ADVERTISEMENT:

 

 
 

Binne-in die huisie was daar Maandag nog duidelike tekens van iemand wat vir hom- of haarself 'n leefarea ingerig het. 

Polisie krap kop oor dooie man se herkoms

Date: 26 May 2018 By: Isabel Venter

Nie net die polisie krap kop oor die onbekende man se liggaam wat oor die naweek naby Ons Tuiste Ouetehuis in Louis Trichardt gevind is nie.

Dié man is Sondagoggend vroeg oorlede, terwyl daar vir meer as ‘n uur gewag is op die noodhulpdienste om te kom help. Hy is deur voetgangers opgemerk op die hoek van die ouetehuis, waar die perseel grens aan die motorhandelaar Auto Pedigree.

Volgens personeel van Ons Tuiste het die onbekende man op die grond gelê en dit het gelyk of hy stuiptrekkings kry. Dit het glo gelyk of die man in ‘n stadium probeer het om ‘n gat onderdeur die heining van die ouetehuis te grawe.

Vele stories agter dié storie doen egter die rondte. Sommige beweer dat die man beseer is tydens ‘n voorval van boendoe-geweld  (mob justice). ‘n Ander weergawe vertel dat die man vermoor is toe hy wou terugkeer na sy “woning” toe en glo doodgeslaan is.

Dié stories spruit uit gebeure van die vorige aand. Volgens inwoners by die ouetehuis het werkers wat op pad was huis toe kom kla dat die mense in die “Telkom-huisie” (die klein geboutjie reg oorkant die ouetehuis, langs die N1) hulle teister. Die “inwoners” in die Telkom-huisie het op die vlug geslaan toe daar ondersoek ingestel is deur lede van die plaaslike plaas- en dorpswag.

Sommige is nou vas daarvan oortuig dat die oorledene ‘n voortvlugtende krimineel was wat in die Telkom-huisie gebly het. Die Makhado polisie sê egter dat mense nie sommer net afleidings moet maak nie. Volgens plaaslike polisiewoordvoerder konst. Irene Radzilani is ‘n geregtelike doodsondersoek geopen om die ware oorsaak van die man se dood vas te stel. Sy het wel bevestig dat ‘n sterk moontlikheid bestaan dat die saak verander kan word na strafbare manslag.

Radzilani het gesê die man se ouderdom word geskat op 24. Die man was geklee in ‘n swart langbroek, ‘n swart-en-wit gestreepte T-hemp, ‘n blou-en-swart baadjie en swart tekkies. Binne-in die Telkom-huisie het die polisie beslag gelê op handskoene, klerasie, ‘n houer vol kondome en medisyne wat vermoedelik gesteel was.  

Een van die grootste raaisels van die hele storie is egter dat die polisie glo nie geweet het dat iemand sy intrek geneem het in die “huisie” nie. Volgens Radzilani was hierdie inligting nuut vir die polisie. Sy het gereageer op navrae dat daar in die afgelope drie jaar sporadies by die polisie gekla is oor kriminele elemente wat hulle intrek neem in die Telkom-huisie. Een van die sekuriteitswagte by die ouetehuis het Maandagaand aan die Zoutpansberger gesê dat hyself al vir die polisie vertel het hoe werkers geterroriseer word deur kriminele wat in die huisie bly.

Volgens dié wag moes hy al by meer as een geleentheid vroulike werknemers vergesel totdat hulle veilig verby die huisie gestap het. Hy sê daar was ten minste drie geleenthede verlede jaar wat werknemers se handsakke gegryp is deur diewe wat in die huisie wegkruip. Een van sy groot bekommernisse, het die wag gesê, was dat die mense wat daar wegkruip later ook die inwoners van die ouetehuis sal aanval.

Radzilani het intussen gevra dat die publiek die polisie moet behulpsaam wees om die oorledene te identifiseer. Enige iemand met inligting kan speursersant Tshilidzi Nthembuluseni skakel by tel. 082 215 3171. (Geen sekerheid bestaan oor die eienaarskap van die huisie waar die kriminele sou geskuil het nie. Inwoners sê hulle het sommer afgelei dit behoort aan Telkom, omdat dit by ‘n Telkom-paal staan. Telkom is genader vir kommentaar hieroor, maar teen druktyd is nog geen reaksie ontvang nie). 

 
 
 

Viewed: 832

 

 
 

Isabel Venter

Isabel joined the Zoutpansberger and Limpopo Mirror in 2009 as a reporter. She holds a BA Degree in Communication Sciences from the University of South Africa. Her beat is mainly crime and court reporting.

 
 

More photos... 

Dié "Telkom-huisie" is glo al vir meer as drie jaar die tuiste van hawelose mense, asook kriminele. 

ADVERTISEMENT

 
 

ADVERTISEMENT:

 
 

ADVERTISEMENT