ADVERTISEMENT:

 

 
 

Vhembe swyg oor water

Date: 05 March 2018 By: Isabel Venter

Dit is amper nie eers meer nuus dat daar min tot geen drinkwater tot beskikking is van die inwoners van Louis Trichardt nie. Dit was egter verlede week nuus om te hoor dat die mees onlangse watertekorte teweeggebring is as gevolg is van onwettige wateraansluitings.

Die Vhembe Distriksmunisipaliteit (VDM) het voorverlede Sondag ‘n inskrywing gemaak op hul Facebook-blad om die publiek hiervan in kennis te stel. Volgens die VDM moes ‘n tegniese span aangestel word nadat die onwettige verbindings skade aangerig het op die Albasini-dam se pyplyne. “’n Tegniese span sal die geïdentifiseerde gebarste pype regmaak,” het die VDM hulle kennisgewing afgesluit.

Wat presies hierdie onwettige verbindings behels het, bly ‘n geheim wat die VDM bewaar. Herhaalde opvolgvrae hieroor is bloot net geïgnoreer deur die munisipale woordvoerder, mnr. Matodzi Ralushai.

In sy laaste korrespondensie met die koerant het Ralushai ‘n boodskap van die munisipale bestuurder, mnr. Reuben Rambado, aangestuur. Volgens hierdie boodskap het die reservoirs in Louis Trichardt opgedroog weens die feit dat werkers by die Makhado Munisipaliteit besig is met ‘n voortslepende staking.

“Die reservoirs in Makhado is leeg omdat daar nie elektrisiteit beskikbaar is by ons pompaanleg of enige van ons pompstasies nie, weens die voortgesette staking van die Makhado Munisipaliteit se werkers in hul elektrisiteitsafdeling. Die werkers eis dat hulle oortyd uitbetalings gemaak moet word, alvorens hulle hul normale dag-tot-dag aktiwiteite sal hervat. Miskien sal dinge vandag terugkeer na normaal; maar kom ons hoop,” het die SMS-boodskap gelees wat op 22 Februarie aangestuur is.

Hierdie boodskap is onmiddellik onder die aandag van die Makhado Munisipaliteit gebring. Hulle interim woordvoerder, mnr. Peter Muthambi, het egter hierdie week gesê die SMS-boodskap is onwaar. Muthambi, wat die saak opgeneem het met die direkteur van tegniese dienste, het gesê dit is die VDM se werkers wat staak.

Die betrokke werkers, het Mutambi verduidelik, werk wel in die munisipale gebied van die Makhado Munisipaliteit, maar is deur die VDM aangestel. Dit is dus in werklikheid die VDM se werkers wat staak.

Pogings om meer hieroor uit te vind by die VDM het op dowe ore geval. Die munisipaliteit is spesifiek gevra om kommentaar te lewer oor die blatante kriminele optrede van die werkers en of daar enige tugstappe geneem sal word. Ralushai is herhaaldelik gevra om op die koerant se navrae te reageer. Dit het ingesluit selfoonnavrae en e-posse. Helaas, teen druktyd is daar nog geen antwoorde ontvang nie, en het hy sy foon afgeskakel.

Daar was ook gerugte dat Rambado ‘n dringende vergadering met die ongelukkige werkers sou gehad het. Niks hiervan kon bevestig word nie.

Dié nuutste verwikkeling het opnuut vrae laat ontstaan oor die likiditeit van die VDM en hulle vermoë om hul personeel te betaal. In Desember het die Departement van Waterwese gedreig om die VDM se watertoevoer totaal af te sny vanweë miljoene rande se agterstallige waterrekeninge.

Die VDM moes inderhaas R40 miljoen bymekaarskraap om ‘n deel van hulle skuld te delg. Verder het die VDM onderneem om die oorblywende bedrag in paaiemente van R3.5 miljoen af te betaal. In daardie stadium het die munisipaliteit geweier om die presiese bedrag wat uitstaande was, te bevestig.

Intussen gaan inwoners in Louis Trichardt steeds gebuk onder hewige watertekorte.

Dit raak al so erg dat inwoners opgehou het om te kla. “Andersonstraat het nooit water nie,” het Alet Boshoff aan die Zoutpansberger gesê. “Ons kla nie eers meer nie, want dit val op dowe ore. As ons een dag in ‘n maand water kry, dan is dit so flou ons kan nie eers ons tenk volmaak daarmee nie, en ook nie eers ‘n kraan in ons huis oopmaak nie,” het Alet verder gesê.

Teen Woensdag het sommige dele van die dorp weer water gehad. Hoe lank dit die geval sou wees, was onduidelik, want volgens betroubare bronne in die Makhado Munisipaliteit het die betrokke VDM-werkers Dinsdag nog gestaak.

 
 
 

Viewed: 371

 

 
 

Isabel Venter

Isabel joined the Zoutpansberger and Limpopo Mirror in 2009 as a reporter. She holds a BA Degree in Communication Sciences from the University of South Africa. Her beat is mainly crime and court reporting.

 
 

More photos... 

ADVERTISEMENT

 
 

ADVERTISEMENT:

 
 

ADVERTISEMENT