ADVERTISEMENT:

 

 
 

Die 23-jarige Heidi-Lene Jonck. Foto: Facebook.

Heidi-Lene steeds kritiek ná bootongeluk

Date: 18 March 2018 By: Isabel Venter

Louis Trichardt se inwoners het die afgelope Sondag op hulle knieë gegaan vir die 23-jarige Heidi-Lene Jonck, nadat sy ernstige beserings opgedoen het in ‘n bootongeluk op die Albasinidam.  

Heidi-Lene se sussie, Elize-Marie du Preez, het vroeër aan Maroela Media gesê dat Heidi-Lene saam met vriende by die dam was, waar hulle op ‘n binneband gery het wat agter ‘n boot gesleep is op die dam. Elize-Marie het verder gesê dat van die vriende op ‘n stilstaande boot op die dam ontspan het, terwyl ‘n tweede boot die tube getrek het. “Soos wat ons verstaan was sy net op die tube toe die boot skerp wegdraai en sy die plat agterkant van die groot stilstaande boot hard getref het,” het Elize-Marie gesê.

Teen Maandag is die Zoutpansberger oorval met boodskappe van inwoners wat gevra het dat daar vir Heidi-Lene se herstel gebid word, asook vir finansiële ondersteuning. ‘n Facebook-inskrywing deur Caryn Becker wat Heidi-Lene se storie vertel, het soos ‘n veldbrand versprei.

Heidi-Lene is Sondagaand vanaf die Zoutpansberg Privaathospitaal oorgeplaas na die MediClinic in Polokwane. Die femur in haar linkerbeen is gebreek en haar kop was vreeslik geswel gewees.

Heidi-Lene moes ongelukkig laat Sondagaand na die Pietersburg Provinsiale Hospitaal oorgeplaas word, omdat sy nie beskik oor ‘n mediese fonds nie en die MediClinic ‘n deposito van R150 000 vereis het.

Daar is Maandag geskarrel om ‘n breinaftasting (scan) te laat doen om die presiese omvang van Heidi-Lene se beserings te bepaal. Aanvanklik is daar berig ontvang dat die provinsiale hospitaal se aftaster nie werk nie en dat dit R15 000 sou kos om ‘n skandering privaat te laat doen. Van daar het inwoners donasies begin insamel, sodat Heidi-Lene gehelp kon word. Die provinsiale hospitaal kon gelukkig hulle masjien weer herstel en ‘n skandering is Maandagmiddag op Heidi-Lene gedoen.

Die bevinding was dat Heidi-Lene ‘n fraktuur aan haar skedel opgedoen het. Breinskade kan eers bepaal word nadat die swelling gesak het. Heidi-Lene is deurentyd via ‘n ventilasiebuis op suurstof gehou, en volgens haar dokters toon sy simptome soortgelyk aan ‘n beroerte of verdrinking, omdat sy suurstofnood ervaar het in die tyd wat sy bewusteloos was direk ná die ongeluk.  

Elize-Marie het Woensdag bevestig dat haar sussie nog steeds in ‘n kritieke toestand is en onder verdowing gehou word. “Donderdag sal ‘n operasie gedoen word om die femur te heg, want sy verloor bloed as gevolg van die breuk,” het Elize-Marie geskryf in ‘n boodskap aan die Zoutpansberger.  

“Die neuroloog sê dat hulle Vrydag die verdowing gaan begin minder maak om te sien tot hoe ver sy haar bewussyn kan herwin. Sy is steeds op 'n ventilator vir suurstof. Ons is tevrede met die spesialiste se sorg en hul verduideliking,” het Elize-Marie verder bygevoeg.

Intussen het die Round Table Zoutpansberg 66 ingestem om die donasies wat ontvang is vir Heidi-Lene te administreer. Die rekeningbesondere, met verwysing Heidi-Lene, is Round Table 66, Eerste Nasionale Bank, rekeningnommer 528 668 32 804 en takkode 26 0149.

Elize-Marie het almal bedank vir hulle gebede, ondersteuning, omgee en liefde.  

 
 
 

Viewed: 1023

 

 
 

Isabel Venter

Isabel joined the Zoutpansberger and Limpopo Mirror in 2009 as a reporter. She holds a BA Degree in Communication Sciences from the University of South Africa. Her beat is mainly crime and court reporting.

 
 

More photos... 

Die 23-jarige Heidi-Lene Jonck was Woensdag nog in 'n kritieke toestand in die Pietersburg Provinsiale Hospitaal se intensiewe sorgeenheid. Foto: Facebook.

Die 23-jarige Heidi-Lene Jonck was Woensdag nog in 'n kritieke toestand in die Pietersburg Provinsiale Hospitaal se intensiewe sorgeenheid. Foto: Facebook.

ADVERTISEMENT

 
 

ADVERTISEMENT:

 
 

ADVERTISEMENT