ADVERTISEMENT:

 

 
 

Malaria tans groter gevaar as listeriose

Date: 19 March 2018 By: Andries van Zyl

Daar is tans ‘n groter mediese gevaar wat inwoners in die gesig staar as die landswye histerie rondom die veelbesproke listeriose uitbreking.  

“Dit is nou die slegste malariaseisoen wat ons nog ooit gehad het … Op die oomblik is daar ‘n baie hoër insidensie van malaria as waaraan ons gewoond is,” het dr. Casper Venter, ‘n geneesheer van Louis Trichardt en kenner op die gebied van aansteeklike siektes, Dinsdag aan die Zoutpansberger gesê.

Om die omvang van die malariaprobleem (‘n aanmeldbare siekte) in perspektief te plaas, kan daar gekyk word na die Nasionale Instituut vir Oordraagbare Siektes (NIOS) se amptelike syfers vir die periode Januarie tot Desember 2017. Gedurende dié tydperk het altesaam 322 mense vanweë malaria gesterf. In Januarie vanjaar alleen het die siekte 17 mense se lewens geëis en algeheel was daar ‘n 51% toename in malariagevalle gedurende Januarie vanjaar, met ‘n totaal van 3 597 gevalle teenoor die 2 387 gevalle van Januarie 2017.

“Tussen die dokters in die dorp het ons in die laaste week 10 tot 12 pasiënte toegelaat in die hospitaal wat ernstig siek was,” het Venter gesê.

Venter het egter gewaarsku om nie die huidige hoë insidensie van malaria te sien as ‘n uitbreking en derhalwe rede tot paniek nie. “Wat is ‘n uitbreking? Ons het altyd malaria hierso. So, as ons skielik ‘n hoër insidensie kry gaan ons nie sê hier is ‘n massiewe uitbreking nie. As ons skielik die Ebolavirus hier kry, is dit ‘n uitbreking want dit is nie gewoonlik hier nie. Malaria is endemies tot die area,” het Venter gesê.

Tog, het Venter gesê, is dit van uiterste belang dat inwoners bewus moet wees van die verhoogde insidensie van malaria. “Die belangrike ding van malaria is dat dit vroeg gediagnoseer moet word. So, as jy enige van die simptome het van malaria, dan is dit goed om vinnig te laat toets. Gaan na jou dokter toe dat daar vinnig getoets word,” het Venter gesê.

Die voordeel daarin om malaria eerder vroeër as later te begin behandel is vanselfsprekend. “As die pasiënt ons kom sien [in ‘n vroeë stadium van die siekte] dan gee ons vir hulle coartem. Dit is medikasie vir drie dae. Hulle neem die pille en hulle gaan huis toe en hulle is gesond. Hulle het ongekompliseerde malaria, wat redelik maklik is om te behandel en dit is wat ons almal graag wil hê. Ons het ‘n groot hoeveelheid van hierdie pasiënte gesien – ons praat van ‘n parasiettelling van 2%,” het Venter gesê

Sodra ‘n pasiënt se parasiettelling egter 4% begin oorskry, omdat daar te lank gewag is om vir malaria te toets, raak die behandeling baie moeiliker. “Ons het ook ‘n klomp pasiënte gesien wat klaar in die moeilikheid is en hulle moes binne-aarse medikasie ontvang, want hulle het gekompliseerde malaria,” het Venter gesê.

Volgens Venter is daar dus twee tipes malaria, naamlik ongekompliseerde en gekompliseerde malaria. “Vir ongekompliseerde malaria kry jou pilletjies, gaan huis toe, ons volg op – jy is piekfyn. Die gekompliseerde malariapasiënt is die pasiënt wat klaar begin deurmekaar raak, hy is geel want hy het geelsug en hy braak verskriklik. Hy kan nie die coartem wat ons vir hom wil ingee, inhou nie. Dan begin ons dink aan ernstige malaria. Ons het die laaste tyd pasiënte gehad met ‘n parasiettelling van 18%, 20% en 36% en ons moes hulle in die hospitaal laat opneem,” het Venter gesê.

