ADVERTISEMENT:

 

 
 

'n Werknemer van Patch-Up-And-Go by 'n droë kraan op dié karwasdiens se perseel in Meyerstraat waar daar vir die laaste week geen water is nie.

Vhembe munisipaliteit sê probleme met water is opgelos

Date: 18 March 2018 By: Isabel Venter

Daar is genoeg water in die dam, maar niks in huise of besighede se krane nie?

Die krane in Louis Trichardt het weereens opgedroog. Dit wil egter blyk dat die watertekorte inwoners nie meer ontstel nie, en dat dit half gelate aanvaar word as die nuwe norm in die dorp.

Die eienaar van die Patch-Up-And-Go karwasdiens, mnr. Piet van der Merwe, was egter beslis nie in sy noppies nie. Hy moes die afgelope week noodgedwonge ‘n watertenk installeer net sodat hy kan voortgaan met sy besigheid. Buiten vir uitgawes wat hy moes aangaan was dit bykans ‘n onbegonne taak om die tenk vol water te kry.

Sy besigheidsperseel in Meyerstraat beskik nie oor ‘n boorgat nie, en Piet moes water aanvra by die Makhado Munisipaliteit. Piet het wel na ‘n groot gesukkel ‘n persoon gekry wat die watertrok kon stuur, maar hy kon steeds nie ‘n persoon in die hande kry wat kon verduidelik hoekom die water op sy perseel skielik opgedroog het nie.

Die beste wat Piet kon uitvind was dat daar glo werk gedoen is aan die waterpype en dat daar moontlik ‘n kraan is wat toegedraai is en net nie weer oopgemaak is nie.

Die omliggende besighede, waarmee die Zoutpansberger ook gesels het, sê hierdie tipe watertekorte is niks nuut is nie. Hulle almal het al plan gemaak, hetsy deur water te stoor in dromme of tenks om te gebruik as daar nie munisipale water is nie.

Intussen het die Vhembe Distriksmunisipaliteit (VDM) verlede week hul stilswye verbreek oor die dorp se waterkwessies. Die koerant het dié munisipaliteit in Februarie genader vir kommentaar, nadat dit aan die lig gekom het dat munisipale werkers die kragtoevoer na die Albasini pompstasie gesaboteer het omdat hulle besig was met ‘n staking. Verder het die munisipaliteit ook gesê dat onwettige wateraansluitings op die Albasini pyplyne ‘n bydraende faktor is tot die mees onlangse watertekorte.

By navraag het die VDM op 22 Februarie gesê dat dit die Makhado Munisipaliteit se werkers in die elektrisiteitsafdeling is wat staak. Die werkers het aangedring dat hulle oortyd uitbetalings gemaak moet word alvorens hulle hul normale dag-tot-dag aktiwiteite sal hervat. Die Makhado Munisipaliteit het dit ontken en verduidelik dat dit die VDM se werkers is wat net in die munisipale gebied van die Makhado Munisipaliteit werksaam is.

Die VDM het egter voet by stuk gehou en die vinger gewys na die Makhado Munisipaliteit. In ‘n e-pos gedateer 7 Maart het die VDM verduidelik dat hulle nie die aangeleentheid [om die dorp se watertoevoer te saboteer] as krimineel beskou nie, omdat dit ‘n “arbeidsgeskil tussen die werkgewer (Makhado Munisipaliteit) en hulle werknemers” was.  

“Die plaaslike munisipaliteit het vinnige ingegryp om die geskil van die elektrisiteitspersoneel op te los om enige arbeidsoptrede te verhinder,” het die VDM in hul e-pos geskryf.

“Die onderbreking in die elektrisiteitstoevoer is opgelos en die wateraanleg funksioneer weer normaal,” het die e-pos verder gesê.

Sover dit die onwettige wateraansluitings betref, het die VDM dit alles ontken en verduidelik dat dit eerder diefstal en vandalisme van hul waterinfrastruktuur was. Die VDM se e-pos het verduidelik dat daar in Februarie elektrisiteitskabels gesteel is by die Nooitgedacht-pompstasie en dat dit gelei het tot watertekorte in Louis Trichardt, Madombidzha en Kutama. “Die munisipaliteit het dié kabels herstel en die watertoevoer uitdagings is aangespreek,” het die VDM gesê.

Geen inligting was teen druktyd beskikbaar oor waterkrane wat nie weer oopgemaak word as daar klaar aan die pyplyne gewerk word nie. Die Makhado Munisipaliteit het by navraag gesê dit is nie vir hulle om dié vrae te antwoord nie, maar die VDM.

 
 
 

Viewed: 693

 

 
 

Isabel Venter

Isabel joined the Zoutpansberger and Limpopo Mirror in 2009 as a reporter. She holds a BA Degree in Communication Sciences from the University of South Africa. Her beat is mainly crime and court reporting.

 
 

More photos... 

ADVERTISEMENT

 
 

ADVERTISEMENT:

 
 

ADVERTISEMENT