spankaptein van die o.16-rugbyspan van Hoërskool Louis Trichardt, het vir die span uitgedraf tydens ‘n vriendskaplike wedstryd teen Hoërskool Warmbad.

Annelize en Trompie beskryf die voorval as ‘n fratsongeluk. “Ons is nie kwaad vir rugby nie, dit het net vir ons nie mooi uitgedraai nie,” het hulle gesê.

Koben, wat senter gespeel het, het pas ‘n mooi drie gaan druk. Dit was aan die oorkant van die veld, ver van waar Annelize en Trompie gestaan en kyk het.

Ná Koben se drie het die wedstryd voortgegaan en Koben het ‘n groot speler van die ander span platgeduik. In die proses het die speler bo-op Koben beland, saam met nog ander spelers, in ‘n losskrum. Sy ouers het besef daar is fout toe Koben net op die veld bly lê het.

Koben is per ambulans na ‘n privaathospitaal in Bela-Bela geneem, waar X-strale geneem is van sy nek. Drie van sy werwels het so seergekry dat Koben net per helikopter verder vervoer kon word. Twee werwels het seergekry, terwyl ‘n derde verskuif het.

Koben is Saterdag om 23:00 opgeneem in die Groenkloof Hospitaal (die ou Little Company of Mary Hospital)  in Pretoria, waar hy onmiddellik ‘n noodoperasie ondergaan het om van die skade in sy nek te begin herstel en die drukking te verminder. In daardie stadium het Koben geen gevoel in sy onderlyf gehad nie.

Deur dit als het Koben en sy ouers positief gebly en onmiddellik ‘n beroep gedoen op almal tuis om op hulle knieë te gaan en te bid vir sy volkome herstel. “Ons wil nie eers die woord verlam gebruik nie ... ons hoop is op die Here dat hy volkome gaan herstel,” het ‘n emosionele Annelize Maandag in ‘n kort onderhoud met die koerant gesê. “Ten spyte van alles is ek net dankbaar dat my kind leef ... weet jy ... soveel dinge kon verkeerd gegaan het...”

Koben het self ook in ‘n kort video wat pa Trompie gemaak het Sondag, ná sy operasie, almal bedank wat al tot dusver vir hom gebid het. “Baie dankie vir al die gebede ... ek waardeer dit regtig ... julle moet duim vashou vir my ... ek het ‘n fraktuur in my rugwerwel wat op die oomblik my lae liggaam beïnvloed. Julle, ek wil net dankie sê vir al die gebede en vir alles wat julle vir mekaar aanstuur, en vir meer mense vertel, ek waardeer dit regtig, julle. Die gebede help baie want alles is in God se hand ... baie dankie daarvoor,” het Koben in die video gesê.

Dit was derhalwe geen verrassing dat die hele Louis Trichardt Woensdag saam met Koben en sy gesin gejubel het nie.

Koben se motoriese herstel, oftewel die beweging in sy onderlyf, is egter nog nie na wense nie en daarvoor word daar nog gebid en vertrou vir volkome herstel.

Dokters het Woensdag gehoop om ‘n MRA skandering te doen om ‘n beter prentjie te kry van die presiese skade aan Koben se nek. Dit sal bepaal of hulle hierdie komende Sondag sal voortgaan met ‘n tweede operasie aan Koben se nek om van die werwels aan mekaar te heg.

Intussen het beterskapwense en gebede van heinde en verre gekom. Dit was egter vir die gemeenskap van Louis Trichardt en al die personeel en ouers van Hoërskool Louis Trichardt vir wie die ouerpaar ‘n spesiale woord van dank gehad het. Terwyl daar nog gewag is om van hulle mediese fonds magtiging te kry om Koben per helikopter te vervoer, was daar reeds genoeg geld bewillig om te help. “Bo dit alles is ons net ongelooflik dankbaar vir Ons Hemelse Vader se genade en almal wat saam met ons gebid het.”

 

 
 
 

Viewed: 1658

 

 
 

Isabel Venter

Isabel joined the Zoutpansberger and Limpopo Mirror in 2009 as a reporter. She holds a BA Degree in Communication Sciences from the University of South Africa. Her beat is mainly crime and court reporting.

 
 

More photos... 

Die 15-jarige Koben Hofmeyr afgeneem saam met sy ma, kort ná hy 'n noodoperasie moes ondergaan . Foto verskaf.

Koben Hofmeyr (15) het Saterdag sy nek ernstig beseer tydens 'n rugbywedstryd van sy o.16-span teen die span van Hoërskool Warmbad.

ADVERTISEMENT

 
 

ADVERTISEMENT:

 
 

ADVERTISEMENT