ADVERTISEMENT:

 

 
 

'n Foto wat geneem is van Peter Nyahadara (19) tydens sy inhegtenisname toe hy nog "doof-stom" was. Hy was oomblikke vantevore nog besig om die SIM-kaart om te ruil van 'n selfoon wat hy gesteel het. Foto verskaf.

Skelm 'dowe' vas

Date: 16 April 2018 By: Isabel Venter

‘n Selfoondief, wat “doof-stom” was, het wonderbaarlik weer begin hoor en praat nadat hy gearresteer is.

Die verdagte het sy rieme styfgeloop nadat die eienaar van die selfoon, mev. Andel Greyling, deur sy skelmstreke gesien het en hom sommer self opgespoor het.

Andel, die mede-prinsipaal van Anhetico Eiendomme in Louis Trichardt, was briesend toe sy verlede Donderdag, 5 April, besef het dat haar selfoon van haar lessenaar af gesteel is. Sy vertel dat sy dadelik besef het wat gebeur het.

Die verdagte, Peter Nyahadara (19) van Zimbabwe, het die betrokke Donderdagoggend by Anhetico Eiendomme in Kroghstraat ingestap onder die voorwendsel dat hy doof en stom is. Volgens Andel het Nyahadara baie na aan haar lessenaar kom staan. In sy hande het hy dokumente gehad waarmee hy vir Andel probeer oortuig het van sy toestand en dat dit die rede is hoekom hy vir geld vra.

Anhetico se beleid is egter dat daar net donasies aan behoorlik geregistreerde instansies of individue gemaak word. Andel het derhalwe Nyahadara die deur gewys.

Dit het Andel ‘n rukkie geneem voordat sy agtergekom het haar selfoon is weg. “Ek het dadelik besef dit moes die bedelaar gewees het,” het Andel gesê.

Sy het eerste ‘n ander eiendomsagent verder af van hulle in dieselfde straat gevra om op die uitkyk te wees vir Nyahadara en hom nie te laat loop as hy daar opdaag nie. Dit was nie lank hierna nie, toe Andel ‘n oproep ontvang om te sê dat die man gewaar is en dat hy op pad was in die rigting van die dorp se sentrale sakegebied.

Andel en een van haar kollegas het dadelik in haar motor gespring om te kyk of hulle die man kan opspoor. ‘n Halfuur later was hulle reg om boedel oor te gee, toe die werknemer die verdagte in Songozwistraat sien loop waar hy by ‘n klein winkeltjie ingegaan het. Andel het Nyahadara dadelik herken as die man wat vroeër by haar in die kantoor was.

Blind van woede het Andel vir Nyahadara in die winkeltjie konfronteer. “Weet jy, toe ek in die winkel kom toe sien ek hoe hy en die eienaar van die winkel besig is om ‘n nuwe SIM-kaart in my selfoon te sit,” het Andel vertel.

Sy het die winkel se deur toegemaak en vir Nyahadara gesê dat hy solank moet begin praat, want die polisie is op pad om hom te kom arresteer. Andel se dreigemente het egter nog op “dowe” ore geval. Dit ten spyte daarvan dat die verdwaasde winkeleienaar vir Andel gesê het dat Nyahadara oomblikke vantevore nog woorde, in stede van gebaretaal, gebruik het om vir ‘n nuwe SIM-kaart te vra.

Met die aankoms van die Makhado Polisie het Nyahadara se gehoor “wonderbaarlik” weer begin gewerk. Hy kon amper dadelik vir die polisie gaan wys waar hy Andel se SIM-kaart weggegooi het.

Nyahadara was klaarblyklik nog stomgeslaan oor sy arrestasie, want sy spraak het nie so vinnig teruggekom nie. Later, toe die polisie Andel gehelp het om ‘n saak te open, het dit aan die lig gekom dat hy ‘n Zimbabwiër is.

Almal, insluitend die ondersoekbeampte in die saak, was baie verbaas toe Nyahadara skielik sy spraak teruggekry het in die hof, soveel so dat hy in die hof kon praat sonder die hulp van ‘n tolk. Hy het skuldig gepleit op ‘n klag van diefstal en is gevonnis tot drie maande gevangenisstraf of ‘n boete van R1 000. Daar is bevestig dat Nyahadara nie die boete kon betaal nie, wat beteken hy sal derhalwe die volgende drie maande in die tronk spandeer.

Andel het na afloop van die voorval haar opregte dank uitgespreek teenoor die Soutpansberg Dorpswag vir hulle flinke optrede deur haar by die winkel by te staan. Sy het ook die Makhado Polisie geloof vir hulle flinke diens om ‘n saak vinnig te registreer.

 
 
 

Viewed: 1107

 

 
 

Isabel Venter

Isabel joined the Zoutpansberger and Limpopo Mirror in 2009 as a reporter. She holds a BA Degree in Communication Sciences from the University of South Africa. Her beat is mainly crime and court reporting.

 
 

More photos... 

ADVERTISEMENT

 
 

ADVERTISEMENT:

 
 

ADVERTISEMENT