ADVERTISEMENT:

 

 
 

Wyle oom Jas Brümmer (75). Foto verskaf.

Legendariese oom Jas oorlede

Date: 14 May 2018 By: Andries van Zyl

Die Soutpansberg het hierdie week weer met groot hartseer afskeid geneem van 'n legendariese oud-polisieman, oom Jas Brümmer (75).

“Seer, seerder, seerste.” So het dogter Ilze haar pa se dood Dinsdag aan die Zoutpansberger beskryf.

Die familie het Saterdag berig ontvang dat oom Jas nie lekker voel nie. Sondagoggend is hy in die Zoutpansberg Privaathospitaal in Louis Trichardt opgeneem en dieselfde dag nog oorgeplaas na die Medi-Kliniek in Polokwane. Hy sou egter nie weer uit sy hospitaalbed opstaan nie en is Maandagoggend aan hartversaking oorlede.   

Min mense in die Soutpansberg se dood het nog soveel emosie ontlok. Boodskappe van vertroosting het van orals ingestroom, veral op Facebook waar ondermeer sy skoonsuster, Bets, ‘n foto en die nuus van sy dood geplaas het. Dit was ‘n foto van oom Jas wat breed glimlag op ‘n boot. “R.I.P. Jas Brümmer 12 Julie 1942 – 7 Mei 2018. Ons laaste visvangnaweek op Doorndraaidam … 7 Nov 2016 … ons gaan jou verseker mis,” lees die onderskrif.

‘n Meer gepaste foto van oom Jas kon daar nie wees nie. Hy was lief vir sy visvang en lief vir sy jag – van die dinge in die lewe wat hom die gelukkigste gemaak het.

Dinsdag was sy huis in Louis Trichardt stil, behalwe vir die stemme van sy kinders en kleinkinders wat hul pa en oupa se lewe in herinnering geroep het.

So legendaries as wat oom Jas in die Soutpansberg was, was hy nie ‘n boorling van die streek nie. Hy was nie eens ‘n boorling van Suid-Afrika nie. Nee, oom Jas is in Kenia gebore en het eers as jong man saam met sy familie in 1961 na Suid-Afrika gëimmigreer. ‘n Jaar later het hy by die polisie aangesluit en dit was die begin van ‘n suksesvolle loopbaan in die polisie wat bykans vier dekades beslaan het.

As polisieman het oom Jas baie goeie tye gehad, maar ook baie slegte tye. Buiten vir sy jare diens in die polisie op Louis Trichardt, het hy ook diens gedoen in die Grensoorlog in die Caprivi in die middel-tagtigerjare. Dit was ‘n oorlog wat van jong seuns mans gemaak het en mans hard gemaak het.

As pa was hy ‘n baie streng man. “Ons kinders was bang vir hom gewees, maar ons het hom ontsaglik gerespekteer. Sy ja was sy ja en sy nee was sy nee,” het Ilze gesê.

Oom Jas se “reguit manier” het ook in die gemeenskap respek afgedwing onder alle bevolkingsgroepe  waar hy as polisieman diens gedoen het. “Almal het baie respek vir hom gehad,” het seun Gordon (wat self etlike jare diens gedoen het as polisieman) gesê.

Hierdie respek het gebly tot en met oom Jas se dood. Dit was duidelik uit die Facebook-inskrywings van baie van sy oud-kollegas. “Was vir jare Jas se SB [stasiebevelvoerder] gewees. Dit was ‘n voorreg om hom te geken het. RIV OU GROTE,” het Eddie Celliers geskryf. Nog ‘n bekende oud plaaslike geregsman en nou 'n suksesvolle boer in Australië, Nico Theunissen, het op sy beurt geskryf: “Hy het my geleer om ondersoek te doen, legende Rus in vrede AO.” Ander oud-polisie kollegas het bloot die woord “Saluut” in die kommentaarblokkie gelos.

Maar daar was ‘n ander kant aan oom Jas, ‘n sagte kant. Sy hart het ‘n spesiale plekkie gehad vir sy vrou, tannie Olive, met wie hy in 1966 getroud is. Tannie Olive is in 2009  aan kanker oorlede, maar saam het die twee ‘n goeie span gemaak. Tannie Olive se clivia-kwekery was beide van hulle se trots. “Hy was ‘n baie liefdevolle mens gewees,” het suster Barbara gesê. “Ek dink my oupa het my die meeste lief gehad,” het kleindogter Chanel met ‘n ondeunde glimlag bygevoeg.

Oom Jas was ook ‘n hondeliefhebber en menige inwoners sal hom steeds in hul geestesoog sien stap met een of meer van sy sewe honde – twee Kollies en vyf Worsies. Hulle was altyd saam met hom.

Ander inwoners sal oom Jas onthou as ‘n persoon wat uit sy pad gegaan het om hulle met hul vuurwapenaansoeke te help. Na sy aftrede uit die polisie in 1999 het hy die Jas Brümmer Firearm Training Centre begin. Elkeen wat deur sy hande beweeg het, sal sekerlik met heimwee die jag- en “oorlogstories” onthou wanneer hulle oor ‘n koppie koffie by hom besoek afgelê het. Jy het nie sommer vinnig by oom Jas se huis weggekom nie. Sy regterhand, Rendani, wat hom sedert 2006 by die vuurwapensentrum bygestaan het, het ook Dinsdag gesukkel om die trane te keer. Hy sal voorlopig navrae oor uitstaande vuurwapenlisensies hanteer (tel. 078 030 6254).

Wyle oom Jas word Dinsdag, 15 Mei, om 11:00 vanuit die Metodistekerk in Louis Trichardt begrawe. Hy word oorleef deur sy kinders Ilze (skoonseun At) en Gordon, sy susters Barbara en Maude, broer Johan (skoonsuster Bets), kleinkinders Wiechard, Chanel, Adriaan en Johan en agterkleinkind Michael.

Sekerlik een van die mees gepaste Facebook-inskrywings in reaksie op die nuus van oom Jas se dood, was dié van Retha van Heerden. “Oom Jas gaan verseker ‘n leemte laat in die gemeenskap,” skryf sy.

(In die aanvanklike berig is een van sy susters, Maude, se naam per abuis uitgelaat. Die regstelling is op die aanlyn-artikel gedoen.)

 
 
 

Viewed: 1426

 

 
 

Andries van Zyl

Andries joined the Zoutpansberger and Limpopo Mirror in April 1993 as a darkroom assistant. Within a couple of months he moved over to the production side of the newspaper and eventually doubled as a reporter. In 1995 he left the newspaper group and travelled overseas for a couple of months. In 1996, Andries rejoined the Zoutpansberger as a reporter. In August 2002, he was appointed as News Editor of the Zoutpansberger, a position he holds until today.

 
 

More photos... 

Een van die laaste foto's wat van oom Jas geneem is waar hy die gelukkigste was - op die dam besig om vis te vang. Foto: Bets Brümmer.

ADVERTISEMENT

 
 

ADVERTISEMENT:

 
 

ADVERTISEMENT