ADVERTISEMENT:

 

 
 

Ondersoek ná vermeende bedrieërs Makhado SAPD rat voor die oë draai

Date: 15 March 2018 By: Isabel Venter

‘n Grootskaalse ondersoek is tans aan die gang om vas te stel hoe dit kon gebeur het dat twee vermeende bedrieërs die hele Makhado Polisiediens om die bos kon lei.

Dié twee verdagtes, Zhou Amin (31) en Mahjaj Shalendra (42), het Maandag (12de) in die Messina Landdroshof verskyn, nadat hulle hulself verlede week glo voorgedoen het as werknemers van die Direktoraat vir Prioriteitsmisdaadondersoeke se eenheid wat met vervalste goedere werk.

Volgens provinsiale polisiewoordvoerder lt.-kol. Moatshe Ngoepe, het die twee mans verlede Maandag by die Makhado polisiestasie gaan aanklop vir ondersteuning met ‘n sogenaamde klopjagoperasie wat hulle in Louis Trichardt moes uitvoer.

Onder die indruk dat hulle ‘n wettige operasie ondersteun het, het die plaaslike polisie ‘n span polisiebeamptes beskikbaar gestel om die twee te help. Daar is orals in en om die dorp beslag gelê op nagemaakte goedere.

"Gedurende hierdie operasie is vervalste goedere ter waarde van meer as R40 000 gekonfiskeer. Dié goedere is egter nie ingehandig by die polisiestasie nie. In stede daarvan het die verdagtes die goed in hulle privaatvoertuig gelaai," het Ngoepe gesê.

Die daaropvolgende dag het die twee verdagtes glo na die Musina polisiestasie gegaan om hul geluk ook daar op die proef te stel. Daar het die plaaslike streeksbevelvoerder, Brig Eddie van der Walt, ‘n stokkie voor die twee se planne gesteek. Hy het snuf in die neus gekry oor die twee mans se beoogde operasie en hulle motiewe begin bevraagteken.

Die twee verdagtes is glo ondervra en in aanhouding geplaas, nadat hulle nie Van der Walt se vrae bevredigend kon beantwoord nie. ‘n Vinnige ondersoek is gedoen en daar is toe bevind dat die twee nie in diens is van die polisie se eenheid wat met vervalste goedere werk nie.

Amin en Shalendra is hierna dadelik in hegtenis geneem en aangekla van bedrog, die besit van goedere wat vermoedelik gesteel is en die nabootsing van ‘n polisiebeampte. Met hulle arrestasie het die Musina polisie beslag gelê op ‘n luggeweer, ‘n motorvoertuig en sleepwa en al die vervalste goedere wat hulle glo in Louis Trichardt bymekaar gemaak het. Amin is ook aangekla daarvan dat hy homself onwettig in Suid-Afrika bevind, nadat hy nie vorendag kon kom met geldige reisdokumente nie.

Volgens Ngoepe is daar ook ‘n boek in die mans se besit gevind wat al die kontaknommers van die provinsie se polisiestasies en streekkantore bevat het.

Ná ‘n vlugtige hofverskyning is die twee mans se saak uitgestel tot Maandag, 19 Maart, sodat die polisie die saak verder kan ondersoek. Die mans sal dan ook na verwagting ‘n geleentheid gegee word om ‘n borgaansoek te bring.

Ngoepe het Dinsdag bevestig dat die polisie tans besig is met ‘n “holistiese ondersoek” by navraag oor hoe dit gekom het dat die Makhado polisie se top-offisiere nie agtergekom het dat die mans hulle ‘n rat voor die oë gedraai het nie.

 
 
 

Viewed: 669

 

 
 

Isabel Venter

Isabel joined the Zoutpansberger and Limpopo Mirror in 2009 as a reporter. She holds a BA Degree in Communication Sciences from the University of South Africa. Her beat is mainly crime and court reporting.

 
 

More photos... 

ADVERTISEMENT

 
 

ADVERTISEMENT:

 
 

ADVERTISEMENT