Hy het bygevoeg dat hulle heelwat pasiënte van buite die dorp, baie van Levubu, een van die lugmagbasis, ‘n paar agter die berg en baie van Musina af, gesien en behandel het.  “Die area waar dit nou voorkom is dus skielik groter,” het Venter gesê. Hy het bygevoeg dat baie van die pasiënte nie in malariagebiede was nie, alhoewel hulle dalk besmet kon word deur die sogenaamde “taxi-muskiete” wat die siekte in taxi’s oor ver afstande kan versprei. “Maar hierdie is te veel gevalle daarvoor. As dit in Pretoria gebeur, dan sê hulle dit is die “taxi muskiete”. Maar ons sit so op die [malaria-area] grens. Ek dink dus ons grense skuif so ‘n bietjie as gevolg van weersomstandighede en baie ander faktore wat ‘n rol speel. Ek dink mens moet wegbeweeg van vingers wys en besef ons bly in ‘n area wat op die rand is van ‘n malaria-area en ons gaan sekere jare meer malaria gevalle hê as ander jare weens ‘n kombinasie van faktore,” het Venter gesê.

Dit is presies die huidige situasie. “As die planete mooi in lyn is, dan kry ons ‘n slegte jaar, en hierdie is ‘n slegte jaar, so op die oomblik moet mense baie banger wees vir malaria as listeriose,” het Venter gesê. Hy het egter bygevoeg dat dit nie beteken dat almal nou skielik moet begin malariapille sluk nie. “Dit is altyd goed om onder ‘n net te slaap of ‘n goeie muskietwerende middel aan te smeer. Daar is geen nodigheid vir profilakse pille vir ons wat hier bly nie,” het Venter gesê.

Hy het weer daarop klem gelê dat dit belangrik is vir inwoners om ‘n verhoogde indeks vir suspisie ten opsigte van malaria te hê.  In dié verband het hy gewaarsku dat malaria homself kan voordoen met enige simptome. “Ek het ‘n pasiënt gehad met net gastroënteritis. Sy was bang vir listeriose. Sy was egter so siek van malaria, sy wou amper doodgaan, met ‘n parasiettelling van 36%,” het Venter gesê.

Gewoonlik manifesteer malariasimptome soortgelyk aan griep simptome. “Met ander woorde, jy het lyfseer, hoofpyn, voel baie pap, is moeg, somtyds voel jou vel sensitief en dan kan jy naarheid hê en jy kan diarree hê. Eintlik kan jy enige simptome in die boek hê as gevolg van malaria. Moet dus nie sê: Ek het nie hoofpyn nie, ek het net lyfseer, daarom het ek nie malaria nie. Jy moet onthou die enigste ou wat die boek lees, is die dokter. Die parasiet lees nie die boek nie, hy maak soos hy wil,” het Venter gesê.

Die inkubasieperiode vir malaria is gewoonlik so 10 tot 21 dae. “As jy wonder, gaan sien jou dokter. Wat mense nou doen is hulle wil reguit laboratorium toe gaan en hulle laat toets. Dit is egter beter om verwys te word, want die dokter ondersoek jou en hy kan onmiddellik sien is jy in die knyp of is jy redelik orraait. Daarvolgens vra ons ander bloedtoetse aan, want partykeer het jy ‘n lewerfunksie- of ‘n nierfunksietoets daarmee saam nodig. Nou het jy gegaan en positief getoets vir malaria, maar nou moet jy weer teruggaan, want die dokter wil nog ander toetse ook hê,” het Venter gesê.

Ter afsluiting het Venter weereens daarop klem gelê dat die geheim van malariabehandeling in vroeë diagnose lê. “So as jy, of jou kind, of jou familie of enige vriend van jou simptome het wat kan inpas met malaria, moedig hulle aan om hulle gesondheidspersoon of hulle kliniek te gaan sien om hulleself te toets vir malaria en om diagnose te bevestig. Dan moet mense ook besef dat as dit nie malaria is nie, jy moet aanhou toets totdat jy ‘n ander diagnose kry. Net omdat jy een negatiewe toets gehad het, kan jy nie ophou toets nie. Vandag het jy ‘n negatiewe toets gehad en jy sê vir jouself die volgende dag: Ek het nie malaria nie, want ek was by die dokter. Jy kan altyd ‘n tweede en derde toets doen en partykeer kom hy uit. Mens moet wakker wees,” het Venter gesê.

 
 
 

Viewed: 1235

 

 
 

Andries van Zyl

Andries joined the Zoutpansberger and Limpopo Mirror in April 1993 as a darkroom assistant. Within a couple of months he moved over to the production side of the newspaper and eventually doubled as a reporter. In 1995 he left the newspaper group and travelled overseas for a couple of months. In 1996, Andries rejoined the Zoutpansberger as a reporter. In August 2002, he was appointed as News Editor of the Zoutpansberger, a position he holds until today.

 
 

More photos... 

ADVERTISEMENT

 
 

ADVERTISEMENT:

 
 

ADVERTISEMENT