ADVERTISEMENT:

 

 
 

Listeriosis - is daar rede tot paniek?

Date: 18 March 2018 By: Andries van Zyl

Die Zoutpansberger het hierdie week by plaaslike geneesheer en kenner op die gebied van aansteeklike siektes dr. Casper Venter van Louis Trichardt gaan uitvind of daar regtig rede tot paniek is wat betref die huidige uitbreking van listeriose.

“Vir wie is dit ‘n probleem? Dit is vir mense met ‘n swak immuunstelsel. Dit sluit in die neonate of baie klein babatjies, baie ou mense, jou diabete, jou HIV pasiënte, en jou kankerlyers op chemoterapie. Meeste van ons val dus nie in daardie groep nie. Daardie groep maak klaar ‘n baie klein deel van die algemene bevolking uit, so per se is dit al klaar nie rede tot paniek nie,” het Venter gesê.

Tog is die huidige listeriose uitbreking steeds een van die grootste nog in die moderne geskiedenis, met ‘n dodetal van meer as 180 mense sedert 1 Januarie 2017. Venter sê egter mense moet dinge in perspektief plaas. “Hoeveel mense gaan per dag dood in motorongelukke? … Dit is ‘n interessante ding hoe mense daarna kyk. Die oomblik as daar ‘n siekte is wat jy kan kry, dan raak almal paniekbevange, maar almal laat hulle kinders op die agterste sitplek [van hul voertuie] sit sonder ‘n sitplekgordel,” het Venter gesê.

Listeriose is landswyd ‘n reuseprobleem en die Departement van Gesondheid het maande geskarrel om die oorsprong van die uitbreking vas te stel. Dit kon hulle intussen bepaal, maar Venter wou hom geensins uitlaat hieroor nie.

“Is dit plaaslik ‘n groot probleem vir ons?” is die vraag wat Venter gevra het. Hy wou die punt tuisbring dat, as daar gekyk word na die Nasionale Instituut vir Oordraagbare Siektes (NIOS) se situasieverslag tot 8 Maart, lê Limpopo redelik laag af op die lys van gevalle, met ‘n totaal van 47 gevalle tot dusver en sewe sterftes vanaf 1 Januarie 2017.

Venter het gesê dat listeriose self nie ‘n persoon doodmaak nie. “Listeriose veroorsaak meningitis, en hy veroorsaak gastroënteritis, waarvan jy dan doodgaan as gevolg van dehidrasie. Dit is soos cholera. Die cholera maak jou gedehidreer en as jy nie behandeling kry nie, gaan jy dood.”

Die belangrikste om te besef, het Venter gesê, is dat meeste mense listeriose kry, maar hulle raak nie regtig daarvan siek nie. “Jy sal daardie polonie eet en dan is jy piekfyn. Of jy kry ‘n matige gastro. As jy dus nou na my toe kom en jy sê jy het Rainbow Chicken polonie geëet en jy voel nie lekker nie, dan kyk ek na jou en sê ja, dit kan wees dat jy listeriose het. Ek gaan nie jou daarvoor behandel nie, want jy is ‘n gesonde ou met geen risikofaktore nie. Jou immuunsisteem gaan die oorhand kry. Jy gaan sleg voel vir ‘n week en dan gaan jy orraait wees. As jy ‘n ou is met risikofaktore, dan gaan ek dalk ‘n bloedtoets op jou aanvra. Ek gaan jou steeds nog nie eers behandel nie. Ek gaan klinies na jou kyk en as ek sien jy is klinies in die moeilikheid, dan kan ‘n mens jou begin behandel. Dit is dus eintlik ‘n siekte wat min mense regtig aantas …  ek dink mense moet besef dit is nie iets wat skielik soos ‘n veldbrand deur die dorp gaan trek nie,” het Venter gesê.

Tog bly voorsorg beter as behandeling wat betref die simptome en hoe om die siekte te vermy. Die simptome vir listeriose sluit in koors, ‘n stywe nek, verwarring, algemene swakheid en braking, wat gewoonlik deur diarree voorafgegaan word. Om te voorkom dat jy in die hospitaal beland met hierdie bakteriële siekte, het NIOS heelwat wenke op hul webblad oor hoe om die siekte te voorkom. Dit sluit in om jou yskas uit pak en te was met ‘n mengsel van een teelepel bleikmiddel (Jik) op een liter water. Gooi die oplossing oor die moontlik besmette oppervlakte uit en laat staan vir twee tot tien minute voordat dit opgevee word. Kombuisware soos messe en vurke, potte en panne kan ook met die bleikmiddel skoongemaak word. Vir nog wenke en inligting, besoek http://www.nicd.ac.za.

 
 
 

Viewed: 586

 

 
 

Andries van Zyl

Andries joined the Zoutpansberger and Limpopo Mirror in April 1993 as a darkroom assistant. Within a couple of months he moved over to the production side of the newspaper and eventually doubled as a reporter. In 1995 he left the newspaper group and travelled overseas for a couple of months. In 1996, Andries rejoined the Zoutpansberger as a reporter. In August 2002, he was appointed as News Editor of the Zoutpansberger, a position he holds until today.

 
 

More photos... 

ADVERTISEMENT

 
 

ADVERTISEMENT:

 
 

ADVERTISEMENT