ADVERTISEMENT:

 

 
 

Shared caption

Vragmotors wat strate versper toenemend ‘n frustrasie

Date: 15 February 2018 By: Andries van Zyl

Dit word toenemend moeiliker vir Louis Trichardt motoriste om die dorp se strate te navigeer vanweë mede-padgebruikers wat bloot die verkeersreëls ignoreer.

Van die groot sondebokke is vragmotorbestuurders wat doodeenvoudig in die loopvlak parkeer om goedere by sakeondernemings op en af te laai. Die Zoutpansberger het al verskeie kere hieroor gerapporteer met ‘n paar plaaslike ondernemings wat hulle herhaaldelik hieraan skuldig maak. Dit gesê, moet daar in ag geneem word dat vragmotorbestuurders nie altyd ‘n ander keuse het as om in die middel van die pad te parkeer nie, aangesien talle sakeondernemings nie voorsiening maak vir ‘n area waar goedere op- en afgelaai kan word nie.

Die afgelope tyd het die probleem van swaar vragmotors wat die dorp se strate toe parkeer in intensiteit toegeneem in Eltivillas, veral in Main Street, die hoof toegangsroete na die woongebied in Eltivillas.

‘n Inwoner van die woongebied het onlangs telkens foto’s geneem van vragmotors wat sommer teen die verkeer op hul vragmotors in die pad parkeer (sien meegaande foto’s). “Ek wil graag weet of dit toelaatbaar is? Dit gebeur ten minste drie keer per week, 'n ongeluk wat wag om te gebeur en die verkeersafdeling doen niks nie. Ek verstaan dat goedere op- en afgelaai moet word, maar die eienaars van die ondernemings moes daarvoor voorsiening gemaak het,” het die leser gesê.

Die Zoutpansberger wou by munisipale woordvoerder mnr. Louis Bobodi weet of hulle bewus is van die probleem. Die navraag kom in ‘n tyd waar plaaslike verkeersbeamptes toenemend sigbaar is waar hulle spesifiek net kyk vir veiligheidsgordels en rybewyse.

Bobodi het Dinsdag gesê dat hulle nie bewus is van die probleem nie. “ …maar ons gaan nou dit aanspreek … en ons gaan die wet toepas ten opsigte van oortreders,” het Bobodi gesê.

Intussen lyk dit of die munisipaliteit absoluut niks gaan doen om stoptekens te vervang wat by vele besige straatkruisings vermis geraak het vanweë skade of diefstal nie.

Een van hierdie kruisings is die besige Boabab- en Elandstraatkruising. Daagliks mis voertuie mekaar rakelings by die kruising, aangesien daar geen stoptekens meer is nie en die padmerke feitlik nie meer sigbaar is nie. Hierdie situasie duur al vir etlike maande en is persoonlik al deur die koerant aan die munisipaliteit gerapporteer, met geen resultate nie.

Die probleem is nie soseer by mense wat in die omgewing bly en weet dat hulle, wanneer hulle in Boababstraat ry, by die kruising moet stop of versigtig moet wees nie. Die kruising veroorsaak wel ‘n probleem vir besoekers wat nie weet dat daar ‘n stopstraat is nie.

Dit is presies wat verlede Vrydagmiddag tot ‘n botsing by die kruising gelei het. ‘n Nuwe intrekker en besoeker uit die dorp het met mekaar in die kruising gebots, omdat hulle nie geweet het daar is ‘n stopstraat nie. Derduisende rande se skade is aan die voertuie aangerig, maar gelukkig is niemand ernstig beseer nie. Foto’s van die ongeluk en die probleem van die vermiste stoptekens is kort ná die ongeluk weer onder die plaaslike verkeersafdeling se aandag gebring. (Die Zoutpansberger wil graag ‘n opname maak van kruisings waarvan stoptekens verwyder of vermis geraak het. Stuur asseblief die inligting na Andries by [email protected] of stuur vir hom ‘n WhatsApp na 082 603 2419. Ons sal graag ook van plaaslike wetgeleerdes wil hoor oor ‘n motoris se regte wanneer hy in ‘n ongeluk betrokke is waar die munisipaliteit versuim het om stoptekens aan te bring of te vervang).

 
 
 

Viewed: 702

 

 
 

Andries van Zyl

Andries joined the Zoutpansberger and Limpopo Mirror in April 1993 as a darkroom assistant. Within a couple of months he moved over to the production side of the newspaper and eventually doubled as a reporter. In 1995 he left the newspaper group and travelled overseas for a couple of months. In 1996, Andries rejoined the Zoutpansberger as a reporter. In August 2002, he was appointed as News Editor of the Zoutpansberger, a position he holds until today.

 
 

More photos... 

Groot vragmotors wat ten minste drie keer per week die hoof toegangsroete na Eltivillas versper deur in die pad te stop veroorsaak toenemende frustrasie vir inwoners van dié woongebied. Volgens die Makhado Munisipaliteit was hulle nie bewus van die probleem nie, maar hulle sê hulle gaan nou teen oortreders optree. Foto’s verskaf.

Shared caption

Daagliks mis voertuie mekaar rakelings by die besige Boabab- en Elandstraatkruising, aangesien daar geen stoptekens meer is nie en die padmerke feitlik nie meer sigbaar is nie. Verlede Vrydagmiddag het ‘n nuwe intrekker in die dorp en besoeker van ‘n buurdorp met mekaar in die kruising gebots, omdat die een motoris nie geweet het hy moet daar stop nie.

ADVERTISEMENT

 
 

ADVERTISEMENT:

 
 

ADVERTISEMENT